’n Epidemie maai onder alle bevolkingsgroepe

Op reis met oom Paul
January 23, 2015
Inspirasie uit Anglo-Boereoorlog
January 24, 2015

’n Ramp het in 1713 al die bevolkingsgroepe aan die Kaap getref. Dit was in ’n tyd dat Europa deur oorloë geteister is en gevaarlike siektes daar versprei het – in party lande die pes, in ander lande die pokke. Teen dié siekte was daar nog geen entstof of geneesmiddel nie. Aan die hof van Lodewyk XIV van Frankryk het twee troonopvolgers kort ná mekaar beswyk, en koningin Maria, die vrou van prins Willem III, koning van Engeland, is ná ’n kort siekbed oorlede. Die pokke was soms straf op skepe, en hele bemannings het partykeer omgekom.

Aan die begin van 1713 was een van die skepe wat Tafelbaai aangedoen het, met pokkekieme besmet. Slawe wat soos gewoonlik die klere van die matrose gewas het, het besmet geraak. Sowat 200 uit die 570 inwoners van die slawelosie is dood. Teen Junie was daar kwalik ’n blanke gesin wat nie een of twee mense aan die dood moes afstaan nie. Toe die planke opraak, is mense sonder doodkiste begrawe. In Kaapstad is ’n kwart van die blankes dood, en ook onder die vryburgers is talle afgemaai. Gebore Kapenaars wat besmet is, is feitlik almal oorlede. Net dié wat in Europa ’n mate van weerstand ontwikkel het, het kans gehad op herstel. As Willem Adriaan van der Stel regtig sou gesê het: “Mag julle afgemaai word deur die pokke” soos in D.J. Opperman se Vergelegen, is sy vloek byna bewaarheid!

Die pokke het nog erger gemaai onder die Khoi-Khoin. Die Khoi-Khoin het soos die Kaaps-gebore wit mense geen immuniteit teen die siekte besit nie. Van die Kaap af het dit onder hulle na die plase versprei en vandaar na die selfstandige stamgroepe, wat hulleself probeer beskerm het deur besmette Khoi-Khoin wat hul krale genader het, te skiet. Volgens een skatting het kwalik tien persent van die Khoi-Khoin in die Suidwes-Kaap die ramp oorleef. Weivelde waar die Khoi-Khoin en die San mekaar se regte betwis het, was ná 1713 in laasgenoemde se besit.

Van die Suidwes-Kaap is die pokke noordwaarts na die Tswana, en toe, teen 1722-24, na die Klein Nama. In 1755 het nog ’n pokke-epidemie aan die Kaap uitgebreek en uitgebrei tot by die Groot Nama in die noorde en waarskynlik tot by die Xhosa in die ooste. In ’n later epidemie is blykbaar meer as die helfte van die Gona (die grootste onafhanklike groep ná die Nama) uitgewis.

Siekte, gedwonge ruilhandel met die blankes en die San, asook die uitwerking van ’n strawwe klimaat, het gelei tot ’n ernstige ekonomiese agteruitgang van die Khoi-Khoin ten noorde en ooste van die kolonie.

Weens die pokke-epidemies was daar min hindernisse van die kant van die Khoi-Khoin terwyl die vryburgers in die agtiende eeu noord- en ooswaarts uitgebrei het.

Vir party Khoi-Khoin wat hul skape en beeste probeer beskerm het teen “Boesman”-rowers, het die trekboere aanvanklik nie na mededingers gelyk nie. Trekboere het dikwels naby Khoi-Khoin-krale gaan woon. Sommige Khoi-Khoin het hul teenwoordigheid aanvaar. Die trekboere het hulle vir vee betaal, teen roof beskerm en hulle toegelaat om hul vee te behou. Sulke Khoi-Khoin was bondgenote van die vryburgers, wat laasgenoemdes se vee en gesinne beskerm en verlore of gesteelde vee teruggebring het selfs in lewensgevaar. Sommige het hulleself weens die intieme verhouding met die koloniste ook “Boere” genoem.