’n Lewenskragtige kultuur

Die opbouwerk van wetenskaplikes
January 26, 2015
’n Florerende musieklewe
January 26, 2015

Ná ’n ernstige siekte waarin verskeie geneeshere hom sterwend verklaar het, het die Afrikaanse digter DJ Opperman merkwaardig herstel en ’n ewe merkwaardige digbundel, Komas uit ’n bamboesstok, uitgegee. By die verskyning daarvan in 1979 het die letterkundige, Merwe Scholtz, gesê: “In hierdie tyd van groot onsekerhede en teleurstellings is hierdie boek geweldig op sy plek en sal u begryp waarom literatuur so ’n hoë erns is. Net so ernstig en noodsaaklik as dat ons ons grense na buite verdedig, is die literatuur, want hierdeur word ons na binne gesterk en word vir ons, en veral vir ons jong mense, in Afrikaans ’n leefwyse opgestel wat dit die moeite werd maak om in Afrikaans te leef en te sterf.”

Nuwe temas is ontgin. Jong skrywers wat tot 1990 aan die grens van Namibië diensplig moes doen, het die “grensliteratuur” geskep. Die veelsydige Hertzogpryswenner Hennie Aucamp, ’n literêre Midas, wat stilisties van die beste prosa in Afrikaans skryf, het pionierswerk verrig deur sy menslike uitbeelding van gay-karakters.

Die sterk vrouefigure het opgeval, trouens ook in ander kunste soos die skilderkuns met Maggie Laubser en Bettie Cilliers-Barnard. Van MER (oorlede op 7 September 1975, tien dae ná haar 100e verjaarsdag) was daar in 1972 ’n outobiografiese vertelling, My beskeie deel, wat party letterkundiges as van die beste prosa in Afrikaans beskou het. Anna M Louw het vir Kroniek van Perdepoort (1975) die Hertzogprys ontvang. Onder die digters was daar Sheila Cussons, Antjie Krog, Ina Rousseau, Lina Spies en Wilma Stockenström. Elisabeth Eybers, wat in 1961 na Amsterdam is, het in 1975 die Herman Gorterprys van dié stad ontvang, in 1978 die Constantijn Huygensprys en in 1991 die PC Hooftprys, die belangrikste Nederlandse literêre prys. Elize Botha het die Tydskrif vir Letterkunde grondig vernuwe. Sy was later die eerste vrou wat voorsitter was van die Akademie, direksielid van Naspers en kanselier van die Universiteit van Stellenbosch.

Werke van verskeie skrywers is vertaal en goed in die buiteland ontvang, veral dié van Etienne Leroux. André P Brink se werke is in 26 tale vertaal. Hy het etlike buitelandse pryse vir vertaalde werk ontvang, onder meer die Martin Luther King-prys en die Franse Prix Médicis Etranger in 1980. In 1983 is hy benoem tot ridder in die Franse Legioen van Eer en in 1987 tot offisier in die Franse Orde van Kuns en Lettere.

Sedert sy debuut met die novelle Veldslag in 1965 het Karel Schoeman een van Suid-Afrika se grootste en produktiefste prosaskrywers geword. Daar is letterkundiges wat meen dat hy die Nobelprys vir letterkunde verdien. Van Wyk Louw het verklaar dat die laaste 40 bladsye van ’n Lug vol helder wolke “van die edelste prosa is wat ons besit”. Sy roman Na die geliefde land (1972) het aandag getrek omdat dit gesitueer is in ’n na-revolusionêre Suid-Afrika met‘n ongeïdentifiseerde diktator aan die bewind. Die Engelse skrywer Alan Paton het dit as ’n boek oor “the death of Afrikanerdom” beskryf. Een van Schoeman se grootste romans is ’n Ander land (1987), ’n roman wat in die Bloemfontein van die tweede helfte van die negentiende eeu afspeel. Schoeman het verskeie waardevolle historiese werke soos ’n groot werk oor die geskiedenis van Bloemfontein geskryf en dokumentpublikasies uitgegee.