‘n Krisisjaar vir Nederland en Afrikaans

Na 10 jaar
January 8, 2015
Die agteruitgang van die Khoi-Khoin
January 10, 2015

Kort ná die verlies van Noord-Amerika het die stryd tussen Engeland en Nederland verder gegaan. Die Nederlanders het in 1666 en 1667 onder Michiel de Ruyter groot seeslae teen die Engelse gewen, selfs in die Teems opgevaar en verskeie Britse oorlogskepe verwoes. Maar in 1672 is Nederland, en daarmee sy klein kolonie aan die Kaap, met ondergang bedreig. Lodewyk XIV het Frankryk al meer as die vernaamste teenstander vir sy planne in Europa gesien en die republiek probeer isoleer en uitwis. In die geheim is allerlei ooreenkomste bekook.

Terwyl die Nederlandse volk nog gemeen het dat hy veilig is, het Frankryk in 1672 skielik oorlog verklaar. Groot was die skok toe Brittanje en die Duitse biskoppe van Munster en Keulen dit ook doen. Sou Nederland dié oorlog verloor, sou dit as selfstandige nasie moes verdwyn.

Die volk was moedeloos en radeloos. Twee leiers het deur hul kragtige optrede egter verhinder dat Nederland ondergaan: prins Willem III van Oranje en admiraal Michiel de Ruyter. Willem III het die dyke langs die Suidersee oopgesteek en ’n waterlinie tot aan die Ryn gevorm. Daaragter kon hy die leër weer opbou. De Ruyter het daarin geslaag om die Brits-Franse vloot verskeie kere af te weer sodat sy gehawende teenstanders op die ou end die aftog moes blaas. Sowat 900 mense op die Britse skip Royal James het verdrink toe dit ontplof het.

Willem III van Oranje en De Ruyter het Nederland gered  ̶  en daarmee onregstreeks ook die Afrikaanse volk en taal. As die moederland tot ’n val gekom het, sou die kolonie gou die prooi van ’n Britse of Franse vloot geword het. Van Nederlands of ’n ontluikende Afrikaans sou niks oorgebly het indien Nederland die Kaap in 1672 moes afstaan nie. Dit was ’n sukkelende nedersetting, wat in die tien jaar ná 1662 byna nie uitgebrei het nie. So was daar in 1672 net 64 vryburgers en 53 blanke knegte aan die Kaap – darem 39 vroue ook.

Daarby was dit jare van ontbering. Die vryburgers kon nog nie genoeg produseer vir die Kaap nie. Party gesinne was so arm dat die kinders snags op die grond op ’n bietjie strooi moes slaap. Die vee het langsaam meer geword, want wilde diere, veral leeus, het baie doodgebyt. Ten tyde van die oorlog is hard gewerk aan die Kasteel wat op 26 April 1679 amptelik voltooi is.

Die skitterende wyse waarop Nederland hom verdedig het, het daartoe gelei dat Brittanje in 1674 vrede gesluit het. Op 26 Januarie 1678 het nog iets van groot betekenis gebeur. ’n Nederlands-Britse verbond is gesluit. Daarmee het ’n einde gekom aan die oorloë tussen die twee lande. Die vrede en samewerking sou ’n goeie eeu duur voordat dit weer versteur is. Omdat Brittanje die enigste moondheid was wat ’n bedreiging vir die Nederlandse kolonies kon vorm, het die bondgenootskap verseker dat die kolonies heeltemal veilig was. So kon die klein gemeenskap aan die Kaap ongestoord ontwikkel.

Omstreeks 1679 het ’n nuwe groeiperiode vir die Kaap aangebreek. Daarby het daar dinge gebeur wat die Hollandse beskawing kon laat uitbrei.