’n Nuwe geldstelsel

Families verengels … en verafrikaans
March 7, 2015
Afrikaners kry tydskrifte en koerante
March 9, 2015

Die koms van die Britse bewind het vanselfsprekend ingehou dat, behalwe die nuwe taal, ook ’n nuwe muntstelsel aanvaar sou word. In die vroeë jare van die Kaap was daar verskeie munte in omloop, maar in 1781 het die Kaapse bewind begin om papiergeld uit te reik –- die bekende Kaapse rijksdaalder of riksdaalder.

Hoewel Britse muntstukke skaars was, het die gebruik daarvan aan die Kaap sedert 1806 geleidelik toegeneem. In 1816 is die muntreeks in Brittanje herskep en het die pond, halfpond, kroon, halfkroon, eensjielingstuk en sikspens (in silwer) en die pennie, half- en kwartpennie (in koper) verskyn. Later is die silwerfloryn (2 sjielings) vier- en driepenniestukke bygevoeg.

Lord Charles Somerset het op 6 Junie 1825 ’n ordonnansie uitgevaardig wat die pond sterling aan die Kaap as betaalmiddel gewettig het. (Sterling, “eg”, “van standaardwaarde”, kom miskien van die sterretjies wat vroeër op Britse pennies verskyn het.) Gebrek aan klinkende munt het die oorskakeling vertraag. Geld was so skaars dat die riksdaalder ná 1825 verskeie drukke beleef het en eers in 1831 herroep is. Dis toe deur sterlingnote in denominasies van £1, £5, £20, £50 en £100 vervang. Die laaste datum van inruiling was 31 Maart 1841.

Die riksdaalder was in 1806 nog 4 sjielings (4s. of 4/-) werd, maar deur die beleid van verskeie goewerneurs het die waarde daarvan gedaal tot 1s. 5½d. in 1825. Hulle het onder meer telkens nuwe note laat druk. Die waarde van die Hollandse munte is in 1825 vasgestel op 1s. 6d. vir die riksdaalder asook die Kaapse gulden, ½d. vir die stuiwer en 2¼d. Vir die skelling. Daar was heelwat ontevredenheid onder die Kapenaars, want hulle het gemeen dat die waarde van die ou geld veels te laag vasgestel is. Die riksdaalders is geleidelik aan sirkulasie onttrek, maar dit het baie lank nog as ’n waarde-eenheid gedien. Tot in die 1960erjare het party Afrikaners nog van 1s. 6d. as ’n “daalder” of “daler” gepraat. Die uitdrukking “‘n bietjie dik vir ’n daalder” leef vandag voort in die betekenis van “te duur” of “te erg”.

Daar was 12 pennies in ’n sjieling, en twintig sjielings in ’n pond; die kroon was 5 sjielings, die halfkroon twee sjielings en ses pennies, die floryn 2 sjielings, die sikspens 6 pennies en die trippens of tiekie 3 pennies. Die afkortings vir die pond was £, ’n L vir die Latyn librae met ’n strepie deur die L, vir sjielings s. (solidi) en vir pennies d. (dinarii). Dit het die Suid-Afrikaanse geldstelsel gebly totdat dié geld op 14 Februarie 1961 deur die desimale stelsel vervang is. Toe die Boererepublieke in die 1840er- en 1850erjare tot stand kom, is die riksdaalder, skelling en stuiwer aanvanklik as rekeneenhede gebruik, maar teen 1852 was die Britse stelsel ook daar gevestig.

So ingeburger was die Britse geldname, veral die halfkroon, in die Afrikaanse kultuur dat dit opgeneem is in uitdrukkings soos: “Hy het ’n halfkroon opgetel” (Hy het geval) of “Jy skuld my ’n halfkroon” (Jou gulp is oop) en “ook ’n stuiwer in die armbus gooi” (ook saampraat). Oulap, ou benaming vir ’n pennie, is nog te vinde in die gesegde: “’n Oulap se rooi maak mooi”.