’n Nederlandse erfenis

Irma Joubert en stories is sinoniem
July 26, 2018
Gustav Preller – ’n Huldeblyk
July 26, 2018

’n Aantal musici uit verskillende stamlande, het teen die einde van die vorige eeu en in die eerste helfte van die huidige, die musikale heuningpotte van Europa verlaat om hulle gewig hier by ons te kom ingooi. Die meeste hiervan was uit die Britse Eilande afkomstig, – musici soos W.H. Bell, Theo Wendt, Erik Chisholm, Albert Coates en ander. Eienaardig genoeg, het ons eers teen die tweede helfte van hierdie eeu waardevolle en werklik invloedryke manne uit ons vernaamste stamland, Nederland, begin trek.

Afgesien van talle orkesspelers en ander musici uit die ‘land van dyke’, het ’n drietal met uiteenlopende en unieke gawes gedurende drie agtereenvolgende dekades hulle by ons gevoeg om ons musiek in sy verskillende vertakkinge, op onbaatsugtige wyse te dien en te bevorder – wyle Jan Bouws, Arthur Wegelin en Henri Arends.

Wanneer uiters bekwame, professionele mense, veral kunstenaars, uit Europa na hierdie suidelike uithoek emigreer, is die eerste reaksie van die gewone man, dié van agterdog. Die stille vraag skiet deur die skrefiesoë: as hy oorsee suksesvol was, waarom het hy alles daar gelos om hier baanbrekerswerk te kom verrig?

Net soos in die geval van beoefenaars van ander vakgebiede, vind ’n mens ook onder musici, manne wat opgesaal is met sterk pioniersinstinkte wat versmoord voel in oorbevolkte en oorgeorganiseerde situasies wat deur roetine en gevolglik ook soms deur vervlakking oorheers word. Bell en Wendt, hierbo genoem, was, volgens hul biografieë, briljante jong manne met ’n rooskleurige toekoms in Engeland, maar hulle het dit verruil vir die bevrediging wat die skeppingswerk van die egte baanbreker as loon meebring.

Die drie Nederlanders was, in teenstelling met die genoemde Engelse (Bell en Wendt), reeds in Europa gevestig voordat hulle geëmigreer het. Net soos in laasgenoemdes se geval het die pioniersinstink hulle aangevuur tot die taak wat hier gewag het, maar in teenstelling met die Engelse musici, was daar nog ’n ander motivering hier ter sprake – die taal- en kultuurverwantskap.

Al drie was voor hul koms hierheen genoegsaam ingelig oor die feit dat dinge hier nie altyd op dieselfde peil as dié van die patria staan nie, maar aan die ander kant ook weer, dat ons plek op die musieklandkaart tog ver van blank-leeg was en waarop reeds baie, en selfs indrukwekkende prestasies opgeteken staan. En verder, miskien aanlokliker nog: die jong potensiaal in jong lande, wat groter en gretiger skyn te wees as dié in die ouer en gryser lande waar die kulturele oorversadigingspunt reeds bereik is, en baie van die jeugdige potensiaal frustrerend na allerhande onproduktiewe rigtings laat wegspat het.

Die dubbelberoep van onderwyser-musiekgeskiedkundige is natuurlik raar. Net soos die rare Philip Spitta, die negentiende eeuse biograaf van Johann Sebastian Bach, het ook die ewe rare Jan Bouws hierdie dubbel métier beoefen. Maar waar Spitta hom toegespits het op verskillende aspekte van Duitse musiek, reg onder sy neus, het Bouws vanuit Nederland ons musiekgeskiedenis nagevors en in 1946 sy eerste boek: Musiek in Suid-Afrika in België laat verskyn. Soos ’n oud-student van hom, dr. Reino Otterman, dit in ’n artikel gestel het, is dit ‘in meer as een opsig ’n merkwaardige boek. Dit is die eerste poging tot ’n omvattende musiekgeskiedenis van Suid-Afrika, geskryf in Afrikaans deur ’n man wat nog nooit sy voet op Afrikaanse bodem gesit het nie. En die hoeveelheid feitemateriaal wat dit bevat, is inderdaad verstommend’.

