Moord op doktor Verwoerd

Nog botsings met Verwoerd
January 26, 2015
Sport word ’n twisappel
January 26, 2015

Ondanks sy dikwels omstrede optredes was doktor Verwoerd se aansien groot, ook weens sy hantering van die geskil tussen Brittanje en Rhodesië, wat hom op   11 November 1965 onafhanklik verklaar het. Verwoerd het geweier om aan sanksies en boikotte teen dié land deel te neem. Die Britse regering se optrede teen die Rhodesiërs het by baie Suid-Afrikaners, ook Engelssprekendes, ’n sterk anti-Britse gevoel laat ontstaan. In ’n verkiesing in Maart 1966 het die NP 126 Volksraadslede uit ‘n totaal van 166 gewen. Verwoerd se aansien het nog hoër gestyg toe ’n geding oor Suidwes wat Ethiopië en Liberië teen Suid-Afrika in die Wêreldhof aanhangig gemaak het, in 1966 teen dié twee lande uitgewys is.

Maar op 6 September 1966 het die Verwoerd-era op skokkende wyse ten einde gekom. Met twee lang messe wat hy onder sy klere versteek het, het ’n parlementêre bode, Demetrio Tsafendas, die Volksraadsaal binnegegaan, tot by doktor Verwoerd se bank gestap, hom op die Eerste Minister gewerp en hom in die bors begin steek. Hy is in die hart en longe getref en was binne enkele oomblikke dood. Die nuus is oor die radio en in die middagkoerante bekend gemaak. In die hele Suid-Afrika was daar ’n “gevoel van woordelose geskoktheid”, skryf JJJ Scholtz. GD Scholtz sê dat baie mense openlik gehuil het. “Seker nog nooit tevore het daar so ’n algemene gevoel van droefheid geheers nie. Oral waar mense saam was – in busse, treine, kantore of waar ook al – het ’n gedempte stemming geheers.”

Baie dorpe het feitlik tot stilstand gekom. Verslae groepies mense het op straat rondgestaan en die gebeurde bespreek. In die stede is bioskoopvertonings oor die hele land afgelas en byeenkomste gekanselleer. The Star het die dag ná die moord geskryf dat blankes, swartes, kleurlinge en Indiërs in hul droefheid en skok nog nooit vantevore so verenig was oor enigiets nie. Die land het kalm en rustig gebly, en die Sunday Express het opgemerk dat dit getuig het van wat doktor Verwoerd tot stand gebring het. Hy het die land so gesond agtergelaat, polities en ekonomies so sterk en so stabiel, dat selfs die moord op hom nie Suid-Afrika se fondamente kon skud nie.

Baie wit mense het gedink aan ’n Kommunistiese sameswering. Regter AB Beyers het egter bevind dat Tsafendas kranksinnig is en aangehou moes word. “Ons is ’n ordeliewende volk. Ek verstaan dat daar in die mense van hierdie land diepe gevoelens oor hierdie saak is. […] Maar as hierdie volk, hierdie nasie, sy vertroue moes verloor in sy regsinstellinge en sy regbank, dan sou ’n mens inderdaad ’n vernedering hê en ’n skande wat onherstelbaar as ’n klad sou rus op hierdie land. Jy kan geen voortgehoue wraakgevoel hê ten opsigte van ’n siek mens nie.” Tsafendas is in Oktober 1999 oorlede.

Op 13 September 1966 het die NP-koukus ’n nuwe leier en dus eerste minister gekies. Dit was die vyftigjarige meneer BJ Vorster, wat sedert 1961 minister van justisie was en in die vroeë jare sestig met sukses opgetree het teen onder-mynende organisasies. Gou was daar spanning in die Nasionale Party oor veral die sportbeleid.