’n Gedenknaald ter ere van genl. De Wet

Carl von Brandis
May 3, 2017
Mense en diere oorwin die dors en sand – Die Dorslandtrekkers
May 3, 2017

(Geskryf deur Louis van Zyl, st. IX, Hoërskool Vryburg, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1970)

Op Saterdag, 14 Februarie 1970 is ’n gedenknaald ter ere van generaal Christiaan Rudolf de Wet onthul op die plaas Waterbury in die Vryburg-distrik waar hy tydens die 1914-rebellie gevange geneem is. Die onthullingsrede is deur min. Carel de Wet, kleinseun van genl. De Wet, waargeneem.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het genl. Louis Botha, die destydse Eerste Minister van die Unie, besluit om aktief aan die oorlog deel te neem, omdat die Unie ’n deel van die Britse Ryk was. Botha het op aandrang van die Britse Regering besluit om Duits-Suidwes-Afrika te verower. As gevolg van hierdie besluit van genl. Botha het die 1914-rebellie uitgebreek. Baie mense verkies om dit ’n gewapende protes te noem.

Na die laaste geveg tussen die regeringsmagte en genl. De Wet en sy ondersteuners te Virginia op 16 November 1914, het hy besluit om met net twaalf vrywilligers na Suidwes te trek omdat ’n kommando net ‘n beslommernis sou wees. Sy oogmerk was om wapens te gaan haal. Hierna is hulle genadeloos deur regeringstroepe agtervolg en ses van sy twaalf manne is gevang.

Op 23 November het genl. De Wet helder oordag by Leeudoringstasie verbygejaag en koers gevat in ’n noordelike rigting. By Vleeschkraal in die Wolmaransstadse distrik, het ’n groep rebelle onder kommandant Japie Neser by genl. De Wet aangesluit.

Op 27 November het genl. De Wet vergesel van kmdt. Neser by Devondale, 18 myl benoorde Vryburg, oor die treinspoor getrek en ten weste van Vryburg in die rigting van Marokween gery. By ’n pannetjie in hierdie omgewing is hulle byna vasgekeer terwyl hulle na water gesoek het.

Vierhonderd motors was op hulle spoor en genl. De Wet en sy mense is van sewe-uur die môre tot die middag gedryf deur die regeringstroepe. Tydens die vlug het van die perde flou geword en is sommige rebelle gevange geneem. Eenkeer het genl. De Wet sy manne laat stilhou om die vyand onder die lood te steek, maar moes weer op die vlug slaan.

Daarna is genl. De Wet-hulle deur ’n sanderige wêreld. Die plantegroei was skraal en nêrens was water om die perde en sy manskappe se dors te les nie. Die generaal het later begin om velle van sy lippe af te trek en barste het daarin verskyn. Party rebelle het hulle klere en komberse weggegooi terwyl andere selfs ’n perd in die nek dood gesteek het om hulle dors met die bloed te les. Tot middernag het hulle dors voortgeduur totdat hulle op die plaas Deelfontein van ene Klopper aangekom het. Genl. De Wet se keel was toegeswel en toe hy water drink, het dit by sy neus uitgeloop. Eers na ’n rukkie het dit mev. Klopper geluk om hom met melk te lawe.

Intussen het kmdt. Neser en sy manne wat vroeër van genl. De Wet-hulle afgedwaal het op die plaas Waterbury, ongeveer 100 myl noordwes van Vryburg, aangekom waar hulle water by die sogenoemde “Wonderputte” aangetref het. Dit was drie gate in die vorm van putte in die grond waarin water opgestoot het. Selfs nou nog het die een put ’n standhoudende water – die ander twee het al toegeval.

Die volgende môre vroeg het genl. De Wet-hulle verder noord gery waar hulle kmdt. Neser by die wonderputte aangetref het. Hulle het besluit om hulle perde daar te laat rus en hulleself die geleentheid te gee om die moegheid af te skud. Die volgende môre vroeg, op 1 Desember, moes genl. De Wet en kmdt. Neser tot hulle ontsteltenis uitvind dat hulle omsingel was deur regeringstroepe. Daar is genl. De Wet gevange geneem.