Marthinus Theunis Steyn
April 10, 2017
Piet Retief
April 10, 2017

(Geskryf deur Marthie Winnertz, Hoërskool Piet Potgieter, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1967)

1854 – Jaar van tragedie! Jaar van geweld

Einde September – begin Oktober 1854.

In September-Oktober 1854 is verskillende jagpartye in die omgewing van Moorddrift uitgemoor deur die barbare. Die hooffigure onder die vermoordes was seker Hermanus Potgieter, die seun van Andries Hendrik Potgieter, die Voortrekkerleier en die broer van

kommandant-generaal Piet Potgieter. In die omgewing is altesaam agt-en-twintig persone vermoor waaronder Albertus Venter, Willem Prinsloo en Jan Olivier was.

Die jagpartye was waarskynlik op soek na ivoor in die Waterberge soos dit later beter sal blyk.

Albertus Venter en sy broer was ook op soek na ivoor en so het dit dan gekom dat hulle Makapaan gaan besoek het, blykbaar om uit te vind waar hulle ivoor sou vind. Hulle was onbewus van die dreigende gevaar wat daar nog vir hulle voorgelê het. Makapaan was die hoofman van die Batlous wat sameraapsels van Zoeloe-, Baralong- en Basoetoebloed was. Die groep het swaar gely onder die Matebeles. Makapaan het Albertus Venter en sy broer laat vermoor, maar die haat wat teen die blankes gekoester was, se oorsprong is onbekend, hoewel daar gissings gemaak is. Dié moord op die twee Venter-broers het by Pruizen (Makapaanstad) afgespeel; dit is ten suide van Mapela se stat.

Dieselfde dag het daar ook twee waens vanaf Schoemansdal, op pad na Zwartruggens toe in die Rustenburgse distrik, deur Makapaanspoort gekom. Die jagparty het uit twaalf blankes bestaan, waarvan ses kindertjies was. Die geselskap het op die walle van die Nyl, onder die groot kameeldoringbome uitgespan. Terwyl die osse rustig op die walle van die Nyl gewei het, het die volwassenes in die koelte gesit en gesels en die kindertjies het rustig gespeel. Almal was onbewus van die dreigende onheil wat besig was om die jagparty saam te trek. Die barbare het Willem Prinsloo, sy eggenote en drie kindertjies, Jan Breed, sý eggenote en drie kindertjies, Lourens Bronkhorst en Philippus du Preez daar op die walle van die Nylrivier vermoor. Die kindertjies se koppies is teen die groot kameeldoringbome se stamme verbrysel. Die plek staan vandag bekend as Moorddrift.

Dieselfde dag waarop die voorafgaande tonele plaasgevind het, het daar by Mapela se stat net so ’n afgryslike toneel plaasgevind.

Hermanus Potgieter was op pad terug van ’n jagtog in Koedoesrand so ongeveer sewentig tot tagtig myl noordwes van die Waterberge. Sy bestemming was blykbaar in die suide êrens naby die Waterberge. Soos die noodlot dit wou hê, moes sy jagparty ook deur Makapaanspoort gaan, waar Willem Prinsloo se geselskap se waspore nog vars was. Hermanus se geselskap wat uit veertien bestaan het, was sy twee seuns, sy drie skoonseuns en etlike vroue en kinders.

Die geselskap het naby Mapela se stat verbygetrek en so het dit dan gekom dat Hermanus besluit het om Mapela te besoek. Mapela was ’n hoofstat van ’n Zoeloestam bekend as “Swart Amandebele” of as “Ba-Langa ba Mapela”.

Hermanus het blykbaar op ’n vriendskaplike voet met die opperhoof, Magopane, verkeer. Oudergewoonte het Hermanus eers ’n geskenk – ’n pragtige pak klere – aan Magopane gestuur. Magopane het weer op sy beurt ’n geskenk – ’n baie groot olifanttand – aan Hermanus gestuur. Die tand was baie swaar en die draers het gou moeg geword. Hermanus wat dit vanaf die laer aanskou het, het besluit dat hy en sy twee seuns hand moes gaan bysit. Hermanus en sy een seun is by die tand ’n aantal moordende houe oor die kop toegedien, hoewel daar beweer word dat Hermanus lewendig afgeslag is en van sy vel ’n karos gemaak is. Een van sy Boesman bediendes was glo ’n ooggetuie daarvan. Hermanus se ander seun het tot by die laer gevlug, maar is daar ook gedood. Die hele geselskap is dan ook verder uitgemoor.

Willem Robinson, ’n ivoorhandelaar, het op die toneel van die moord afgekom en deur sy doen en late is die barbare se mag gebreek.

Die Dingaanfeeskomitee het in 1937 besluit om ’n gedenkteken ter ere van die vermoordes by Moorddrift op te rig.

Daarom staan daar vandag ongeveer sewe myl vanaf Potgietersrus, langs die groot teerpad tussen Potgietersrus en Nylstroom, langs die spoorlyn wat na die noorde lei, ’n monument! Dis die monument van Moorddrift. Die gedenkteken is tussen die twee groot ou kameeldoringbome waarteen die klein kindertjies van die Prinsloo-jagparty se koppies verbrysel is.

ln 1942 het die bogenoemde kommissie ’n pragtige tralie-omheining om die gedenkteken laat aanbring wat terselfdertyd as beskerming daarvan moet dien.

Die monument spreek nie net van die gebeure by Moorddrift nie, want tog heet die opskrif daarvan:

 

Ter herinnering aan 28 personen, vermoord, door Natturellen, in Oktober 1854.

 

MOORDDRIFT

Willem Prinsloo, Nellie Prinsloo en drie kinderen,

Lourens Bronkhorst, Philippus du Preez,

Jan Breed, Maria Breed, en drie kinderen.

 

PRUIZEN

Albertus Venter en Willem Venter.

 

MAPELA

Hermanus Potgieter, Veldkorent Andries H. Potgieter, Willem

Potgieter, Jakobus Hendrik Botha, Jacobus Coetzee, Marthinus

Viljee, Piet Botba en ander namen en onbekend.

 

BRONNE:

Eeufees Album Potgietersrus 1854-1954;

Die gedenkwaardighede van Suid-Afrika.