’n Edele besluit

Krisis oor ’n rewolwerskoot
January 22, 2015
Ekstase en somberheid
January 22, 2015

Van die Bloemfonteinse konferensie in Junie tot in Oktober 1899 het die Britse regering al hoe meer druk op Transvaal uitgeoefen. “Onze Jan” Hofmeyr het die Uitvoerende Raad en die Volksraad in geheime sittings meegedeel dat Transvaal in geval van oorlog nie op die steun van die Kolonialers kon reken nie. Hofmeyr het verklaar dat hy liewer ’n verenigde Suid-Afrika onder Britse as onder republikeinse bestuur verkies.

Maar elke toegewing wat Transvaal gedoen het, is gevolg deur nuwe eise van Britse kant. Transvaal het toegegee oor die stemreg en op 19 Julie 1899 ’n nuwe wet goedgekeur wat die uitlanders sou toelaat om ná vyf jaar die stemreg te kry. Milner het egter geantwoord dit kan nie in die hande van Transvaal gelaat word om aan die uitlanders stemreg te gee of nie! Hy wou dus Transvaal die reg ontsê wat elke staat het, naamlik om oor sy kieskwalifikasies te besluit. ’n Volgende stap om die druk te vergroot, was om Britse troepe na die grense van die republieke te stuur, onder meer na Kimberley.

President Steyn het in die laaste weke voor die oorlog alles gedoen om dit te voorkom. Hy was oortuig dat Milner en Chamberlain oorlog wou hê, maar hy wou sorg dat die skuld daarvoor nie op Afrikaners gepak kon word nie. Op 22 September het hy in die Vrystaatse Volksraad gesê dat die uitlandergriewe net ’n dekmantel is om die republieke, waar die Afrikanergees lewendig gehou word, uit te wis en die Afrikanervolk te vernietig. Hy het verwys na die verbond tussen die republieke en gevra: “Ons broers van oorkant die Vaal word met oorlog bedreig. Het hulle ’n regverdige saak? So ja, wat gaan ons doen? Neutraal verklaar terwyl u broers in ’n worstelstryd is? Kan die een Afrikaner neutraal bly terwyl die ander vir Afrika sterf? […] Of gaan u aan die wêreld sê dat hierdie staat, hoewel klein en swak, sterk genoeg is om trou te wees aan sy erewoord; dat u beskou dat waar een Afrikaner vir die goeie saak stry, daar is die neutraliteit van ’n ander Afrikaner ’n sonde teen die Afrikanerdom. […] Ek het gedoen wat ek kon om die vrede met eer te handhaaf en sal nog alles doen. Ek sê egter nou met ’n vry gewete en openlik voor die volk: Ek verloor liewers die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om dit te behou deur oneer of ontrou. Ek weet wat dit vir twee swakke republieke is om te stry teen die magtigste ryk wat die wêreld ooit geken het, maar ek weet dat indien dit tot oorlog mag kom, ons nie stry vir die stemreg nie, maar vir die bestaan van die Afrikanervolk.”

Die Volksraad het op 27 September besluit dat die Vrystaat “eerlijk en getrouw” sy verpligtinge teenoor Transvaal sou nakom. Aangesien die uitlanderprobleem net gebruik word as voetstuk waarop die “kolossus van Britsche opperheerschappij” oor die hele Suid-Afrika gebou word, en die sametrekking van Britse troepe Transvaal bedreig, moes die President alles in sy vermoë doen om die vrede te bewaar. Indien hy nie slaag nie, was hy gemagtig om alles te doen om die Vrystaat aan sy verpligtinge te laat voldoen. So ’n edele besluit word maar selde in die politiek geneem, skryf die historikus GD Scholtz.