3 AUGUSTUS
August 3, 2015
Die verhaal van Bennie Liebenberg
August 3, 2015

Soos verskyn in Junior Historia

Andries Pretorius 2 klein

Andries Pretorius

Op ons voorblad verskyn die foto’s van die standbeelde van ’n vader en sy seun wat albei ’n belangrike rol in ons geskiedenis gespeel het, veral in die Transvaal. Op die voorgrond staan president Marthinus Wessel Pretorius en verder na agter toe sit sy vader, generaal Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius op sy perd. Hierdie twee standbeelde is te sien voor die stadsaal van Pretoria. Albei is bekende persone in ons Transvaalse geskiedenis. Daarom is hulle standbeelde in die hoofstad van die Transvaal opgerig. Maar hulle behoort nie slegs aan die Transvaal nie. Hulle het ver buite die grense van die Transvaal beweeg en daarom word hulle vandag deur die volk van die hele Suid-Afrika geëer. Dit is werklik iets besonders dat ’n vader en sy seun sulke belangrike persone sou word. Dit is die enigste geval wat ons geskiedenis tot dusver opgelewer het.

Generaal AWJ Pretorius sal altyd in ons geskiedenis onthou word as die held van Bloedrivier. Dit is hy wat die Trekkers in Natal in hulle haglike toestand te hulp gesnel, die leiding op hom geneem en die mag van die gevreesde Dingaan op 16 Desember 1838 vernietig het. Daarna het hy sy uiterste gedoen om die verspreide Trekkers in die Vrystaat, Transvaal en Natal te verenig. Toe sy planne verydel is deur die anneksasie van Natal deur Engeland, het hy na die Transvaal verhuis en daarna weer probeer om die Transvaal en die Vrystaat bymekaar te hou. Toe hierdie poging ook misluk weens die anneksasie van die Vrystaat, het hy eindelik daarin geslaag om die onafhanklikheid van die Transvaal te verseker by die Sandrivier-konvensie in Januarie 1852. In ’n beleefde brief aan koningin Victoria het hy egter nog die hoop uitgespreek dat die Voortrekkers weer eendag al hulle grond sou terugkry. Op 23 Julie 1853 is hy oorlede en op sy plaas, Grootplaats, begrawe. Later is sy stoflike oorskot na Pretoria oorgebring en daar op 13 Mei 1891 herbegrawe.

MW Pretorius

MW Pretorius

MW Pretorius is in sy vader se plek gekies as kommandant-generaal. In sy strewe om al die Trekkers te verenig, was hy ’n waardige seun van sy vader. In die Transvaal was daar verskillende groepe wat nie al te goed met mekaar saamgewerk het nie. Om meer eensgesindheid te kry, het MW Pretorius hom daarvoor beywer om vir die Transvaal ’n grondwet te kry. Ten spyte van baie moeilikhede en teenstand het hy eindelik daarin geslaag om sy ideaal te verwesenlik. Sy grondwet is goedgekeur en op Woensdag 4 April 1860 het die volksraad van die verenigde Suid-Afrikaanse Republiek (die Transvaal) op Pretoria vergader. Aan hom het die eer te beurt geval om as die eerste President van die SA Republiek verkies te word. Die dorp Pretoria wat voortaan die hoofstad van die SA Republiek sou wees, is hoofsaaklik deur sy toedoen in November 1855 gestig. Hy het dus nie alleen gesorg vir ’n grondwet vir die SA Republiek nie, maar ook vir ’n hoofstad vir die nuwe staat.

Intussen het hy die Vrystaat wat al reeds van 1854 af ’n republiek was, ook nie vergeet nie. Hy wou die twee republieke verenig sien. As voorbereiding hiervoor het hy hom vir die presidentskap in die Vrystaat verkiesbaar gestel en is hy met ’n oorweldigende meerderheid verkies. In Januarie 1860 het hy dus president van albei republieke geword. Hy is die enigste man wat dit ooit sover gebring het. Daar was egter soveel moeilikhede dat hy as president van die SA Republiek bedank en in Bloemfontein gaan woon het. Drie jaar later is hy weer terug na die Transvaal waar die onenighede na sy vertrek weer opgevlam het. Weer word hy president van die SA Republiek tot 1872, toe hy na die Keate-uitspraak oor die diamantgronde bedank het. Daarna het hy tydens die moeilike jare na die anneksasie van die Transvaal wat uitgeloop het op die Eerste Vryheidsoorlog (1880–1881) nog weer ’n belangrike aandeel in die verloop van sake gehad het. Op 19 Mei 1901 is hy op Potchefstroom oorlede en daar begrawe.