Mostertsdrift, Jonkershoekweg (Geen toegang)

Outydse Kaapse huisklok (Geen toegang)
Desember 14, 2017
Old Nectar, Jonkershoek (Geen toegang)
Desember 14, 2017

Langs die ou Meulsloot loop Van Riebeeckstraat op en waar dit bo in Stellenbosch effens links swaai om in Jonkershoekweg te verander, lê daar aan die linkerkant agter ’n hoë wit plaasmuur en onder reuse eikebome die pragtige opstal van die bekende plaas Mostertsdrift.

Mostertsdrift die stamplaas van die Mostertfamilie in Suid-Afrika, is ook een van die plase wat as’t ware ouer is as die dorp Stellenbosch. Johannes (Jan) Cornelisz Mostert het saam met sy vrou, Alida van Hulst, rondom die jaar 1672 na die Kaap gekom. Kort voor Simon van der Stel se aankoms is aan hom en Pieter Visagie toestemming verleen om die plaas Buffelscop “aen d’ooste sijde van d’ Tijgerberg” te bebou. Die grond is egter slegs in lening aan hulle toegeken en toe Simon van der Stel in November 1679 aankondig dat daar vir elkeen wat hom langs die oewers van die Eersterivier wou vestig, ’n eiendomsplaas beskikbaar was, het Jan Mostert hiervan gebruik gemaak. Hy het vir hom die mooi stuk grond aan die noordoewer van die Eersterivier, waar die woonbuurt Mostertsdrift vandag geleë is, uitgekies. Teen die einde van 1684 word hy reeds as een van die heemrade van Stellenbosch benoem en hy dien af en aan in hierdie hoedanigheid tot 1690. Sy eerste vrou is 1687 oorlede, maar hy is weer getroud en aan die begin van die jare negentig was daar reeds nege kinders.

Op materiële gebied het dit blykbaar minder goed met Jan Mostert gegaan. Die bekende vaandrig, Isaq Schrijvet wat in die jare tagtig twee ekspedisies na die binneland gelei het, het intussen in besit gekom van die aangrensende plaas, Schoongezicht, tans Lanzerac, en hy het ’n verband op Mostertsdrift gekry. Om die verband af te los, moes Mostert dus in 1691 sy plaas, Mostertsdrift, wat toe 40 ha beslaan het, aan Schrijver oordra.

Na die dood van Schrijver het sy tweede vrou, Anni Hoeks, die twee plase geërf. Sy was ’n merkwaardige vrou en deur aankoop het sy daarin geslaag om in besit van ses plase, d.w.s. byna die ganse Jonkershoekvallei, te kom, Gedurende die 18de eeu het die ses plase van die een erfgenaam na die ander oorgegaan totdat die twee plase Schoongezicht en Mostertsdrift in 1790 in besit van Coenraad Johannes Albertyn gekom het. In 1808 word twee plase weer aan Coenraad Johannes Fick verkoop. Hy was ’n ondernemende boer en dit word algemeen aanvaar dat hy die pragtige huis met buitegeboue op Schoongezicht (Lanzerac) gebou het. In 1818 het Fick Mostertsdrift aan Johannes Gerhardus Delport verkoop.

Die vraag ontstaan al dadelik: Wie het die groot T-vormige huis met sy buitengewoon lang fasade, die groot wynkelder, die perdestal, Kleurlinghuisies en varkhokke gebou? Op die voorgewel van die huis met sy reguit sye en ongetooide pediment pryk die jaartal 1820 en op die byna identiese gewel van die wynkelder die jaartal 1848. Die oorspronklike eienaar, Jan Mostert, as gesiene inwoner van Stellenbosch, het seker hier ’n eenvoudige huisie gehad, maar die jaartal 1820 val binne die tydperk toe Mostertsdrift in besit van Delport was.

Hoe dit ook al sy, Mostertsdrift se opstal, geleë tussen skaduryke eikebome en omring deur ’n hoë muur, is nie slegs ’n ouwêreldse deeltjie van die Eikestad nie, maar ’n mooi voorbeeld van ’n outydse, aristokratiese Bolandse plaaskompleks.

(Geproklameer 1968)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 80-81.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui