’n Nuwe taalsituasie

Die Engelse kom weer
February 26, 2015
Kontraste op sendingstasies
February 28, 2015

Die Kaapsche Stads Courant en Afrikaansche Berigter het op 18 Januarie 1806, die dag van Janssens se kapitulasie, ook as The Cape Town Gazette and African Advertiser verskyn. Dit was die eerste aanduiding dat die nuwe Britse besetting die taalsituasie aan die Kaapkolonie sou beïnvloed.

Vir die eerste klompie jare ná 1806 was die Engelssprekendes in Kaapstad die garnisoen, amptenare en ’n klompie handelaars. Immigrasie het hul geledere versterk. Kaapstad het aanvanklik feitlik die enigste plek gebly waar Afrikaans- en Engelssprekendes gereeld met mekaar in aanraking gekom het. Ook daar het die Hollandse gemeenskap voorlopig ’n redelik afgeslote geheel gevorm. Die Engelssprekendes was nogal eksklusief en het nie maklik met die andertaliges omgegaan nie.

Nietemin kon die Kapenaars maklik aanleer by die nuwe aankomelinge, Engelsgeoriënteerde vermaak soos perdewedrenne asook die Engelse skole wat gou tot stand gekom het. Buite Kaapstad was dit egter nie die geval nie. Ds. George Thom het in Januarie 1821 aan een van die goewerneurs, lord Charles Somerset, geskryf dat hy meen dat daar nie meer as 400 mense buite Kaapstad was wat Engels kon praat nie en skaars 200 wat dit kon lees en skryf.

’n Alternatief vir Engelse vermaak was van 1802 af die opvoerings van toneelgeselskappe. Hollandse stukke van taamlike hoë peil is die hele 19de eeu opgevoer. Verder was daar die lósies en sociëteite wat vermaaklikhede soos dans, kaartspeel, musiekuitvoerings en biljart gebied het.

Die oorgrote deel van die bevolking was Afrikaans. Teen 1810 het die getal Afrikaners op 31 184 gestaan, in 1815 op 37 264, in 1819 op 42 217, in 1832 op meer as 52 000, in 1854 byna 150 000. Die betreklik vinnige aanwas was veral die gevolg van ’n hoë geboortesyfer, en in ’n mate ook die assimilasie van immigrante, veral Nederlanders en Duitsers, wat hulle met die Afrikaners vereenselwig het.

Soos dit nog sal blyk, was die taalbehoud van die Afrikaanstaliges voorlopig veral te danke aan hul isolasie. Baie van dié in die binneland het geen onderwys geniet nie. Hulle het vir ’n groot deel van die 19de eeu geen Engels geken nie, selde met Engelssprekendes in aanraking gekom en was nie lank genoeg op skool om dit aan te leer nie. Van die 3400 kinders in die distrik Graaff-Reinet was byvoorbeeld hoogstens 100 aan die begin van die 19de eeu op skool. Wat die mense gered het van totale verval, was hul gehegtheid aan die godsdiens.

Daar was ’n belangrike swakheid in die taalsituasie. Hoewel die Afrikaanstaliges die een of ander vorm van Afrikaans gepraat het, was hul kultuurtaal Nederlands of Hollands, soos dit indertyd genoem is. ’n Soort “diglossie” het bestaan – die volk het een taal gebruik as omgangstaal, dus vir “lae funksies”, en ’n verwante taalvorm as kultuurtaal, vir “hoë funksies” soos die onderwys en die godsdiens. Die vernaamste leesboek van die volk was nog die Nederlandse Statenbijbel. Aan die begin van die eeu het dié dubbelslagtigheid niemand gehinder nie. Later in die eeu het die dorpenaars en stedelinge Engels pleks van Hollands vir dié hoë funksies begin gebruik en op die duur het dié taal ook vir baie die omgangstaal geword. Sommige families het gou verengels, soos die Cloetes, Van der Byls, Myburghs en Theunissens. In ’n later fase van die geskiedenis het ander Afrikaners dikwels lekker met die verengelste uitspraak van hul vanne gespot: die Wenderbaails, Maaiburk, selfs Kou-ekke-mors (Koekemoers) ensovoorts.