’n Kort oorsig van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (Deel 2)

’n Kort oorsig van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (Deel 1)
April 9, 2017
Louis Trichardt
April 9, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1961)

Die naam Roodepoort en Vogelstruisfontein is ook bakens in die geskiedenis van die goudontdekking en ontwikkeling aan die Witwatersrand. Hierdie ontdekking het selfs in Kimberley bekend geword, omdat die heer FW Alexander die prospekteerwerk van JG Bantjies by Roodepoort gesien en dit toe in die diamantstad bekend gemaak het. Hierdie publisiteit het kapitaal na die Witwatersrand gebring, terwyl die Kimberleyse kapitaliste sowel in geld as in energie die meeste bygedra het. JG Bantjies is dus een van die persone wie se naam ernstige oorweging geniet het as die ontdekker van die hoofrif aan die Witwatersrand. Daar is egter nog ander aanspraakmakers op die besondere eer wat veral die naam Langlaagte met goue letters in die geskiedenis van die ontdekking van die hoofgoudrif aan die Witwatersrand skrywe. Net soos daar eenstemmigheid bestaan dat die hoofrif op hierdie plaas vir die eerste keer ontdek is, so het daar meningsverskil geheers oor wie dit ontdek het.

Die name van twee boereseuns, Louis Oosthuizen en Koos Ackermann, word veral deur dr. Gustav Preller vir die eer sterk op die voorgrond gestoot. Hy het getuienis van nog lewende persone ingewin wat daarop dui dat die twee jongelinge die hoofrif tussen 24 Februarie en 8 Maart 1886 op Langlaagte ontdek het. Hierdie plaas van 2,260 morg was in vier dele verdeel en het aan die volgende eienaars behoort: AL Breet, JIP Oosthuizen en JH Oosthuizen, CG Oosthuizen en Anna Elizabeth Oosthuizen, weduwee van PC Oosthuizen. Dit is op die plaas van laasgenoemde waar die belangrike vonds gemaak is.

PC Oosthuizen het met sy eggenote, en ’n aangenome kind, Jacobus Johannes Petrus Ackermann, in 1870 op die plaas Klein-Langlaagte kom woon, waar die seun hom hoofsaaklik met die oppas en versorging van die vee besig gehou het. Hy het elke hoekie en plekkie van die omgewing goed geken, waar hy hom verlustig het om met die ronde klippies wat in die rotse vasgesit en soos banketlekkergoed gelyk het, albaster te speel. Die naam banket het op die manier in die goudprospekteerwerk behoue gebly. Later het Louis Oosthuizen, ’n vriend van Ackermann, hom by die familie gevoeg en hierdie twee persone het vroeg in 1886 Struben se goudwerkery op Wilgespruit besoek waar toe reeds opspraakwekkende goudvondste bekend was. Struben het die jongelinge gewys hoe om die rots fyn te stamp en te was en sy blydskap te kenne gegee, omdat meer Afrikaners in goud belang stel. Onderwyl hy hulle alles vertel omtrent die werkery, het hy hulle aangemoedig om ook goud te gaan soek. Struben was spyt dat hy hulle nie ’n vysel, stamper en wasskottel kon gee nie, maar het hulle aangeraai om ’n hol maalklip te gebruik wat daar oral op die bulte te kry was. By hulle tuiskoms die volgende dag het hulle op die bult waar Ackermann voorheen beeste opgepas het, banketklippertjies gaan bymekaar maak, dit gestamp en gewas, maar kon geen goud sien nie. Die volgende dag het hulle egter weer ander rotse afgeslaan en sorgvuldig bewerk. Toe het daar ’n duidelike sigbare streep fyn goud gelê. Breedvoerige berekeninge en bewyse word aangevoer om te konkludeer dat dit aan die end van Februarie en begin Maart 1886 plaasgevind het. As hierdie en vorige datums met mekaar vergelyk word, dan lyk dit of Ackermann en Oosthuizen werklik die hoofrif by Langlaagte die eerste ontdek en ander prospekteerders se aandag daarop gevestig het. Daar is egter geen dokumentêre getuienis wat die name van Koos Ackermann en L Oosthuizen met die ontdekking van goud verbind nie.

Die name van G Walker, G Harrison en G Honeyball, die “drie Sorse”, word ook as die eerste ontdekkers van die hoofrif genoem, want  die feit staan soos ’n paal bo water dat Walker en Harrison die enigste twee goudprospekteerders was wat in 1886 offisieel as goudgrawers op die plaas Langlaagte bekend was. Op 9 Junie 1886 het GC Oosthuizen aan die President en Uitvoerende Raad geskrywe en meegedeel dat hy aan Walker en Harrison verlof gegee het om na goud te prospekteer. Hy wou sy grond as publieke delwery laat verklaar, wat dan ook die 8ste September 1886 plaasgevind het. Die kontrak tussen Oosthuizen, Walker en Harrison is op die 12de April aangegaan en dit is ook vasgestel dat Harrison ’n lisensie vir een maand van 23 Mei tot 23 Junie in Pretoria uitgeneem het. Die Heidelbergse kantoor het definitief bewys gelewer dat sowel Harrison as Walker daar prospekteerlisensies uitgeneem het. G Walker het egter beweer dat hy die hoofrif op ’n Sondagmôre reeds in Februarie 1886 ontdek het. Die name van Walker en Harrison pas dus wel deeglik in die lys van aanspraakmakers wat beweer dat hulle eerste die hoofgoudrif ontdek het. Daar is egter dokumente waarin Walker beweer het dat Fred Struben die belangrike ontdekking gemaak het, terwyl laasgenoemde op sy beurt weer die eer aan Walker toegesê het. Aan die ander kant het Jan Bantjies hardnekkig volgehou dat hy die hoofrif op Roodepoort voor die suksesvolle prospekteerdery op Langlaagte ontdek het. Daar is egter geen skriftelike bewyse nie dat hulle die “Konglomeraat waarop hulle later kontrak-ontdekkers-kleims afgepen het, laat ontleed of vergruis het”. Al hierdie gegewens dui aan hoe die goudgrawers hulle aktiwiteite aan die Witwatersrand toegespits het, terwyl die goudwerkery intussen die stadium van ’n permanente industrie aangeneem en vinnig begin ontwikkel het.

