’n Industriële revolusie

Apartheid skep bitterheid
January 25, 2015
Sukses deur vernuwing
January 25, 2015

Die eerste jare van die nuwe bewind is nie net deur apartheid gekenmerk nie. Opvallender was die industriële revolusie waaraan Afrikaners ’n al hoe groter aandeel sou neem. Prins Bernhard van Nederland, wat die land in 1954 besoek het, het verklaar dat die nywerheidsontwikkeling die saak is wat hom die meeste getref het. In “byna geen tyd” het stede soos Welkom en Vanderbijlpark ontstaan.

Welkom was die stad wat in die Vrystaat ontwikkel het ná die ontdekking van gouderts van besonder hoë gehalte in April 1946 op die plaas Geduld in die omgewing van Odendaalsrus. Vanderbijlpark is genoem na die elektrotegniese ingenieur doktor Hendrik van der Bijl van Evkom en Yskor. In 1946 is begin met ’n nuwe staatsaanleg op Vanderbijlpark, drie keer so groot en kapitaaleisend as die oorspronklike Yskor. Later het aanlegte in Newcastle en Secunda gevolg. Van der Bijl het onverpoos gewerk om industriële ontwikkeling aan te help. Van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), wat juis vir dié doel gestig is, was hy die eerste voorsitter.

In dié hoedanigheid is hy opgevolg deur die ingenieur en ekonoom, HJ van Eck, besturende direkteur van die NOK, wat baie kenners beskou as die vader van industriële revolusie in Suid-Afrika. Deur middel van die NOK is private maar ook semi-staatsondernemings soos Sasol, Foskor, Alusaf in Richardsbaai, deels ook Safmarine en talle ander gefinansier. Suid-Afrika was teen die einde van die eeu die mees geïndustrialiseerde nasie in Afrika. Sasol is die Suid-Afrikaanse Olie- en Gaskorporasie, wat in 1950 gestig is om olie uit petrol te vervaardig. Dit het een van die land se belangrikste chemiese bedrywe geword. Rondom hom het ander chemiese bedrywe ontwikkel. Binne tien jaar het die mooi dorp Sasolburg ontstaan wat na slegs enkele jare die derde grootste in die Vrystaat was.

Op die Tweede Ekonomiese Volkskongres (van die FAK, RDB, Ekonomiese Instituut en AHI) in 1950 het doktor Anton Rupert gesê dat Suid-Afrika in die voorafgaande kwarteeu waarskynlik vinniger gevorder het as enige ander land ter wêreld, selfs Rusland en Amerika. In ’n kwarteeu het die nywerheidsproduksie van minder as £100 miljoen per jaar tot £700 miljoen per jaar gestyg.

Die Afrikaner het ’n groot agterstand in die ekonomiese lewe, maar is by uitstek nyweraar. Die staats- en semi-staatsnywerhede het hoofsaaklik onder leiding van Afrikaners gestaan en ook in die private nywerheid het Afrikaners sukses behaal, het Rupert gesê.

Die omset van die landboukoöperasies het vinnig toegeneem; van £29 miljoen in 1940 tot £121 500 000 in 1950 en £297 miljoen in 1958. Daarna was daar ’n daling. Die ledetal het in 1956 op 260 000 gestaan.

Hoewel Afrikaners veral in die staatsondernemings soos Sasol en Foskor ’n reusebydrae sou lewer, het hulle al voor die bewindsverandering van 1948 in die private sektor begin vorder. Ondanks ’n groot agterstand het die Afrikaner se aandeel in die sakelewe van 1939 tot 1950 gegroei van vyf tot elf persent. Die aantal Afrikaanse ondernemings het toegeneem van 3710 tot 13 047.

’n Gevolg van die industralisasie was ook die opname van al hoe meer swart mense in die ekonomie. Die toenemende ekonomiese integrasie was dus in stryd met die voornemens van die voorstanders van apartheid.