Jan Bouws, wat op 26 Januarie 1978 op Stellenbosch oorlede is, het sy eerste lewenslig op 28 Julie 1902 in Purmerend, Noord-Holland, aanskou. Sy besondere belangstelling in die wel en wee van ‘de Boerenvolk in Zuid-Afrika’, was aanvanklik miskien nie so buitengewoon nie, want ’n mens moet onthou dat die koors van heldeverering vir die Boere-Republieke vanuit Nederland, tydens, en ook na die Tweede Vryheidsoorlog, hoog geloop het. Maar, waar hierdie heldeverering en die romantiek van ’n oorlog, so veraf geveg, en waarby stam- en taalgenote betrokke was, en daarby in ‘een zonnig land’, by die meeste seuns (en waarskynlik hulle ouers ook) gou verbygegaan het, het die romantiek, die tragiek, Jan Bouws egter altyd bygebly, en ’n houvas op hom gekry wat hy nooit weer kon afskud nie.

Sy belangstelling is aanvanklik sterk deur sy grootmoeder geprikkel, want as seun het hy volksliedjies en verhale uit die Tweede Vryheidsoorlog uit haar mond gehoor wat sy kinderlike verbeelding geweldig aangegryp het. Volgens dr. Ottermann het hy vir homself, as twaalfjarige skoolseun, ’n geskiedenis van Suid-Afrika sedert sy stigting saamgestel, volledig met kaarte en selfs portrettekeninge. Anders as in die geval van sy tydgenote en hulle ouers wat die romantiek en miskien patos van die verre suidelike konflik so maklik kon afskud (sodra alles verby was), het hy tog die kiemsaad in hom omgedra wat van hom iemand so anders as die ander sou maak, wat die pioniersgees in hom sou aanwakker en miskien ook in hom gestimuleerd sou hou: die romantiek van dié veraf land, wat soos ’n sprokieswêreld wink en waar die son so baie skyn en die wydoop ruimtes wag … so ’n onbegryplike begrip: wydoop ruimtes sonder mense en kunsmatig aangeplante dinge of dyke, of vierkantige tuine op tuine en die ewige groener as groen se groen en ook die ewige bleek lig … van bleek tot bleker en terug.

As onderwyser is hy in Haarlem opgelei en sy eerste aanstelling was in die dorp Oosthuizen waar, terloops, die oudste bestaande Europese kerkorrel in ’n plaaslike kerk gehuisves is. In 1929 verhuis Bouws na Amsterdam, waar hy sy musiekhistoriese opleiding van proff. Smijers, J. Smits van Waesberghe, Bernet Kempers en ander ontvang terwyl hy nog kniediep in die onderwys gestaan het. Hy vind ook nog tyd om lesings oor die Afrikaanse letterkunde van N.P. van Wyk Louw by te woon toe laasgenoemde hoogleraar in Amsterdam was.

Vanuit Nederland pak hy sy eerste studies oor musiek in Suid-Afrika aan en sedert 1930 begin hy gereelde bydraes vir Die Huisgenoot en ander weekblaaie en selfs dagblaaie te lewer. Hy moes besonder wyd gelees het, want sy vriend Frits Stegmann skryf dat hul briefwisseling begin het na aanleiding van artikels wat Stegmann vroeg in die veertigerjare vir Die Transvaler geskryf het.

Foto: Koninklijk Instituut voor de Tropen, Amsterdam. Jan Bouws oorhandig blomme aan Anna Neethling-Pohl ná haar optrede. Februarie 1949

Dit was so laat as 1957 dat Jan Bouws Suid-Afrika vir die eerste keer besoek het. In daardie jaar het die F.A.K. hom genooi om ’n referaat oor die Afrikaanse volksmusiek by ’n kongres vir volksmusiek op Stellenbosch te lewer. By hierdie geleentheid kon baie van ons musici en ander belangstellendes wat jarelank slegs met hom kon korrespondeer, vir die eerste keer met hom in lewende lywe kennis maak.

