’n Ekonomiese wonderwerk

Afrikanerprotes teen apartheid
January 25, 2015
’n Bloeiende kultuurlewe
January 25, 2015

Die debat oor die bruin mense is verder gevoer deur die Cottesloe-beraad waaraan Afrikaanse en Engelse kerke deelgeneem het. Onder die besluite wat op 14 Desember 1960 gepubliseer is, was daar die standpunt dat daar geen Skriftuurlike gronde is vir ’n verbod op gemengde huwelike nie, en in beginsel geen beswaar teen die regstreekse verteenwoordiging van bruin mense deur bruin mense in die Parlement nie. Dit was een van die sake waarteen Verwoerd so gekant was. Die kerklike besluite het groot opskudding veroorsaak en die sinodes van die Afrikaanse kerke het hulle daarvan gedistansieer – onder meer op grond daarvan, soos een besluit gelui het, dat hulle “die beleid van afsonderlike ontwikkeling aantas en ondermyn”.

Terwyl al die gisting aan die gang was, is ’n lank gekoesterde Afrikanerideaal verwesenlik. Met 850 458 stemme teenoor 775 878 het die kiesers op 5 Oktober 1960 besluit dat die land ’n republiek moet word. Op 15 Oktober het 70 000 mense ’n dankfees, gereël deur die FAK, in die Amfiteater van die Voortrekkermonument bygewoon. Die ou grondwet is in hoofsaak behou, maar die goewerneur-generaal (verteenwoordiger van die Britse koning) is deur ’n staatspresident vervang. Die regering wou hê dat die land lid bly van die Statebond, maar toe dit in 1961 op ’n konferensie van Statebondspremiers bespreek is, was daar soveel teenkanting teen Suid-Afrika se rassebeleid dat Verwoerd ’n aansoek om behoud van lidmaatskap teruggetrek het. Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword, met die Vrystater Charles Robberts Swart as eerste president. Betrekkinge tussen Afrikaners en Engelssprekendes het begin verbeter. Laasgenoemde was toenemend krities teenoor Brittanje weens sy optrede in Afrika.

Ook die Britse geldstelsel het verdwyn. In Februarie 1961 het desimale geld die ponde, sjielings en pennies vervang. Die radio het die publiek help opvoed met die liedjie “Daan Desimaal, die Rand-sent-man”.

Ekonomies het dit ná Sharpeville en republiekwording nie te goed gegaan nie; die land het veel aan kapitaal en mense verloor. Die regering het maatreëls getref wat vertroue herstel en die ekonomie geprikkel het. Die voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, doktor HJ van Eck, het in Maart 1962 gesê dat Suid-Afrika ekonomies vinniger groei as enige ander land. Teen 1965 het Suid-Afrika volgens doktor DG Franzen, visepresident van die Reserwebank, die grootste voorspoedgolf in sy geskiedenis beleef. Die woord “wonderwerk” is dikwels gebruik, ook deur buitelanders. In 1962 het ’n besoekende Amerikaanse professor verklaar dat “the performance of the South African economy was one of the miracles of modern science.” ’n Skouspelagtige teken van die wonderwerk was die aankondiging van die Oranjerivierskema op 23 Maart 1962 deur doktor Verwoerd. Die water sou gaan vir besproeiing, kragopwekking en watervoorsiening aan stede. Die grootste dam, tussen Colesberg en Bethulie, is na Verwoerd genoem (later Gariepdam). Dit is in 1972 geopen. Nog ’n dam is gebou tussen Petrusville en Luckhoff. Die geraamde koste was R450 miljoen, maar dit was honderde miljoene meer.