Morkel-huis, Van Ryneveldstraat (Geen toegang)

Dorpstraat, Stellenbosch
December 14, 2017
Die Braak en omliggende geboue
December 14, 2017

Morkel-huis, die tweede laaste huis aan die oostekant voordat Van Ryneveldstraat in Dorpstraat loop, bevat een van die alleroudste dateerbare bouwerke in Suid-Afrika en is daarom histories en argitektonies van baie groot belang.

In die jare 1693 en ’94 is aan landdros Cornelis Linnes hier ’n groot erf toegeken wat ruim die helfte van die huidige blok beslaan het. Op die noordoostelike hoek van sy grond, teenoor die huidige Moederkerk, het hy sy woonhuis gebou en omdat hy ’n wingerd in die nabyheid gehad het, het hy ’n wynkelder op die teenoorliggende suidwestelike hoek, waar die Morkel-huis nou staan, opgerig. In 1703 het die hele eiendom met woonhuis en kelder in besit van Hans Couterman gekom. Hy het dit op sy beurt in 1710 verkoop aan Jan Botma wat geboer het op die plaas Welgevallen tans aan Bird straat.

Jan Botma was ’n welvarende boer met sy eie huis en kelder op Welgevallen en nadat hy die eerste oes van die “dorpswingerd” hier bo in Stellenbosch gepars het, het hy dit verkoop. Die “wynhuis of pershuis” het hy gratis ter beskikking gestel van die gemeente wie se kerk tydens die groot vuur in 1710 verwoes is. In hierdie “onnosel pershuis” het die gemeente ruim elf jaar lank alle dienste gehou sodat hulle later daarvan begin praat het as “de kerk”.

In Julie 1719 is Botma oorlede en sy weduwee het die wynkelder, “de kerk, daar thans in gepredikt wordt”, teen die geringe bedrag van 600 gulde (ongeveer R80) aan die gemeente verkoop. Tien jaar later en nadat die gemeente sy nuwe kerk voltooi het, het die kerkraad “de oude kerk” vir 250 Kaapse gulde aan Philip Morkel verkoop. In 1734 het die sogenaamde Kolonie van Stellenbosch, d.w.s. die landdros en heemrade, weer die eiendom van Morkel gekoop as ampswoning vir die bode of balju van die hof. Tot 1830 het dit die “huis van die bode” gebly toe dit die private besit van mnr. J.A. Mader geword het. Rondom 1890 word dit die eiendom van D.C. Morkel en dit het tot onlangs in besit van sy familie gebly.

Nadat die Kolonie van Stellenbosch die wynkelder in 1734 aangekoop het, moes dit vanselfsprekend as huis vir die bode bewoonbaar gemaak word. Dit is waarskynlik teen die middel van daardie eeu gedoen. Die ou kelder wat in 1693/94 gebou is, is onveranderd geïnkorporeer in ’n tipiese, groot U-vormige Kaapse gewelhuis met ’n hoë voorstoep van Robbeneilandse leiklip. Onlangse navorsing deur dr. Andre Hugo het aan die lig gebring dat die ou kelder “nog altyd in sy geheel in die woonhuis staan as een langwerpige vierkant met dik mure en met ’n groot dubbele kelderdeur aan die oostekant, weg van die straat af”. In die 19de eeu moes die huis aanmerklike veranderings ondergaan het. Die dekoratiewe voorgewel is deur ’n eenvoudige spitsgewel vervang, terwyl in die plek van die outydse voordeur twee voordeure gekom het. Desnieteenstaande het die ou huis sy waardigheid behou. Die binnenshuise houtwerk is van die allerbeste en die kombuis in al sy onderdele is ’n merkwaardige voorbeeld van ’n agtiende-eeuse kombuis.

Om hierdie unieke historiese en argitektoniese ou woning van sloping te vrywaar, het Historiese Huise van Suid-Afrika Bpk. dit dan ook in 1968 aangekoop en gerestoureer.

(Geproklameer 1968)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 69-70.