’n Kort oorsig van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (Deel 1)

Petrus Bezuidenhout
April 9, 2017
’n Kort oorsig van die ontdekking van goud aan die Witwatersrand (Deel 2)
April 9, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Desember 1960)

Die name Johannesburg, Witwatersrand, of enige van die Randse dorpe, word dadelik met goud geassosieer. Dit is egter nie in hierdie gebied waar goud in Suidelike Afrika die vroegste ontdek is nie, omdat daar aanduidings is dat Oosterlinge in die agtste en negende eeue in Sofala reeds goud gedelf het. Sommige skrywers meen dat Ophir van die Bybel met die goudgrawinge van Sofala en omgewing ooreenkom, terwyl die verhaal van die Koningin van Skeba en die Zimbabwe-ruïnes ook in die verband genoem word. Goud het vanaf die vroegste tye die verbeelding van die mens geprikkel en hom gelok tot onbekende vertes. “… once a man becomes a stampeder after gold, the madness will never leave that man’s blood. Be the rumoured find in the frozen wastes of the Arctic or in the dreadful heat of the tropics; in the waterless desert, the steaming jungle or the dismal, treacherous tropical swamp, the goldstampeder will drop and leave all that he hath, kith and kin and all he holds dear and follow the call.”

In Transvaal is goud omstreeks die jaar 1834 êrens langs die Witwatersrand ontdek toe ’n sekere Karel Kruger in hierdie gebied tydens ’n jagtog toevallig op gouddraende erts waarvan hy monsters na die Kaapkolonie saamgeneem het, afgekom het. Twee jaar daarna maak ’n sekere JGS Bronkhorst wat Louis Trichardt in Soutpansberg besoek het, ook melding van goud wat daar gevind is, omdat die plaaslike mense aan hom ’n myn gewys het waar hulle goud uithaal om ringe van te vervaardig. Daar was ’n myn naby Louis Trichardt in die streek van die Soutpansberg.

Dit was egter eers in die begin van die vyftigerjare van die vorige eeu dat goudsoekers in die Suid-Afrikaanse Republiek prominent op die voorgrond getree het.

In Julie 1852 het ’n sekere John Henry Davis, ’n Engelse mineraloog van Pietermaritzburg, na die “Mariquastreek”, die bekende Marico-distrik, vertrek om na goud te soek, omdat daar etlike jare al gerugte die ronde gedoen het dat daar goud was, en Davis sou die waarheid daarvan toets. Daar is egter nie veel meer bekend omtrent hierdie goudsoeker nie, behalwe dat hy in 1852 goud by Paardekraal aan die Witwatersrand ontdek het.

In 1853 maak PJ Marais, die wêreldswerwer en goudsoeker sy verskyning in Transvaal waar hy sy dienste en ervaring tot die beskikking van die SA Republiek stel en by die Volksraad aansoek doen om toegelaat te word om na goud te soek. Hy het toestemming gekry en ’n rojale beloning is aan hom beloof, maar hy is gewaarsku: “wanneer het mochte gebeuren, dat genoemde heer PJ Marais enig bericht aangaande de toestand der gevonden goudmijnen, of iets daarop betrekking hebbende aan enige buitelandse mogenheid, Regering of biesondere personen bekend stelt, waardoor de vrede of de vrijheid van deze Republiek verstoord of bedreigd zouden kunnen worden, zal sulks zonder verschoning met de dood gestraft worden.” Marais se goudprospekteerdery was nie so suksesvol dat hy die groot belonings kon ontvang nie, maar dit is bekend dat hy goud langs die Witwatersrand, veral in die gebied van die Jukskeirivier gekry het. Dit is moontlik dat hy die Hoofrif van die Witwatersrand destyds al ontdek het. Aan hom kom egter die eer toe dat hy die eerste goud naby die Rand op 8 Oktober 1853 gevind het.

Hoofsaaklik ten gevolge van die streng voorwaarde wat die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek aan PJ Marais gestel het om sy bevindinge omtrent goud geheim te hou en die feit dat aan Thomas Baines toegang tot die Republiek geweier is, het ’n opvatting versprei dat die Regering in Transvaal onsimpatiek teenoor goudprospekteerders gestaan het. Hierdie opvatting berus egter nie op feite nie, want “dit is (dus) vanweë die begeerte om hul binneland teen ongewenste vreemdelinge te beskerm dat die Potchefstroomse Regering geweier het om toestemming aan Baines te verleen om die land binne te kom”. Die getuienis bewys eerder dat die regering in die Oorvaalse die ontginning van edel metale baie goedgesind was en die prospekteerders eerder ondersteun as ontmoedig het.

Daar was nog verskeie ander goudprospekteerders wat op verskillende plekke in Transvaal goud gesoek en gevind het, maar dit was eers in die tagtigerjare, toe in volle erns alle aandag op die Witwatersrand toegespits is. In hierdie tyd was die groot minerale rykdom van Transvaal wat moontlik groter as die van enige ander land in die wêreld was, reeds bekend, want in ’n loodmyn naby Pretoria is die opbrengs op 70% tot 80% gestel, terwyl daar ook van 5% tot 6% silwer gevind is. ’n Mynmaatskappy wat in 1859 in die lewe geroep is om die erts te bewerk, moes die werk weens gebrek aan kapitaal egter staak. Dit was ook die ondervinding van verskeie ander mynmaatskappye wat hulle ten doel gestel het om goud e.a. metale te soek. Die verskillende afsonderlike goudontdekkings in Transvaal moet as ’n aaneenskakeling van gebeurtenisse wat tot die ontdekking van die hoofrif aan die Witwatersrand gelei het, beskou word.

Van aI die plekke naby die Rand waar goud die vroegste in lonende hoeveelhede gekry is, moet die naam van Blaauwbank wat omtrent 43 myl aan die westekant van Johannesburg geleë is, genoem word. Henry Lewis het hier reeds in 1874 goud ontdek. Die “Nil Desperandum Co-operative Quarts Company” wat algemeen aanvaar word as die eerste maatskappy wat tot stand gekom het om goud aan die Witwatersrand by Blaauwbank te bewerk, is in 1875 gevorm. Die goudgrawery het hier ’n paar jaar geduur en verskeie maatskappye is gevorm, om dit te bewerk, maar die hoë verwagting van Blaauwbank is verydel, omdat die gouderts nie winsgewend was nie. Hierdie goudgrawery is van belang, want dit was die eerste sistematiese bewerking van gouderts aan die Witwatersrand en vorm ’n sterk skakel in die reeks prospekteerwerke wat tot die ontdekking van die hoofrif gelei het. Die “Nil Desperandum Co-operative Quarts Company” staan dus in die geskiedenis bekend as die eerste mynmaatskappy wat goud stelselmatig naby die hoofrif aan die Witwatersrand bewerk het. Na Lewis se goudvondste het die prospekteeraktiwiteite van AW Armfield in die Witwatersrand-gebied die Transvalers meer “goudbewus” gemaak.

Die plaas Kromdraai, omtrent 10 myl van Krugersdorp, is ook ’n belangrike skakel in die ontwikkeling van die goudontdekkinge aan die Witwatersrand. Fanie Minnaar, T Lisemore en Jan Bantjies het hier in 1882 en 1883 gewerk en dit het groot opspraak verwek, want daar is vasgestel dat ’n paar honderd delwers ’n bestaan op die delwery kon maak. Die Regering het besluit om hierdie plaas as ’n openbare delwery te proklameer, sodat dit die eerste gepubliseerde proklamasie van ’n goudplaas in die Witwatersrand-gebied was. ’n Maatskappy met ’n kapitaal van £30,000 sou hierdie goudvonds bewerk, maar dit was nie baie suksesvol nie. Die goudprospekteerdery op Kromdraai het as gevolg gehad dat delwerye op aangrensende plase ontstaan het waarvan die belangrikste Vlakfontein, Tweefontein en Wilgerspruit naby Roodepoort ontwikkel het. Die stamper-battery wat in die loop van die winter van 1885 deur die Hammerschlagmaatskappy op Tweefontein opgerig is, was die eerste masjinerie wat naby die Witwatersrand vir die vergruising van gouderts opgerig is en dit het die eerste goud in aansienlike hoeveelheid uit daardie gebied gelewer.

Op Wilgerspruit het J Bantjes aanvoorwerk gedoen, terwyl FPT en HW Struben opspraakwekkende goudvondste gekry het wat in Junie 1885 in Pretoria aan vooraanstaande ingesetenes waaronder die Staatspresident een was, getoon is. Die Strubens het die resultaat van 17 maande se prospekteerwerk openbaar gemaak, wat aangetoon het dat die ryk gouddraende rif reeds in Augustus 1884 ontdek is.

Die verwagtings het baie hoog geloop en die regering het hulp toegesê waardeur die goudgrawery op ’n taamlike groot skaal voortgesit kon word. Dit het egter spoedig teleurstellende resultate gelewer, sodat in 1886 algemeen bekend was dat die “Confidence Reef” nie die hoofrif was nie. Deur hulle onvermoeide prospekteerdery het die broers Struben die grootste individuele bydrae tot die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde gelewer. Bantjies het ook daarop aanspraak gemaak dat hy die hoofrif by Roodepoort getref het. Dit moes teen die einde van Mei en begin Junie 1886 gewees het, derhalwe verklaar sommige van sy tydgenote dat hy die hoofrif die eerste ontdek het. Bantjies het teen die end van 1885 reeds in die omgewing van Roodepoort geprospekteer. Die eienaars van ’n deel van die plaas Roodepoort, JH en HS du Plessis, het aan Douthwaite, Bantjies, Jacobsohn en Kauffman ’n prospekteerderskontrak op 14 November 1885 toegestaan. Die Bantjiesgroep het in daardie omgewing belangrike goudvondste gemaak en die Birdrif het veral baie belowende goudresultate gelewer.