Dalene Matthee (1938-2005), gebore Scott, was ’n Afrikaanse skrywer. Sy was die eerste, en tot dusver die enigste outeur om meer as een miljoen Afrikaanse boeke te verkoop. Haar oeuvre sluit in kinderverhale, kortverhale, dramas en verskeie romans in, en sy is veral bekend vir haar reeks romans wat in en om die Knysnabos afspeel – Kringe in ’n bos, Fiela se kind, en Moerbeibos. Haar werke is in 14 tale vertaal. In 1986 ken die Suid-Afrikaanse Instituut van Boswese die Bosbouprys aan Dalene Matthee toe vir haar publieke bewusmaking van die lot van Suid-Afrika se natuurlike reënwoude. Resensente, akademici en letterkundiges het Matthee geloof as die een wat Afrikaners weer aan die lees gekry het.