’n Taalmonument … en nuwe prestasies

Eerste hartoorplanting in Suid-Afrika
January 26, 2015
Breytenbach kry gevangenisstraf
January 26, 2015

Die Afrikaanse Taalmonument aan die suiderhang van die Paarlberg (met meneer Jan van Wijk as argitek) is op 10 Oktober 1975 deur die eerste minister, meneer BJ Vorster, onthul. Daarmee is die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gedenk.

In 1975 was Afrikaans as amptelike taal nog sterk en het dit op ander gebiede gefloreer. Dit blyk uit die sirkulasie van die Sondagblad Rapport met WJ Wepener as redakteur. Dié blad het in 1970 tot stand gekom nadat die mededingende Dagbreek en Landstem onder Dirk Richard en Die Beeld onder Schalk Pienaar ná ’n sirkulasiestryd van vyf jaar geamalgameer is. Einde 1973 het die sirkulasie van 483 333 dié van die Sunday Times met 10 000 oortref. Die Times was die grootste in die land. Rapport het in die eerste halfjaar van 1974 500 609 bereik.

Daar was sewe dagblaaie: Die Burger in Kaapstad, Die Volksblad in Bloemfontein, Beeld, Die Transvaler en Die Vaderland in Johannesburg, Hoofstad en Oggendblad in Pretoria en Die Oosterlig in Port Elizabeth. In 1999 sou egter net die eerste drie oor wees. Die Naspers-blad Beeld het op 16 September 1974 die eerste keer verskyn.

Gereelde televisie-uitsendings het op 5 Januarie 1976 begin. Daar was aanvanklik net een kanaal, wat vyf uur per dag in Afrikaans en Engels uitgesaai het, met ’n bykomende drie uur sportuitsendings op Saterdagmiddae. Binne ’n jaar ná die instelling van die diens was sowat 70% van die Afrikaanse en 63% van die Engelse programme inheems. Die Afrika-tale het in 1981 ’n kanaal gekry.

In die 15 jaar ná 1976 kon Afrikaans by TV baat vind as taal van inligting, vermaak en opvoeding.  Dramaturge soos die Hertzogpryswenners PG du Plessis en Chris Barnard, asook die rolprentmaker Jan Scholtz, het goeie draaiboeke geskryf. Behalwe uitstekende inheemse dramas, sommige onder die regie van die begaafde digter Stephan Bouwer, is talle stukke uit Duits, Frans en Engels oorgeklank. Klassieke werke soos Die Buddenbrooks van Thomas Mann is aan baie Afrikaners bekend gestel. Onder die gewilde Duitse programme was die speurreeks Misdaad en Derrick, wat internasionale treffers was. Dokumentêre, musiek- en gewilde vasvra-programme het tot die repertoire behoort.

Vir baie Afrikaanstaliges was die verskyning van die nuwe Psalms en Gesange in 1978 en ’n nuwe Bybelvertaling in 1983 groot gebeurtenisse. Naspers het hierdie nuwe vertaling asook Bybels in ander tale gedruk. Dit was op sigself ’n aanduiding van tegnologiese vordering, omdat die druk van Bybels ’n baie gespesialiseerde onderneming is. Vir die nuwe Psalms en Gesange is die ou gesange grondig hersien en vertalings en bewerkings van Duitse, Nederlandse, Engelse, Franse en Latynse tekste gedoen, hoogsaaklik deur drie predikante-digters: IL de Villiers, AP van der Colf en GJ van der Merwe. Ou geliefde reëls het behoue gebly, soos “Op berge en in dale”, “Rus my siel, jou God is koning” en “Ruwe storme breek in woede”.  Daarmee saam was egter ook die byna klassieke liedere soos “Kom, dank nou almal God”, asook ou Halleluja-liedere in verwerkte vorm, soos “Stille nag, heilige nag” en “Die Heiland is gebore”.