’n Byna blinde skrywer wek leeslus

’n Baanbreker met Afrikaanse boeke
January 23, 2015
Vroeë skryftaalprobleme
January 23, 2015

Een van die skrywers wat aan die begin van die twintigste eeu baie gelees is, is GR von Wielligh (1859–1932). Sy boeke is telkens herdruk, en hy het baie mense lus gemaak om te lees. Meer as 100 000 eksemplare is van sy boeke versprei. Hy het die Khoisan aan die Afrikaanse leser bekend gestel en was in dié opsig ’n baanbreker. Na aanleiding van die subtitel van sy boek Eerste skrywers, wat handel oor die GRA-taalbeweging, kan ’n mens hom “die laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners” noem. PC Schoonees skryf dat Von Wielligh feitlik die enigste voorstander van die vooroorlogse taalbeweging was wat ook ná die oorlog aktief opgetree het.

’n Groot deel van sy werk het hy geskryf ná ’n ernstige ongeluk wat hom kort ná die oorlog oorgekom het. Hy is in 1903 na Delagoabaai (tans Maputo) om sterrekundige instrumente van die ou Transvaalse regering te gaan haal. Daar het iemand op ’n karnaval kalk in sy oë gegooi. Ná mediese behandeling het hy slegs in sy regteroog ’n kwart van sy natuurlike gesig teruggekry. Hy kon daarna net lees met ’n sterk bril en ’n dubbele vergrootglas – sy neus byna op die papier, en selfs dan kon hy maar so vyf, ses letters gelyk sien. Sy werk moes hy opgee, maar ’n rustelose werkywer het hom aangespoor om te skryf tot sy dood op 9 Augustus 1932.

Voor die oorlog was hy vanaf 1884 landmeter-generaal in Transvaal. Hy het die Departement opgebou tot een van die bes georganiseerde departemente in Suid-Afrika. In die oorlog was hy kommissaris oor die Britse krygsgevangenes op Waterval-Noord.

Hy het reeds vroeg begin skryf. As sewentienjarige het hy aangesluit by die GRA en was een van die getrouste medewerkers van Ons Klyntji en Ons Taal, ook van die Patriot. Hy het die wapen van die Genootskap geteken wat van 1876 tot 1891 in die Patriot voorgekom het, maar het hom toe onttrek toe dié blad ’n onnasionale koers ingeslaan het. Die wapen bevat onder meer die woorde “Verenigde Suid Afrika” en “Ver Moedertaal en Vaderland”.

Ná die ramp met sy oë het hy verskeie boeke geskryf: sy eerste Dire storiis het in 1907 in die Paarl verskyn, wat tussen 1917 en 1921 uitgebrei is tot vier dele. Verder was daar Jakob Platjie: Egte karaktersketse uit die volkslewe van Hotnots, Korannas en Boesmans (1918), Eerste Skrywers (1918), Boesman-stories I-IV (1919-1921), Langs die Lebombo (1923), Baanbrekerswerk (1925), Ons geselstaal (1925). Mens kan sy taalkundige beskouings in laasgenoemde boek kritiseer, maar van die volkstaal het hy ’n baie goeie kennis gehad.

Op sy reise as landmeter het hy ’n onuitputlike skat van tipies Afrikaanse uitdrukkings, maar ook gegewens oor volksgewoontes, die taal, oor die swart bevolking en plante en diere versamel. “Ek skryf van sonuit tot sononder en neem behalwe Sondags geen dag vakansie nie. Klaar met eet, stoot ek my stoel terug en is dadelik aan die pen – dag na dag. Dit gee my plesier en ek arbeid met lus – ’n werk van liefde, ’n present aan ons volk”.

Von Wielligh was getroud met ’n dogter van JS de Villiers, Jan Orrelis, ’n vroeë Afrikaanse komponis van kerklike en nasionale musiek.