Klein Pieter
July 27, 2015
Bezuidenhout-broers
July 27, 2015

deur JD Kestell.

Twee uur ná die moord op Piet Retief het ’n groot aantal Zoeloes die stat van Dingane verlaat en in die rigting van Natal gespoed.

Die Voortrekkers het in groot getalle op die oewers van Bloukrans, tussen die Tugela- en Boesmansrivier, op Retief se terugkeer gewag. Dit is ’n mooi omgewing. Aan beide kante van die rivier golf die berge sag en mals totdat hulle in die verte teen die blou lug ’n mooi gesigseinder vorm. Daar is niks groots in die natuur hier nie, niks wat eintlik indrukwekkend is nie. Alles is strelend en groen, soos dit oral in Natal is. Die kante van die heuwels is met groen gras oordek en langs die klein spruite wat na die Bloukransafstroom, staan doringbome wat in die drukkende somerhitte ’n verkwikkende skaduwee vir mens en dier gee.

Oral op die oewers van die rivier en die spruite is die klein kampeerplekke van die Voortrekkers ingerig. Die waens is sorgeloos naby mekaar getrek, maar nie met die doel om mekaar te beskerm nie. Niemand dink daaraan om laer te trek nie. Tente van seil of van vel is hier en daar tussen die waens  opgeslaan. Die jukke staan teen die disselboom gestapel en die stroppe is weggeneem en sorgvuldig gebêre, sodat die honde dit nie kan eet nie. Daar is geen teken van vrees of onrus nie. Alles toon dat die mense hulle daar veilig ag. En het hulle nie rede daartoe nie? Is Retief dan nie juis na Dingane toe om vir Natal te betaal met die geroofde vee wat hy van Sekonyela teruggevat het nie? En sal elkeen nie binnekort kan begin uitsien na ’n eie plaas waar hy hom sal kan vestig nie?

Daar is geen rede om angstig te wees noudat die Voortrekkers hul land Kanaän in besit het nie.

Alles is rustig, so rustig!

Hier en daar brand ’n doringhoutvuur. Die vroue en dogters van die manne wat saam met Retief is, of van die ander wat elande jag, is besig om die aandete gereed te maak. Kalmte heers en allerhande klanke styg in die stil lug op. Daar klink die stem van die kleintjies op die oewer van die rivier, terwyl hulle klippies en stokke in die stroom gooi. En al is dit nog warm, demp dit nie die silwer lag van die vrolike meisie en die vriendelike grappies van twee of drie vriende wat voor die tente en waens sit, wat al lang skaduwees begin werp nie.

Só was dit in die laat namiddag van 16 Februarie 1838.

Vroeg die oggend van die volgende dag, lank voordat die dag begin breek, kon gestaltes in die donker gesien word wat met assegaaie en skildvelle bewapen oor die heuwels na Bloukrans afdaal. Hulle nader die tente en waens van die Voortrekkers wat die verste van die stroom af staan. Dis die kampeerplek van die Liebenbergs. As dit nie vir die geblaf van die honde was nie, sou almal vas bly slaap het. Vinnig kom die gestaltes nader. Hulle word meer en meer …  Meteens, sonder dat iemand daarop voorbedag is, val hulle die weerlose vroue en kinders aan. Baie is so in hul slaap vermoor. Maar daar was tog ’n mate van verset in een van die eerste aanvalle. Vier jongmans spring met gewere in die hand uit om die Zoeloes terug te slaan, maar tevergeefs. Die oormag oorrompel hulle en hulle word saam met hul bejaarde ma vermoor.

Daarvandaan hardloop die Zoeloes langs die rivier op, want deur hul spioene was hulle goed op die hoogte met die ligging van die klein groepies Voortrekkers. Hulle kom by ’n ander kampeerplek en vermoor daar ’n pa en ma met vier kinders.

So gaan hulle van die een klompie na die ander. Die eerste wat gehoor word, is honde wat begin blaf. ’n Man staan versigtig op om te sien wat dit is en vas te stel of dit nie ’n wilde dier is waarmee die honde te doen het nie. Hy sien Zoeloes en meteens is sy wa deur hulle omring – hy en sy gesin word vermoor.

Die dapperheid van die manne wat daar was, het niks gehelp nie. Die groot oormag van die Zoeloes het alle teenstand vertrap. Bowendien was alles so onverwags! Die dood, die gewisse dood, het op elkeen gewag – man, vrou en kind. Niks wat leef het ontkom nie. Selfs die honde en die pluimvee is van kant gemaak.

Toe die dag breek, kon die mense beter sien hoe om hulle te verdedig. Daar was wel sommiges wat ontkom het en na die ander kampies kon vlug. Onder hulle was Daniël Bezuidenhout. Hy het vir die boonste mense gaan sê dat die geweerskote wat hulle gehoor het, nie vreugdeskote van Retief was soos hulle gedink het nie, maar die wanhopige geskiet van manne wat tevergeefs teen ’n helse aanval van Zoeloes probeer het om hul vroue en kinders te verdedig.

En nou kon in die daglig beter te werk gegaan word. Die Zoeloes kom ook nou agter dat hulle nie net na willekeur met die slagting kan voortgaan nie. Die Voortrekkers verdedig hulle onverskrokke en die vroue help deur hulle te bemoedig en ammunisie aan te dra. Die Zoeloes word deur ’n klompie Voortrekkers aan die Boesmansrivier teruggedryf en hulle vlug uiteindelik na ’n hele dag se vegtery. Baie van hulle is ook in die vol rivier ingejaag, waar hulle verdrink het.

Moordspruit

Dit was ’n verskriklike skouspel vir die oorgeblewenes wat nou van plek tot plek moes gaan om die dooies te begrawe. Dit was ’n gesig wat hulle nog nooit aanskou het nie, selfs nie in die verwoestende Xhosa-oorloë waaraan hulle in die Kaapkolonie deelgeneem het nie. Die goed het oral op die oewers van die rivier en die spruit rondgestrooi gelê. Die komberse en kussings was oopgeskeur en die grond was wit van die vere.

Onderwyl die Voortrekkers besig was om die dooies te begrawe, het die Zoeloes tyd gehad om te vlug.  Toe Maritz hulle die volgende dag met 50 man agtervolg, was hulle al oor die Tugela en moes hy maar  terugkeer. Die Voortrekkers se besittings het ook groot skade gely. Die armoede het ook nou met sy maer vinger begin dreig. In 1892 het die skrywer die toneel van hierdie bloedbad besoek. Oral op die oewers van die strome was grafte van Voortrekkers. Op die plek waar die grootste slagting plaasgevind het, was ’n hoë hoop klippe, ongeveer ses by ses meter. Om en by 25 tree daarvandaan was ’n ronde ry klippe; die oorblyfsels van ’n ou Zoeloekraal.

Toe die Voortrekkers die honderde vermoordes in die groot vlak grafte weglê, was hulle dankbaar om die klippe so naby te kry. Hulle het die klippe, vroeër deur die Zoeloes aangedra, nou as gedenkteken op die graf van die Voortrekkers gelê. Ongeveer 150 tree hiervandaan was nog ’n hoop klippe van omtrent dieselfde grootte. Hierdie was ook die graf van tientalle manne, vroue en kinders.