’n Baanbreker met Afrikaanse boeke

Einde van die Hollandse immigrasie
January 23, 2015
’n Byna blinde skrywer wek leeslus
January 23, 2015

Totius se gedigte is gedruk by ’n drukkery wat so ’n baanbreker was as DF du Toit & Co voor 1900. Hendrik de Graaf, ’n gebore Nederlander, wat vrywilliger in die oorlog was, is by Elandslaagte gevang en na St. Helena gestuur. Sy oorlogsdagboek is ’n belangrike bron van inligting oor die krygsgevangene-kampe. Voor die oorlog was De Graaf aan die staatsdrukkery verbonde, en het ná sy terugkeer in diens van De Volksstem getree. In 1904 het hy saam met BP Landa, ook ’n oudkrygsgevangene, ’n drukkery op Potchefstroom begin. Generaal Smuts het nog daardie jaar opdrag gegee dat De Graaf gehelp word uit die fondse wat doktor Leyds uit Nederland na Suid-Afrika gestuur het, en daarmee het De Graaf begin met Het Westen (eerste nommer 18 November 1904). Die koerant is in ’n arm gemeenskap versprei en het met moeite oorleef. In 1908 het die blad gekla dat party intekenaars al drie jaar se intekengeld skuld. Hulle het wel die reg gekry om die intekengeld of ’n deel daarvan te betaal met eiers, pluimvee, mielies, veevoer of aartappels teen markpryse!

Toe die teologiese skool van Burgersdorp na Potchefstroom verskuif, het De Graaf bevriend geraak met leidende figure van dié Kerk, soos professors J Lion Cachet, J Kamp en Totius. In 1907 het De Graaf boeke begin uitgee, onder meer verskeie drukke van Sewe duiwels en wat hulle gedoen het van “Ou Oom Jan”, skuilnaam van Cachet. Van die 33 Afrikaanse poësie- en prosawerke wat tussen 1907 en 1915 verskyn het, het “Het Westen”-Drukkerij sewentien uitgegee. Die res was van sewe ander uitgewers. Die uitgawes was betreklik goed versorg, is goed geadverteer en is teen betreklik lae pryse verkoop. ’n Tyd lank het die uitgewery Hollandse en Afrikaanse boeke op stasies verkoop.

Al was hierdie “eerstelinge van onse litteratuur” geen groot kunswerke nie, het hulle die houding teenoor Afrikaans as skryftaal laat verander. De Waal het in 1910 gesê dat waar opgevoede jong mense vóór 1906 feitlik alle briewe in Engels geskryf het, ’n menigte jongmense dit al “in ongekunstelde Afrikaans” doen. “Hulle het ontwaak tot die besef van die verdienstelikheid van hul eie omgangstaal, en, nietteenstaande dat hulle gin Afrikaans op skool geleer het nie, val dit hulle gemakkelik.”

NP van Wyk Louw het vertel dat sy dorpsonderwyser uit radeloosheid die Bloemen uit de Nederlandsche tuin toegeklap en gesê het dat hy vir hulle ’n “ander soort versie” gaan lees. Dit was “Die Vlakte” van Jan Celliers. “Ons het nie eens geweet daar bestaan so iets soos Afrikaans nie, en wat ons toe gehoor het, was vir ons die oopgaan van ’n nuwe wêreld.” Louw meen dat dié ouer digters meer gedoen het vir die opwekking van die Afrikaanse volk tot nasionale trots en bewussyn as enige politikus. Die digters het ’n nuwe lewe vir die Afrikaner moontlik gemaak nadat die oorlog en die vernedering van die verlore vryheid dit laat lyk het of die Afrikaner as volk moet verdwyn. So ’n digtersgestalte waarin die ontwikkeling van ’n volk hom uitgedruk het, besit ’n “seker duister onsterflikheid wat nog iets anders is as die ‘onsterflikheid’ van die groot kuns”.