“Misdaad teen die mensdom”

Nuwe tydskrifte en koerante
January 22, 2015
Die nood van die terugkerendes
January 23, 2015

In die oë van baie mense in Suid-Afrika en die res van die wêreld was Breytenbach ’n held, en die Suid-Afrikaanse bewind die skurke. Immers, in 1973 het die algemene vergadering van die Verenigde Nasies ’n Konvensie teen Apartheid bekragtig. Die konvensie verklaar apartheid en apartheids-dade tot ’n misdaad teen die mensdom. Die begrip van misdaad teen die mensdom word geassosieer met volksmoord en is oorspronklik deur die Neurenberg-tribunaal geformuleer om die afgryslike Nazi-misdade te straf. Dit het die uitwissing van ses miljoen Jode en lede van ander minderhede, wrede mishandeling, dwangarbeid en mediese eksperimente ingesluit. Die VN-konvensie van 1973 stel dit egter wyer en vaer.

Die VN-besluit was ’n groot oorwinning vir die ANC-in-ballingskap. Die eerste twintig lande wat dit ondersteun het, was uit die kommunistiese blok. Die Weste wou die konvensie nie steun nie omdat dit so klaarblyklik ’n kommunistiese propagandaset was. Die Amerikaanse afgevaardigde het verklaar: “Ons kan nie saamstem dat apartheid as ’n misdaad teen die mensdom bestempel kan word nie. Misdade teen die mensdom is van so ’n ernstige aard dat hulle haarfyn omskryf en streng binne die raamwerk van die volkereg gedefinieer moet word.”

Ook blanke Suid-Afrikaners het die besluite verwerp. Die chaotiese verloop van die vrywordingsproses van ander Afrikalande het dit op selfmoord laat lyk om dieselfde eksperiment met Suid-Afrika te herhaal. Van die 33 state in Afrika wat tussen 1956 en 1970 onafhanklikheid gekry het, het net Botswana demokraties gebly.

Teen Januarie 1968 het Afrika 64 militêre staatsgrepe, pogings tot staatsgrepe en muiterye ondergaan. Saam met die politieke onstabiliteit en staatsgrepe het gekom korrupsie, wanbestuur asook dié soort praktyke waaroor Suid-Afrika gekritiseer is en wat deur die Britse historikus Paul Johnson as vorme van sosiale manipulasie beskou is. Hy sê samevattend: “In any case, differences between Pretoria’s policy and those of most black African states were more theoretical than real. All African states practised racist policies. […] Throughout black Africa, the documentation of social control — work permits, internal and external passports, visa requirements, residence permits, expulsion orders – proliferated rapidly with independence.” In lande soos Uganda is onbeskryflike gruweldade gepleeg.

Baie Afrikaners was ook bang dat die ANC van Suid-Afrika ’n Kommunistiese satelliet sou maak. Maar hoewel die Kommunistiese Party se invloed op die ANC soms groot was, was daar beduidende verskille tussen die twee.

Die oogmerk met die tuislandbeleid was om te probeer ontkom aan die euwels wat bevryding elders in Afrika gebring het. Liewer agt swart tuislande as een swart tuisland – die hele Suid-Afrika, was die argument. Maar met die uitvoering van die tuislandbeleid het dit nie te goed gegaan nie.