Albertha Margaretha (Alba) Bouwer (1920-2010) was ’n Afrikaanse kinderboekskryfster, joernalis en maatskaplike werkster. Sy studeer Afrikaans, Nederlands, Duits en Onderwys aan die Hugenote-kollege, waarna sy onderwyseres en redaktrise van die vroueblad Huishouding word. Later word sy aangestel as adjunkredaktrise van Sarie Marais. Sy was vir 20 jaar ondervoorsitter van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging. Alba Bouwer het talle jeugverhale geskryf, die bekendste sekerlik Stories van Rivierplaas, sowel as om ongeveer 20 bekende boeke uit Duits, Nederlands en Engels in Afrikaans te vertaal. SY word bekroon met die MER-prys, Scheepersprys en C.P. Hoogenhout-prys. Sedert 1987 reik die SA Akademie die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur elke drie jaar uit.