Nog ’n jong held
June 27, 2017
President MT Steyn (1857-1916)
June 27, 2017

(Geskryf deur dr. FJ du T Spies, soos verskyn in Historia Junior, November 1961)

Ons geskiedenis het verskeie dapper vroue opgelewer wat op hulle eie terrein baie vir die opbou van die volk gedoen het. So ’n vrou was mev. genl. Piet Joubert. Sy was nie net belangrik, omdat sy die vrou van ’n belangrike kommandant-generaal was nie; maar sy was ook uit haar eie ’n merkwaardige karakter en ’n groot persoonlikheid. In haar lewensloop het sy ’n aandeel gehad aan die meeste groot gebeurtenisse van die volk se geskiedenis.

Sy is voor die Groot Trek in die distrik van Richmond uit ’n ryk familie, Botha, gebore. Haar moeder sterf kort na haar geboorte en gevolglik word sy deur haar oupa en ouma grootgemaak. Sy is saam met hulle as jong dogtertjie op die Groot Trek na Natal waar hulle net na die groot moord van Piet Retief en sy manne aangekom het. Sy belewe egter die hele spannende jaar 1838 toe die Trekkers in laers moes gestaan het en elke oomblik aanvalle van die Zoeloes te wagte was. In werklikheid het sy ook die hewige geveg van Veglaer, daar aan die boloop van die Boesmansrivier meegemaak. Die Zoeloes het die hele laer omsingel en een verwoede stormloop na die ander onderneem. Die Trekkers het egter vasgestaan en raak geskiet. Sy was nog jonk, maar kon later jare goed vertel hoe dit gegaan het. Sy onthou toe nog hoe die vrouens die geweers moes laai, en koeëls giet, en as die nood hoog is self die geweer hanteer. Sy en ander kinders is aangesê om te kyk dat van die Zoeloes nie onder die waens deurkruip nie.

Na die slag van Bloedrivier was daar meer sekerheid en veiligheid. Saam met haar familie het sy toe na Pietermaritzburg getrek wat toe nog nie ’n dorp was nie; daar moes hulle nog in tentwaens woon. Sy was toe omtrent nege jaar oud.

Later het die familie Natal weer verlaat en op verskillende plekke gebly, eers in Witberge in die Vrystaat, toe in Lydenburg en later Pretoria en Rustenburg. Vanaf Rustenburg het haar oupa vir die laaste keer weer in die ou Kolonie in Richmond gaan kuier.

Toe hulle in Pretoria gebly het, het die dorp eintlik nog nie bestaan nie. Daar was nog net ’n paar huisies daar langs die Apiesrivier. Hulle het teen die heuwel agter die teenswoordige spoorwegstasie gestaan. Sy het saam met haar broers ’n paar keer by die Fonteine gaan visvang en oor die algemeen ’n aangename tydjie hier deurgebring. In Pretoria het sy ook haar toekomstige man ontmoet, Piet Joubert, wat toe by Irene geboer het.

Tydens haar troue het hulle egter weer in Marico gewoon. Sy en Piet het in Potchefstroom getrou en is onmiddellik daarna met die ossewa na Marico se wêreld. Teen die aand van die eerste dag hoor sy vanuit die tentwa ’n leeu taamlik naby brul. ’n Rukkie later kom haar man by die tentwa en sê dat daar ’n mannetjie (leeu) was wat sy vroutjie wou vat, maar hy het hom met die sweep weggejaag.

Vanaf Marico het sy vir die eerste keer saam met haar man op kommando gegaan. Dit was in die oorlog teen die Bantoekaptein Sychele. Daar in die laer is haar eerste kind gebore. Toe haar tweede kind gebore is, het hulle weer by Ladysmith in Natal gewoon. Later vestig hulle hulle permanent in die distrik Wakkerstroom waar Piet Joubert fluks vooruit geboer het en ’n ryk man geword het. Die naam van die plaas het hulle dan ook paslik, De Rust, genoem.

Genl. Piet Joubert was teen die tyd een van die volksleiers en toe hy na die Engelse Anneksasie van Transvaal as kommandant-generaal gekies is, moes hy baie kere op veldtogte uittrek. Meestal het mev. Joubert saamgegaan om die lewe vir haar man en die burgers so maklik moontlik te maak. Sy moes soms groot hoeveelhede brood bak en ander kos vir die manskappe klaarmaak.

In die Eerste Vryheidsoorlog was sy ook saam met haar man. Sy het in haar tent in die laer onder Majuba gewoon. Sy vertel hoe sy vroeg een more opgestaan het om koffie te maak, toe sy mense op Majuba gewaar. Sy roep die Generaal, maar die meen dat dit hulle eie mense was. “Het ons mense dan rooibaadjies aan?” vra sy vir hom. Toe hulle besef dat die vyand gedurende die nag die berg in besit geneem het, het generaal Joubert onmiddellik bevel gegee dat dit bestorm moes word. Dit loop toe uit op die skitterende oorwinning van Majuba, 28 Februarie 1881, waar generaal Colley saam met ’n groot aantal van sy manskappe gesneuwel het. Dit was die beslissende slag. Daarna het die vrede gevolg wat Transvaal weer vry gemaak het.

Hierna was generaal Joubert aaneen die kommandant-generaal van die Suid-Afrikaanse Republiek. Ook nou het sy vrou saam met die kommando’s uitgetrek veral na Noord-Transvaal waar die Bantoes moeilikhede gegee het. So het sy die hele geskiedenis van haar volk meegemaak. Toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitbreek, het sy weer die generaal vergesel na die frontgebied in Natal. Sy was by die geveg by Ladysmith en ook by verskeie ander veldslae. Die generaal was reeds oud. Sy tyd was verby. Vroeg in 1900 het hy gesterwe. Hy is op sy plaas in Wakkerstroom begrawe.

Mev. Joubert het in haar huis in Pretoria gaan woon en dapper die huishouding bestuur, terwyl die vyandige leërs nader gekom het. Sy het daar ook gebly, nadat Pretoria in die hande van die vyand geval het. Sy het nog haar plig teenoor haar volk gedoen. Haar huis in Visagiestraat, nou ongelukkig gesloop, het ’n plek vir hulp aan die Boere geword. Meer as een keer het sy die Boere wat die stad binnegekom het, in haar huis weggesteek tot dit weer veilig vir hulle was om te vertrek. So is nuus en ammunisie en medisyne na die kommando’s deurgesmokkel.

So het die dapper volksmoeder haar plig vervul totdat sy enige jare na die oorlog gesterf het.