Die man wat die eerste daadwerklik en met beslistheid die goudgrawery aangepak het, was Joseph Benjamin Robinson wat ’n nasaat van ’n setlaar van 1820 was. Op vyftienjarige leeftyd het hy in Waterberg die wapens teen Makapan en Mapela gedra, terwyl hy ook in die Vrystaat teen Moshesh geveg het. Na baie ervarings in verskillende dele van Suid-Afrika het hy op 15 Julie 1886 op Langlaagte aangekom, waar hy die plaas gekoop en dadelik goudgrawery aan die gang gesit het. Toe die winsgewendheid van die gouderts bewys was, het hy in die loop van enkele jare 20,000 morg grond tussen Langlaagte en Randfontein gekoop wat later teen £18,000,000 gewaardeer is. Die optrede van JB Robinson is van besondere belang in die geskiedenis van die goudvelde, omdat sy aankope volkome vertroue in die toekoms van die goudvelde bewys het en in sy pogings om ertsreserwes op te bou die eerste man was wat stelselmatig ondergrondse ontwikkeling op ’n groot en wetenskaplike grondslag ingevoer het.

Iemand wat in die beginjare van die goudontdekking op Langlaagte gewerk het, was die mening toegedaan dat dit verkeerd was om te beweer dat hierdie of daardie individu die hoofrif ontdek het. Verskeie persone het op verskillende plekke aan dieselfde hoofrif gewerk, terwyl J. Robinson die baanbreker was om dit te bewerk, omdat hy ag geslaan het op die verskillende plekke waar goud gevind is. Hy het dit oor lang afstande laat opgrawe en toe eers is die bewys gelewer hoe daar een onafgebroke goudaar bestaan. Deur die ontginning van hierdie rif word ander ontdek en die eerste word naderhand die hoofrif. Dit is ’n billike en gebalanseerde oordeel, want uit die aard van die verskillende prospekteerplekke kan moeilik aan een persoon se aansprake bo die van ’n ander die voorkeur gegee word. Dit is egter met sekerheid vasgestel dat P Marais die eerste goudgrawer in die Witwatersrand-gebied was, terwyl die Oosthuizen- en Ackermann-seuns die vroegste goudvondste aan die hoofrif gemaak het. Hulle prestasie het die aandag op Langlaagte gekonsentreer waar die hoofrif die eerste ontdek en bewerk is, want hier het Walker en Harrison met hulle eerste goudvondste die winsgewendheid van die gouderts aangetoon.

Die Regering het in hierdie ontdekking belang gestel en op 20 September 1886 is die plase Driefontein en Elandsfontein tot publieke delwerye geproklameer, terwyl Doornfontein en Turffontein ’n week later op 27 September aan die beurt gekom het. Die plaas Langlaagte en ’n stuk goewermentsgrond, Randjieslaagte, is op 4 Oktober as delwery oopgestel en op 11 Oktober 1886 die plase Paardekraal, Vogelstruisfontein en Roodepoort. Die volgende dorpe het spoedig op die geproklameerde gebied ontstaan, nl. Johannesburg (Oktober 1886, Roodepoort (Februarie 1887), Booysen en Turffontein (Mei 1887), Boksburg en Germiston (Mei 1887), terwyl Krugersdorp se aanleg in September 1887 dateer. Die uitbreiding van hierdie dorpe is in ’n groot mate bepaal deur die maatskappye wat in gouddelwerye belang gestel het en hulle kapitaalbeleggings gee enigsins ’n aanduiding van die uitbreiding en aktiwiteite aan die Witwatersrand. In 1887 was daar ongeveer 70 maatskappye met ’n kapitaal van £3 miljoen, terwyl daar in 1889 reeds 450 maatskappye met ’n kapitaal van £11 miljoen was. Die maatskappye was daarvoor verantwoordelik dat die goudproduksie 23,125 onse in 1887 bedra het, wat tot 2,280,892 onse met ’n waarde van £7.864,341 in 1896 ontwikkel het.

Hierdie werkerye het die stil plattelandse gebied waar die helder kronkelende waterstrome die natuur nog stiller gemaak het, tot die toneel van ’n woelige lewe van duisende fortuinsoekers gemaak. Hierdie nuwe bevolking het probleme en verpligtinge wat vantevore nog nie in die Suid-Afrikaanse Republiek bekend was nie, meegebring.