’n Nuwe koerant word beplan

Dood van Generaal Beyers en Jopie Fourie
January 22, 2015
Oprigting van Naspers
January 22, 2015

Die Rebellie het tot gevolg gehad dat Hertzog die bietjie steun verloor het wat hy en sy pas gestigte Nasionale Party nog in die Hollands-Afrikaanse pers geniet het. De Vriend des Volks het gesuggereer dat Hertzog betrokke was by die verraad van Manie Maritz. Toe die rebelle verdryf, verslaan en gevang is, het die Bolandse Hertzogmense gevoel dat die regeringspers nie reg laat geskied aan die gewapende verset nie, en dat die vyandige pers Hertzog verkeerdelik direk by die opstand probeer betrek. Hulle het die Botha-koerante al hoe meer gewantrou weens hul verdraaide, eensydige en foutiewe inligting.

Van Oktober 1914 af het vooraanstaande Bolandse Afrikaners dikwels gepraat oor ’n moontlike nuwe koerant en met ander Nasionaalgesindes oor die hele land in verbinding getree. Die meeste van dié Bolanders was verwant aan mekaar; ander was vriende met dieselfde belange of gemeenskaplike vriende, of het behoort aan verenigings soos die ATV, Taalbond en Akademie of was getroud met vroue wat aan die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging behoort het. Die sterkste konsentrasie was in en om Stellenbosch en die Kaapse Skiereiland.

’n Paar van dié mense wat CFJ Muller in Sonop in die Suide vermeld, is dominee FX Roome; Willie Hofmeyr, 45-jarige prokureur en lid van ’n vooraanstaande familie; die 43-jarige joernalis JHH de Waal, wat in November 1914 weens sy Hertzoggesinde kommentaar moes bedank as redakteur van De Goede Hoop, waarvan die beherende maatskappy Bothagesind was; die 63-jarige vermoënde Jannie Marais, LV vir Stellenbosch; sy private sekretaris W Bruckner de Villiers (39); professor JJ Smith (31), professor in Frans en Duits aan die Victoriakollege; die 30-jarige Tobie Muller, mederedakteur van Ons Moedertaal, ’n blad wat later verenig sou word met De Huisgenoot.

Die nuus van Jopie Fourie se gevangeneming en die ander opspraakwekkende gebeurtenisse in die noorde het per telefoon en telegraaf vinnig na die Boland versprei en ’n emosionele reaksie uitgelok. Op kort kennisgewing het Bruckner de Villiers en Hendrik Bergh, bestuurder van die Stellenbosse Distriksbank, ’n groep Afrikaners genooi om op Vrydagmiddag 18 Desember 1914 om drie-uur in Bergh se huis Heemstede in Van Riebeeckstraat, Stellenbosch, bymekaar te kom om die oprigting van ’n nuwe koerant te bespreek. Sommige mense was met vakansie en die byeenkoms was glad nie verteenwoordigend van alle Nasionaliste en deelnemers aan die taalbeweging nie. Die afwesige Jannie Marais is vooraf gepols oor bystand. Hy was die grootste aandeelhouer van die Distriksbank, wat in 1882 opgerig is. Marais het sy fortuin op die diamantvelde gemaak voordat hy op sy plaas Coetzenburg net buite Stellenbosch gaan woon het. Sestien mense was teenwoordig – die twee kleinneefs JHH de Waal en Willie Hofmeyr, en nog veertien wat op die een of ander manier van hulle familie was. Tussen £20 000 en £30 000 was nodig vir die beoogde maatskappy, en ’n lys van £1-aandele is daar geopen. Gou was daar £1035 op, onder andere van mense wat voor die vergadering aandele aangevra het: doktor DF Malan, predikant van Graaff-Reinet, Paul Roos en CJ van Rijn.