’n Kulturele nasionalisme

Die presterende jeug
January 26, 2015
Die oes van die eeu
January 26, 2015

Oerafrikaans het aan die einde van die sewentiende eeu seker nie meer as 2000 tot 3000 sprekers gehad nie; ’n eeu later nie meer as 50 000 nie; aan die einde van die negentiende eeu was daar 500 000 Afrikaners en miskien 400 000 bruin sprekers. Aan die einde van die twintigste eeu lê die getal huistaalsprekers op ongeveer 5,8 miljoen (volgens die 1996-sensus), hoewel dit in 1999 minder kan wees weens die emigrasie van soveel wit Afrikaanstaliges. Baie sprekers van ander tale ken Afrikaans as tweede of derde taal. Omstreeks 1991 het sowat 15 miljoen Suid-Afrikaners verklaar dat hulle dit kan praat en verstaan.

In drie van die nege provinsies is Afrikaans volgens die 1991-gegewens die grootste huistaal:  die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng. In nog drie is dit die naasgrootste huistaal, hoewel sterk in die minderheid: die Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap; in drie is dit ’n betreklike klein taal: KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Noordelike provinsie.

Die distrikte met die grootste konsentrasies Afrikaanstaliges is agtereenvolgens Pretoria, Wynberg, Port Elizabeth, Bellville, Goodwood, Johannesburg, Bloemfontein, Paarl, Kuilsrivier, Gordonia, Malmesbury, Worcester, Vereeniging, Kimberley, Uitenhage, Wonderboom, Roodepoort, George, Klerksdorp en Caledon.

Ondanks die verliese wat Afrikaans ly deur amptelike verwaarlosing, emigrasie en ‘n dalende geboortesyfer is die kultuurlewe in baie opsigte net so lewendig as voorheen. Tienduisende Afrikaanstaliges stroom elke jaar na die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn en die Aardklop-kunstefees op Potchef-stroom. Duisende vroue kom gereeld bymekaar om in meer as 1000 leesunies en leeskringe oor die hele land oor Afrikaanse boeke te praat. Die koerante gee heelwat aandag daaraan. Dit is veral die digter en literatuurkenner doktor Daniel Hugo wat oor Radio Sonder Grense in sy onderhoude met skrywers geesdrif vir die Afrikaanse boek wek.

Die letterkunde is aan die einde van die eeu steeds op merkwaardige wyse verryk deur vernuwende werke van jong skrywers maar ook gevestigdes soos Hennie Aucamp, André P Brink, TT Cloete, Karel Schoeman, Wilma Stockenström, Etienne van Heerden en George Weideman.

Hoewel Afrikanernasionalisme stelselmatig afgetakel word, ook in Afrikaanse geskrifte, is daar aanduidings van ’n “soort hernude kulturele nasionalisme”, soos die digter en taalpraktisyn Peter Louw dit noem: die oplewing in die Afrikaanse boek en musiek, die belangstelling “in ons Nederlandse wortels” en die geesdrif waarmee Afrikaanse kunsfeeste bygewoon word, ’n herwaardering van “ons erfenis, dus ook die geskiedenis, sonder die albatros van rassisme wat dit so lank moes dra”.

Die behoefte aan ’n moderne Afrikaanse nasionalisme is in 1999 uitgespreek deur ’n Rapport-joernalis, ZB du Toit, in sy boek Die nuwe toekoms – ’n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling. Hy sien nasionalisme as ’n instrument vir die verwerwing van minderheidsregte. Die boek het gespreksvoering gestimuleer. ’n Lewendige debat het ook ontstaan rondom die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) onder leiding van doktor Dan Roodt. Roodt was een van ’n aantal jong intellektuele wat in die jare tagtig uit die land padgegee het uit protes teen die apartheidsbeleid.