’n Rustige dag in Tafelbaai

Waarom ’n handelspos noodsaaklik was
January 2, 2015

Saterdag 6 April 1652 het besondere betekenis vir baie mense. Dié dag is vir hulle die begin van groot dinge in Suid-Afrika – ’n nuwe taal, volk en kultuur.

Maar eintlik was dit net ’n rustige dag in Tafelbaai – al wat anders was, was dat twee mans op ’n eensame bootjie rondgevaar het. Hulle was besig met ’n verkenningstog vir drie skepe in die nabyheid: die Reyger, Drommedaris, en Goede Hoop.

Die mense op die skepe was afkomstig van ’n jong republiek in Europa, die Verenigde Nederlande. Dié republiek was in ’n oorlog met Portugal en oorlog het met Engeland gedreig. Die versigtige 33-jarige bevelhebber, Jan van Riebeeck, wou dus nie dadelik aan wal gaan toe hulle op 5 April die land gewaar nie. Op 6 April het hy ’n bootjie uitgestuur om te laat kyk of daar nie seerowers of skepe van ander nasies in Tafelbaai lê nie. Twee uur voor sononder was die twee mans terug: die baai was stil en verlate, en dus veilig.

Hoewel Jan van Riebeeck en sy geselskap dus nie op 6 April aan wal gestap het nie, het hy die dag altyd as die “verjaardag” van die nedersetting beskou. In 1654 beloof hy in sy dagregister om “hierdie dag, die 6de April wesende, tot Gods eer met danksegging te vier en vir altyd tot ’n vasblywende dank- en biddag in te stel”.

’n Groep matrose en soldate het op Sondag 7 April 1652 aan land gegaan. Hulle het volop vis en by latere geleenthede ook groenigheid soos suring en mosterdblare saamgebring sodat die mense op die skepe hul eerste maaltye met gesonde vars voedsel in meer as drie maande kon geniet. Teen die aand is Van Riebeeck en ’n paar ander land toe. Twee inheemse mense is saam met Van Riebeeck-hulle terug na die skip – lede van die Khoikhoi, of “die groot manne van die skepping”, soos hulle hulleself genoem het. Van Riebeeck wou dié twee mans uitvra oor die moontlikheid om met hulle handel te dryf om vee te bekom.

Die belangrike woord hier is “handel”. Die koms van die Nederlanders het alles daarmee te doen gehad. Van die vroegste tye af het die volke van Europa handel gedryf met Indië en China. Die drang na die warm en ryk Ooste was baie sterk by die mense van die koue Noord- en Wes-Europa.

Die verkeer tussen die Ooste en Weste het vir ’n groot deel oor land gegaan. Teen die middel van die vyftiende eeu is die handelsverkeer na die Ooste verlam weens veroweringstogte van die Turke. Portugal was reeds ’n handelsentrum vir Oosterse ware, en was die aangewese land om ’n “seeweg” te soek, ’n nuwe handelsroete na die Ooste oor see.

So het dit gekom dat Bartolomeus Dias in 1488 om die suidpunt van Afrika gevaar het. In April 1488 het hy ’n kaap ontdek en weens die stormweer daaraan die naam Cabo Tormentoso, “Stormkaap”, gegee.  NP van Wyk Louw se drama Dias word afgesluit met die mooi gebed van die ontdekker: “En wees / by dié land, by daardie eensaam land / wat ek gevind het … nie wou vind nie […]” Die Portugese koning Johan II het die naam van “daardie eensaam land” egter verander in Cabo de Boa Esperanca, “Kaap van die Goeie Hoop” – omdat Dias se ontdekking goeie hoop vir die seeweg na Indië gegee het. Die hoop hét nie beskaam nie; die seeweg ís ontdek in 1498. Vasco da Gama het tot by Kalikoet in Indië gevaar.