’n Groot figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis … Hendrik Potgieter

Geskiedenis van die geweer van ds. Jozua Naudé wat in besit van Laerskool Jozua Naudé is
June 27, 2017
Kommandant Hendrik Johannes Badenhorst
June 27, 2017

(Geskryf deur Joey Lombard, Hoërskool Despatch, soos verskyn in Historia Junior)

Skerpsinnig, rusteloos van aard, vervul met ’n aggressiewe selfstandigheidsdrang, ’n onafhanklikheidsgees wat egter aan die egosentriese gegrens het, stug van aard, ’n man van min woorde, beslis en soms hardkoppig in sy optrede, opvallend van voorkoms, ’n man van oor die ses voet, fors gebou, gespierd, beweeglik en ’n onvergelyklike perderuiter. Dit was Hendrik Potgieter.

10 Desember 1792 het Andries Hendrik Potgieter as tweede seun van Hermanus Potgieter en Petronella Margaretha Krugel in Graaff-Reinet die eerste daglig aanskou. Die jonge Hendrik het geen formele onderwys ontvang nie, maar soos die meeste pionierskinders het sy ouers hom leer lees, skryf en ter voorbereiding vir die aflegging van sy geloofsbelydenis uit die Bybel onderrig.

Hendrik Potgieter was ’n flinke boer en in 1826 besit hy alreeds die plaas Kommandodrif en ook ’n deel van ’n ander leningplaas. Kort voor die Groot Trek besit hy alreeds drie slawe, 400 beeste en 500 skape. Potgieter was, voordat hy self begin trek het, ten volle op hoogte van die voorbereidings en beplannings van die Groot Trek, want hy het verbinding met Louis Trichardt behou en JJ Janse van Rensburg was sy neef. Die grootste rede vir sy trek was, dat hy groot wantroue en agterdog teen die Britse bewind gekoester het en byna ’n blinde drang na vryheid gehad het. Sy trek was ook goed georganiseerd.

Teen die einde van 1835 verlaat Potgieter en sy gesin hul plaas en op pad sluit ander families by hom aan. Toe hulle die Britse jurisdiksie verlaat het, is Potgieter tot kommandant verkies.

’n Groep Colesbergse Trekkers onder Sarel Cilliers sluit by hulle by Boesmanberg aan. 24 Mei 1836 vertrek Potgieter met elf mans vanaf Blouberg aan die Sandrivier om met die Trichardt en Janse van Rensburg trekke in aanraking te kom. Tydens die afwesigheid van Potgieter het die Matabeles groot verliese onder die Trekkers by die Vaalrivier veroorsaak. Die meerderheid van die oorlewendes het by Vegkop, naby Heilbron, laer opgeslaan. Potgieter sluit in September by hulle aan. Oktober 1836 vind die slag van Vegkop alhier plaas. Die Matabeles word deeglik gestraf, alhoewel die Trekkers ook baie skade ly. Vanaf Thaba Nchu stuur Moroka, die Barolonghoof, en James Archbell, die Wesleyaanse sendeling osse en melkkoeie om hulle uit die benarde toestand waarin hulle verkeer het, te help.

Gert Maritz het uit Graaff-Reinet by hulle aangesluit. 2 Desember 1836 word ’n openbare vergadering in die laer van Potgieter gehou en ’n bestuursliggaam van sewe lede word gekies met Maritz as president en regter en Potgieter as laerkommandant. Potgieter het egter nooit enige steun aan ’n demokratiese regering gewy nie en dit het hom baie ongewild by ander Trekkerleiers gemaak.

Na ’n skynbaar suksesvolle strafekspedisie teen Mzilikaze gelei is, ontstaan daar onenigheid tussen Maritz en Potgieter. Die hoofrede vir die spanning tussen die twee leiers het in die onversoenbaarheid van hul persoonlikhede gelê. Potgieter was ’n man van die veld, fisies gehard, ’n grondige kenner van die natuur en van die Bantoe, ervare in die stryd teen hulle, begaaf met leierstalente, maar eng in sy opvattinge, jaloers op sy regte en byna van self agterdogtig teenoor mense soos Maritz. Daarom trek Potgieter in Maart 1837 na waar die huidige Winburg vandag is.

