’n Modelstaat en ’n bedreigde republiek

Diamante verander Suid-Afrika
April 23, 2015
Transvaalse uitlanders vra Britse “beskerming”
May 1, 2015

Ná die beëindiging van die diamantveldkwessie kon president Johannes Henricus Brand (1823–1888) en sy burgers hul pogings voortsit om die Vrystaat op te bou. Die £90 000 vir die diamantveld is gebruik om ’n telegraaflyn na Bloemfontein aan te lê en ’n nasionale bank op te rig. Die diamantvelde het die ekonomiese lewe bevorder, terwyl die anneksasie die Vrystaat verlos het van die taak om oor ’n klomp moeilike vreemdelinge te regeer. Die Vrystaat is goed bestuur en in die staatsdiens het heelparty Kapenaars allerlei betrekkings beklee. ’n Duitse reisiger, Ernst von Weber, het dit in 1875 die bes-regeerde staat van Suid-Afrika genoem, ’n “ware modelstaat” vir sy buurlande. Dit was ’n algemene karakterisering vir die 19de-eeuse Vrystaat. Karel Schoeman skryf: “Die jong staatjie het geen besondere ambisies of pretensies gehad nie, maar van sy kanse gebruik gemaak met die beskeidenheid, ingetoënheid en gesonde verstand wat hom al meer sou kenmerk.” GD Scholtz sê dat die Afrikaner in die Vrystaat vir die eerste maal sou toon hoe hy op die politieke terrein kon presteer in ’n staatstruktuur wat hy geskep het en onder ’n regering wat hy ten volle vertrou het. Die bedreigings van buite het nasionale eenheid geskep.

In Transvaal het dit slegter gegaan. Dit het nie soos die Vrystaat voordeel getrek uit die koms van Agternatrekkers en die florerende mark van die diamantvelde nie. Die wit mense daar was die armste in die land, en bittere verlammende groepvorming en twiste het lank voorgekom. Daar was byna voortdurend moeilikheid met swartes, soms weens twiste in dié swart volke self.

Transvaal het voor 1877 ook nog nie ’n staatsman met die statuur van pres. Jan Brand gehad nie. MW Pretorius is in 1872 opgevolg deur Thomas Francois Burgers, gewese predikant van Hanover, wat deur die NG Sinode geskors is weens onregsinnigheid. Eintlik wou die Transvalers Brand as president hê, maar hy het nie kans gesien nie en hulle na Burgers verwys. Omdat hulle ’n geleerde gesoek het, was Burgers aanvaarbaar. Sy geesdriftige maar voortvarende planne het egter nie in die smaak geval nie, en sy liberalisme het baie mense afgestoot.

So sterk het party oor sy “onchristelike” optrede gevoel dat groepe “Dorslandtrekkers” die land in 1874 en 1875 verlaat het op pad na die Kaokoveld en Angola. Feitlik die helfte is in die Kalahariwoestyn dood en hulle het byna alle besittings verloor. Sommige het tot in Angola getrek. Later het nog meer Dorslandtrekke gevolg. Die historikus Gustav Preller skryf dat die Dorslandtrek ’n “Dwaaltrek” was wat volstrek nie pas by die origens nugtere mentaliteit van die Boer nie. Die onnadenkende, onverantwoordelike optrede van ’n klomp Afrikaners wat die woestyn invaar met hul gesinne, “sonder om te weet hoe of wat, of waarheen”, stem nie met vorige gebeurtenisse van die aard ooreen nie. “Dit lyk wel op die vir ons sinlose, selfvernietigende trek van die springbokke, wat uiteindelik die see invaar!” Onder die Dorslandtrekkers wat Angola bereik het, was ’n aantal swart Van der Merwes wat Afrikaans aangeneem het. Die trek het nog altyd die verbeelding van Afrikaners aangegryp en ’n omvangryke werk met talle foto’s en ander illustrasies, Die Dorslandtrek 1874–1881 deur Nicol Stassen, het in 2015 verskyn.