In hierdie jaar (1957) verskyn sy tweede boek: Suid-Afrikaanse Komponiste van Vandag en Gister. In die volgende jaar sien Die Afrikaanse Volkslied die lig, en kort daarna Woord en Wys van die Afrikaanse Volkslied. In die voorwoord van laasgenoemde erken hy die hulp van Arnold van Wyk en Frits Stegmann.

In die jaar 1960 word hy aangestel as direkteur van die Instituut vir Volksmusiek en ook as dosent aan die Stellenboschse Konservatorium. Hy vind hier die tyd om sy navorsing oor die Afrikaanse volkslied verder voort te sit en as gevolg daarvan verskyn twee verdere boeke: Die Volkslied, Weerklank van ’n Volk se Hartklop (1962) en Die Volkslied, Deel van ons Erfenis (1969).

In 1965 behaal hy die D.Phil-graad aan die Universiteit van Stellenbosch met sy proefskrif: Die Musieklewe  van Kaapstad 1800-1850, en sy verhouding tot die musiekkultuur van Wes-Europa. Dit is in 1966 gepubliseer. Ander publikasies wat uit sy vrugbare pen voortgevloei het, is Maatgespeel (1964) en Komponiste van Suid-Afrika (1971). Sy grootste werk egter, ’n boek waaraan hy sowat dertig jaar lank gewerk het en wat ’n gesaghebbende en uitgebreide bron oor ons musiekgeskiedenis beskou kan word, wag nog op publikasie.

Foto: Dr. Jan Bouws word ná sy promosie deur prof. Gawie Cillié en prof. Richard Behrens gelukgewens. Stellenbosch 1965

Onlangs het Frits Stegmann tereg die volgende stelling in ’n artikel gemaak: ‘Nie alleen het Jan Bouws ons eie musiek aan onsself bekend gestel nie, maar hy het dit wêreldwyd gepropageer’. Hy het hier natuurlik verwys na Bouws se bydraes tot al die belangrikse musiekensiklopedieë en -tydskrifte van lande soos Duitsland, Oostenryk, Nederland, België, Frankryk, Engeland, Switserland, Denemarke en selfs Hongarye. Maar hierbenewens het Bouws ook ’n belangstelling in die buiteland vir ons verskuns aangewakker. Dit was reeds gedurende die oorlogsjare en daarna, dat hy Nederlandse en Vlaamse komponiste oorgehaal het om verse van Afrikaanse digters te toonset – komponiste soos Rudolph Mengelberg, Johannes Röntgen, Henk Badings (wat die opera Asterion op die teks van N.P. van Wyk Louw gekomponeer het), Wolfgang Wijdeveld en Flor Peeters.

Min van sy bewonderaars en selfs vriende is daarvan bewus dat Jan Bouws meer komposisies nagelaat het as wat algemeen bekend is, d.w.s. die drie liedere wat in die F.A.K. opgeneem is (sien afdeling B).

Sover bekend, bestaan sy werklys uit die volgende komposisies:

A Pedagogiese werke

Eerste, Tweede en Derde Klavierboeke

Twaalf Liedjies vir Klavier

Blokfluitboekje Nr. 1

(Al drie gepubliseer deur Boekmans en Van Poppel, Amsterdam. Geen datum)

Kuhlau Variasies vir Blokfluit en Klavier

(Gepubliseer deur Studio Holland, Kaapstad)

 

B Gepubliseerde liedere

Elf Afrikaanse liedere (vir ongespesifiseerde sangstem en klavier)

  1. Op my ou Ramkietjie (Leipoldt)
  2. Ou Magjaar se Liedjie (Eitemal)
  3. Dis Al (J.F. Celliers)
  4. Slampamperliedjie (Leipoldt)
  5. Drinklied (Eitemal)
  6. Sonnedaal (A.D. Keet)
  7. Slaapliedjie (A.G. Visser)
  8. Kinderfantasie (Kleinjan)
  9. Die Maan (A.D. Keet)
  10. Ryliedjie (Piet Beukes)
  11. Ek haat die felle daglig (A.D. Keet)

(Gepubliseer deur Studio Holland, Kaapstad. Geen datum vermeld nie.)