Met die aankoms van Piet Retief word Potgieter nie weer as laerkommandant verkies nie. Potgieter het ’n heldersiendheid ten opsigte van die trekrigting besit. Hy was vasbeslote om nie na Natal te gaan nie omdat die aanwesigheid van Engelse daar vir hom die uitbreiding van die Britse gesag oor dié gebied voor die hand liggend gemaak het. Hy wou noordwaarts – verder as die 25ste Suiderbreedtegraad omdat hy nie onder die gesag van “The Cape of Good Hope Punishment Act” wou val nie. Hy wou ook ’n hawe vry van Britse gesag bekom.

Met die slag van Italeni word Potgieter van lafhartigheid beskuldig en hy trek oor die Drakensberge. Vir dertig beeste koop hy ’n stuk grond tussen die Vet- en Vaalrivier van die opperhoof Makwana.

Junie 1840 gaan Potgieter met ’n geselskap na Delagoabaai om met die Portugese in Lourenço Marques handelsbetrekkinge aan te knoop. 16 Oktober 1840 sluit die Natalse Volksraad met die streek Winburg-Potchefstroom ’n federale unie. Potchefstroom sou die adjunkraad uitmaak terwyl Potgieter die kommandant-generaal in die binneland sou wees. Die adjunkraad is egter geleidelik deur ’n burgerraad vervang.

Met die Britse anneksasie van Natal in7842 verhuis baie van die Trekkers na die Noorde. Potgieter was bang dat hy nie weer tot leier verkies sou word nie en in Junie 1845 verhuis hy na Noord-Oos Transvaal en lê Andries Ohrigstad aan. Daar ontstaan spoedig geskille tussen die Potgieter-groep en JJ Burger en ander uit Natalia. Die Potgieter-groep glo aan Potgieter as hulle kommandant. Potgieter self was gewoond daaraan om gesag te voer, daarby was hy jaloers op sy amp en uiters gevoelig teen enige aantasting daarvan. Die Burgergroep glo egter aan ’n verkose volksraad.

Die getwis word vir Potgieter te veel en ook omdat Ohrigstad in ’n koorsstreek lê, besluit hy om hom by die Soutpansberge te vestig. Hier stig hy 1848 Schoemansdal. Potgieter het hom ook nie vereenselwig met die Sandrivier Konvensie nie en daarom was hy en Pretorius ook vyande, maar by Rustenburg versoen die twee groot Voortrekkerhelde in die openbaar.

Potgieter was vier maal getroud en het sewentien kinders gehad van wie twee by geboorte oorlede is. Sy eerste vrou Elizabeth Helena Botha met wie hy op neëntienjarige ouderdom op Graaff-Reinet in die huwelik getree het, sterf by die geboorte van hul dertiende kind. Op Potchefstroom trou hy met ’n weduwee Van der Merwe wat met die geboorte van hul eerste kind sterf. Uit sy derde huwelik ook op Potchefstroom met weduwee Jacobs word drie kinders gebore. Sy sterf egter met die geboorte van die derde kind. Sy vierde vrou was ’n weduwee Emmenes met wie hy op Schoemansdal getroud is. Sy sterf kort na hul huwelik en hy volg haar spoedig.

16 Desember 1852 het Andries Hendrik Potgieter as ’n groot Voortrekkerleier sy laaste asem te Schoemansdal uitgeblaas. Potgieter bly ’n omstrede figuur in die geskiedenis van die Groot Trek, deur vele bewierook, maar ook deur ander veroordeel. Die waarheid lê waarskynlik tussen hierdie uiterstes. In bewondering word hy groot, gestaal in liggaam en gees deur ’n natuur van uiterstes en in die botsing met die Xhosa. Individualis wat hy was, vind hy samewerking met sy gelykes of meerderes moeilik. Bedeeld met ’n kragtige persoonlikheid en natuurlike leiertalente wat van hom tydens die ontplooiing van die Trek in Transvaal by uitstek die temmer van ’n woeste land maak, val dit hom moeilik om hom aan andere ondergeskik te stel, en wen hy as ’n onverskrokke baanbreker deur sy blote daadkrag die trou en die lojaliteit van baie van sy tydgenote.