Milner se taalplanne

“Ons moet veg tot die bittere einde”
January 22, 2015
Die stryd in die Kaapkolonie
January 22, 2015

Alfred Milner, wat in 1901 “Lord Milner of St. James and of Cape Town” geword het, was van Junie 1901 af administrateur van Transvaal en die Orange River Colony en van Junie 1902 af ook Goewerneur, en het van Kaapstad na Johannesburg verhuis. Uit die ruïnes van die twee republieke wou hy twee kolonies skep wat net so Brits as die Kaapkolonie en Natal moes wees. Dit kon hy net regkry as hy die Britse element in Suid-Afrika versterk en van Engels die hooftaal maak. Die groep besonder begaafde amptenare wat hom bygestaan het, het weens hul jeugdigheid die naam Milner’s Kindergarten gekry.

Die imperialistiesgesinde kampvegters vir Engels soos die Engelse koerante was van mening dat dit wenslik moes wees dat Engels in die plek van Nederlands en Afrikaans moes kom. Nederlands was sterwend, en Afrikaans ’n arm taal sonder letterkunde, en met beperkte uitdrukkingsvermoë en woordeskat. PH Zietsman haal van die frases aan waarmee daar tydens die oorlog na Afrikaans verwys is: “barbarous language”, “mongrel language”, “hotch potch taal’, “ox-waggon vernacular”, “a dialect degenerate and decaying”, “inadequate for the needs of modern civilised life”. Maar hoe nuttig die kennis van Afrikaans tog was, blyk daaruit dat Milner dit kort ná sy aankoms geleer het. Met die oog op die assimilasie van die Afrikaner in die Britse geheel het die South African League die owerheid gevra om Engels die skoolmedium in die “nuwe kolonies” te maak.

Teen hierdie agtergrond was Milner minder toegeeflik as Chamberlain en die Britse departement van kolonies. So was Chamberlain en sy amptenare ten gunste van Hollands as voertaal van die laerskole omdat hulle gemeen het dat Engelsmedium die onderrig van die Afrikaanse kinders kon kortwiek. Maar vir Milner was die skole en die gebruik van Engels as voertaal die instrument van verengelsing.

Milner het ’n stewige akademikus, EB Sargant, as superintendent van onderwys aangestel. Sargant het besef dat die skole wat in die konsentrasiekampe opgerig is, minder aanvaarbaar vir die Boere sou wees as hulle sou voel hul taal word verontagsaam. Anders as sy meeste mede-Britte het Sargant Afrikaans nie verag nie en het hy voorgestel dat kampskole iets aan Afrikaans doen. Die kinders kon miskien opstelle daarin skryf. Verder kon die skole “Bybelhollands” aan die kinders leer – wat die nuwe departement sou vrywaar van klagtes dat hy die taal van die Afrikaner onderdruk.

Hoewel daar in die kampskole soms anti-Engelse demonstrasies was, is hulle goed bygewoon, en die gretigheid om Engels te leer was een van die redes vir die sukses daarvan. Volwassenes is aangesteek deur dié gretigheid. Mense van tot 27 jaar wou Engels leer, en spesiale klasse vir volwassenes is ingestel. Volgens inspekteur JH Corbett was Engels die gewildste vak en het ouers hom telkens gevra om hul kinders Engels te leer maar nie Hollands nie, want dit het hulle reeds “in the kirk” geleer. Dit het geklop met die vooroorlogse “Hollands kom vanself”-gedagte, skryf Zietsman, wat in Die taal is gans die volk dié geskiedenis behandel.