 

Nommers een en twee, sowel as ’n bewerking van die volksliedjie Japie en Ellie, is ook in die F.A.K.-Bundel opgeneem.

 

C Losstaande liedere in fotokopievorm

Die Dromer (W.A. Boonzaaier) 1947

Me (A.G. Visser) 1936

Wonderlik (Jan) 1935

Slaapliedjie (Johanna van Broekhuisen) 1933

 

D Geleentheidskomposisies

Feeslied vir Republiekdag (Bylaag tot Die Burger, 1 1 Februarie 1966)

Skoollied vir die Laerskool, Westdene, Keetmanshoop (Gerhard Beukes)

(Ongedateerde manuskrip)

 

Foto: Oorhandiging van die erepenning vir musiek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Jan Bouws deur dr. Frans Geldenhuys, Ambassaseur van Suid-Afrika in Nederland, te Amsterdam in 1959

Sy komposisiestyl is tradisioneel en soms selfs volksliedmatig, en dit verklaar dus sy voorliefde vir ons vroeë liriese digters. Al sy werk getuig egter van deeglike vakmanskap en die musiek dra sy boodskap met duidelikheid oor. Wat die tekstuur en harmoniese grondslag van sy liedere betref, staan dit kop en skouers uit bo die werk van sy Afrikaanse tydgenote wat hulle met dieselfde digters se werk besig gehou het.

As musiekwetenskaplike het Jan Bouws ’n nuwe tradisie van navorsing op Stellenbosch daargestel. Heelwat studente het onder hom gepromoveer. Een hiervan, dr. Reino Ottermann, wat hom opgevolg het, sit nou sy waardevolle werk voort.

Individue het natuurlik altyd hul dankbaarheid aan Bouws betoon vir sy belangrike werk ten opsigte van ons musiek. As ’n mens nou so terugkyk op sy loopbaan, verheug jy jou oor die feit dat belangrike instansies hom nog betyds vereer het. Só het die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns byvoorbeeld in 1959 ’n goue erepenning aan hom toegeken as erkenning vir sy bydraes tot die musiekwetenskap van ons land. In 1967 is die Stalsprys aan hom toegeken terwyl die F.A.K. in 1972 ’n spesiale oorkonde namens hom aan mev. Bouws in Windhoek oorhandig het.

Foto: Jan Bouws met vrou en seuns na die oorhandiging aan hom van die Stalsprys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (1967). (Links van sy vader: Jan junior; regs van sy moeder: Nills Bouws

Kenmerkend van Jan Bouws as mens was sy geweldige energie en sy onuitblusbare geesdrif vir alles wat saamgehang het met die Afrikaanse kultuursaak, en daarbenewens sy beskeidenheid en sy hulpvaardigheid te alle tye. Teen elke maatstaf waarteen hy ookal gemeet word, bly hy ’n unieke mens.

By geleentheid van die toekenning van die erepenning deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1959, het prof. B. Kok, destyds rektor van die Vrystaatse Universiteit, die gevoelens van ’n dankbare volk soos volg in sy huldigingswoord opgesom: ‘Ek glo nie dit is oordrewe as ek sê dat Jan Bouws ons van Holland uit bewus gemaak het van die kosbare kultuurbesit wat ons in volksmusiek het nie en dat hy ons oë geopen het vir die betekenis van ons eie musici wat nie juis te veel aanmoediging in ons eie land ondervind nie’.

 

Bron: Grové, Stefans. 1979. Lantern, April: 74-77.