“’n Skynbaar gedoemde nasie”

“Winter in die hart van ’n nasie”
January 22, 2015
Hensoppers en joiners
January 22, 2015

Ondanks die lyding in die kampe het die vroue die mans aangespoor om te volhard met die stryd. President Kruger het verklaar: “Ons teenstanders verwag dat ons vroue onder die druk van hul lye die mans sal oorhaal om die wapen neer te lê, maar ook hier sal hulle soos in al hul berekenings bedroë uitkom. Dit is merkwaardig hoe weinig die Engelse die innerlike wese van ons volk ken.”

Baie van hulle moes, soos DW Krüger dit stel, “aanskou hoe een na die ander kind sterf en in die skoot van die Afrikaanse aarde weggelê word”. In Oktober het die sterftesyfer sy verskriklike hoogtepunt bereik: 344 per duisend per jaar. Wat betref kinders onder vyf was dit veel hoër. In een kamp was dit 1000 per 2000 per jaar. “Daarvolgens sou die kinders, die toekoms-hoop van die volk, binne ses maande uitgesterf wees. Daagliks het ’n stoet grafwaarts beweeg: ’n breë pad is oopgetrap deur die voetval van tallose begeleiers, en so is die via dolorosa van ’n skynbaar gedoemde nasie gebaan. Daagliks het die kerkhowe groter geword en die groepe spelende kinders kleiner. Na die oorlog sou dit ’n besoeker opval hoe klein die dorpies, hoe groot daarenteen die kerkhowe is. Die aanblik van die ellende, die geluister na die gekerm van hul kroos het die moeders stom gemaak. Hul trane het opgedroog, maar in hul oë het ’n vuur gebrand wat onuitblusbaar is. Dit was lente in die land, maar nog het die winter nie gewyk uit die hart van die nasie nie.”

Toe die verhale van die sterftes buite die kampe bekend raak, was daar ontsetting in die hele beskaafde wêreld. Die eerste wat van hulle laat hoor het, was die vroue in die Kaapkolonie. Hulle het nie net op kongresse geprotesteer teen die behandeling van die vroue en kinders nie, maar ook geld en klere daarheen begin stuur. Ook uit Euopese lande, veral Nederland, maar ook Engeland en Amerika, het mettertyd milde bydraes gekom.

Dit was egter ’n Britse vrou, mej Emily Hobhouse, wat bekendheid verwerf het oor wat sy probeer doen het om die lyding van die kampbewoners te versag. Sy het ná besoek aan Suid-Afrika in Februarie 1901 ’n brosjure uitgegee waarin sy vertel van alles wat sy in die kampe beleef het. Voor haar besoek was sy nie van die kampe bewus nie. Sy is net toegelaat om die kamp in Bloemfontein en ander suid van dié stad te besoek. Dat vroue en kinders so behandel is, het in Brittanje, ander Europese lande en Amerika ’n ontsettende indruk gemaak. ’n Tweede besoek wat sy aan die kampe wou bring, is deur Milner en Kitchener belet. Sy is gearresteer en later met geweld op ’n skip geplaas om haar terug te neem. Nogtans het die toestand grootliks weens haar onthullings sodanig verbeter dat die sterftesyfer in Februarie 1902 gedaal het tot 69 per 1000 per jaar; weliswaar nog hoog, maar heelwat laer as die vorige jaar. Ruim een-kwart van die kampbevolking het omgekom: 4000 vroue en meisies van hubare leeftyd en meer as 22 000 kinders onder sestien.

Die behandeling van die vroue en kinders het by die strydende burgers groot verontwaardiging en diep bekommernis gewek, en die republikeinse regerings het sterk protes by die Britse regering daarteen aangeteken.