Carellina Pieternella (Lina) Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Vrystaat gebore en matrikuleer ook daar. Sy is die dogter van JF Spies, die skrywer van ’n hele paar kinderverse. In 1963 behaal sy ’n meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy verwerf ook doktorsgrade aan die Vrije Universiteit van Amsterdam (1970) en die Universiteit van Pretoria (1982).

Sy word eers onderwyseres en daarna dosent aan die universiteite van Port Elizabeth en Pretoria en later aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy beïndruk met haar eerste digbundel, Digby Vergenoeg (1971), wat met die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-prys bekroon. Daarna volg, onder andere, Winterhawe (1973), Ontmoeting (1979), Oorstaanson (1982), Van sjofar tot sjalom (1987) en Duskant die einders (2004). Daar is agt van haar psalmberymings in die nuwe Liedboek opgeneem.

 

Naskrif: ’n credo

 

Ek wil nog hê dat my verse “mooi” moet wees,

mooi soos Blou see van denne teen die hang

en My nooi is in ‘n nartjie,

Soos Robert Frost en Emily Dickinson:

The woods are lovely, dark and deep en

Heart, we will forget him!

You and I tonight!

 

Ek wil hê dat “gewone” mense my poësie moet lees

en tog, ek hou nie van gewone mense nie:

van vrouens wat net babas kry

en mans wat saans ‘n bier drink in die kroeg.

 

Ek hou van iemand wat oor dertig jaar

‘n roomys in die straat sal lek,

van ‘n ongelowige wat sê soos by gebed:

“John McCormack sing soos Mozart se musiek”

terwyl dit buite reën

en ‘n amandelboom spierwit in die vaalte staan.

 

Ek hou van jou wat sal kan sien

die liewe vrou, oud en gerimpeld,

lyk presies nes ‘n parkiet.

 

Ek wil hê dat jy van my gedigte hou,

jy wat ongewoon en anders is

en tog gelukkig geen kenner van rym en metrum nie

 

Uit: Digby Vergenoeg, 1971