’n Florerende musieklewe

’n Lewenskragtige kultuur
January 26, 2015
Skandale en skeuring
January 26, 2015

Een van die Afrikaanse kultuurvorme wat gestimuleer is deur ’n simpatieke SAUK was die musiek en sang. Die televisie het gesorg dat talle sangers van Afrikaanse liedjies landwyd bekend geraak het. In die laat jare 70 was daar ’n vernuwing in die Afrikaanse liedjies sodat platemaatskappye oormekaar geval het om kontrakte te sluit met sangers soos Laurika Rauch. Ander sangers en liedjieskrywers was Carike Keuzenkamp, Sonja Herholdt, Jannie du Toit, Anton Goosen en Koos du Plessis.

’n Driekwarteeu tevore sou so iets ondenkbaar gewees het. ’n Afrikaanse kunslied-beweging het eers in 1914 begin deur Stephen Eyssen en Charles Nel. Hierdie eerste komponerende Afrikaners het nog nie die tegniese bekwaamheid gehad om ’n behoorlike liedkuns te skep nie, maar hulle het die weg gebaan vir ’n toestand wat in die tweede helfte van die eeu as normaal beskou word, naamlik die moontlikheid om liedere in hul eie taal te sing.

Die musieklewe is ook gestimuleer deur die herlewing van volkspele van omstreeks 1914 af deur die toedoen van ’n jong onderwyser, SH Pellissier van Boshof. Daarmee het weer verband gehou die bestudering van die Afrikaanse Volkslied deur geleerdes soos SPE Boshoff, SJ du Toit, CF Groenewald en later ID du Plessis.

Ook Engelssprekendes het bydraes tot die Afrikaanse liedereskat gelewer. Naas die liedere van ML de Villiers, S le Roux Marais, en ná die Tweede Wêreldoorlog Arnold van Wyk, Hubert du Plessis, Rosa Nepgen, Arthur Wegelin en Dawid Engela het mense soos Blanche Gerstmann, Peter Rorke en John Joubert liedere op Afrikaanse woorde getoonset. Gideon Fagan en Richard Cherry het albei ’n Suite van Suid-Afrikaanse volkswysies gekomponeer, en Arnold van Wyk die suite vir ’n klein orkes Suiderkruis. Die volkswysies was nodig om sy nostalgie, sy heimwee na sy vaderland uit te druk toe hy in Londen, ver van die Suiderkruis, sy musiekstudie voltooi het, skryf Jan Bouws. Hy sê dat Hubert du Plessis se toepassing van “Jan Pierewiet” en “Ek soek na my Dina” in sy Trio vir klavier, viool en tjello verklaar word as ’n uitdrukking van sy verlange na die tyd toe dié danswysies by die onbesorgde pret van Nuwejaar en bruilof gespeel en gesing is. In sy Slamse beelde word Kaaps-Maleise volksliedjies gebruik.

Die dirigent Anton Hartman, van 1937 tot 1977 verbonde aan die SAUK, het baie gedoen om musiek te bevorder. Deur sy toedoen het komponiste soos Arnold van Wyk, Stefans Grové, Hubert du Plessis, Gideon Fagan, Graham Newcater, Peter Klatzow en Hans Roosenschoon opdragte gekry. Hartman was die stukrag agter die skepping van ’n SAUK-simfonieorkes en ’n Juniororkes. Met orkesbesoeke aan skole het duisende leerlinge die eerste keer met lewende orkesmusiek kennis gemaak.

Baie Afrikaners het liefhebbers van klassieke musiek geword en ‘n stad soos Bloemfontein het ’n lewendige musieklewe. Ligte musiek het ook gewild gebly. Een van die suksesvolste uitvoerende kunstenaars was Gé Korsten. Tot sy dood in 1999 het hy 58 albums uitgegee, in baie films gespeel en verskeie operas en operettes vertolk.