Meubilering en versiering van die pioniershuis

Die ontdekking van die goudriwwe van die Witwatersrand
March 23, 2017
Die hand vol grond
March 23, 2017

(geskryf deur Kotie Roodt-Coetzee, vakkundige beampte, Ou Museum, Pretoria, soos verskyn in Junior Historia)

Verlede keer het ons gesels oor hoe die pionier sy huis gebou het. Hierdie keer wil ons bietjie na sy meubels kyk en na die manier waarop hy sy huis versier het.

Elke Boere-baanbreker wat die wilde, woeste wêreld ingetrek het, moes baie gevare trotseer. Hy moes wilde diere uitroei; teen vyandige naturellestamme veg; hy moes bosse en bome uitkap en die nuwe landerye met ’n houtploegie bewerk. Veel tyd om mooi versierings in sy huis aan te bring, het hy nie gehad nie.

Die eerste soort huisies wat van riete en klei en harde biesies gebou was, was buitendien nie sterk nie en daarom het die pionier dit ook nie werd geag om hierdie soort huis te versier nie.

Die klip- en rousteenhuise wat sterker was en langer sou staan, het hy binnekant probeer mooier maak. Hy het dikwels in die hout van die vensterkosyne wilde diere of blompatrone uitgesny. In sommige huise het hulle ook blompatrone bo teen die muur geverf. By Danstersnek, Zastron, O.V.S., is daar vandag nog ’n ou kliphuis met so ’n blomversiering in rooi loodverf. Die Boere het baie dikwels rooi loodverf gebruik. Op verskeie oudhede in die nuwe museum in die Voortrekkermonument is rooi loodverf te sien, selfs op ’n dolossie waarmee ’n seuntjie in die Groot Trek gespeel het.

Voordat die Boere uit die Kaapkolonie weggetrek het, moes hulle die groot meubelstukke wat nie maklik op die kakebeenwaentjie gelaai kon word nie, van die hand sit. Ons het so pas ’n pragtige Franse rusbank gesien wat Piet Retief uit sy huis in Winterberg verkoop het, net voordat hy op die Groot Trek gegaan het.

Die Voortrekkers en ander pioniere het verkies om meubelstukke saam te neem wat maklik uitmekaar gemaak kon word sodat dit minder ruimte op die waens sou inneem. Daar was opvoustoeltjies, opvoutafels, opvoukatels en rakkies wat, as die houtpenne uitgetrek word, in ’n drag plankies opmekaargepak kon word.

In die voorhuis van so ’n pioniershuis was daar gewoonlik een of twee riempiesbanke, ’n tafel in die middel van die vertrek en ’n kleiner tafeltjie naby die venster waar die huisvrou gesit en naaldwerk doen het. Verder was daar een of meer kiste waarin klere gebêre is, ’n paar stoele en af en toe ’n klein huisorreltjie en ’n viool.

Teen die mure was daar rakke vir die borde, en ’n geweer- en hoederak wat van ’n plank en horings gemaak is. In die muur was daar ’n nissie of holte gebou waarin die Bybel en ander godsdienstige boeke gepak is.

In enkele huise het daar teen die mure ook familie-portrette gehang wat met olieverf geskilder of met houtskool geteken was. Dit was in die dae voordat die eerste soort kamer, die Daguerreo, op die mark verskyn het. Toe moes die mense nog hulle portrette laat teken of skilder.

Van al die Trekleiers weet ons net van een, naamlik Louis Trichardt, van wie ’n houtskooltekening bestaan. Verder is daar ’n potsierlike olieverfskildery van genl. AWJ Pretorius. Albei is in die Voortrekkermonumentmuseum te sien.

In die slaapkamer van die pioniershuis was daar een of meer katels, kiste, een of meer stoele, ’n nissie in die muur, hoekplankies, en ’n rak waaraan ’n hoe, jas of baadjie kon hang. Daar was ook ’n hoedekissie waarin die sykappies of tuithoedjies vir Sondae gebêre is en verskeie klein kissies vir naaldwerk, medisyne, juwele en ander kleinighede.

Die kiste in die kamer was van verskillende grootte. Dié waarin die babakleertjies gepak is, was baie kleiner as die wakiste.

Die naaldwerkkissies was maar ongeveer ’n voet lank en vyf of ses duim hoog, en hulle was gewoonlik baie mooi versier met blomme wat daarop geverf is of wat met ’n ander kleur hout ingelê is.

Die katel het uit ’n langwerpige raamwerk bestaan met ’n riempiesmat en pote wat los in die raamwerk pas. Sodra die Boer met sy wa gaan reis, word die pote uit die katel uitgetrek en die mat word in die watent gestoot. So is dieselfde katel dan in die wa en ook in die huis gebruik.

Daniël Prinsloo van die plaas “Wonderboom”, Pretoria, was ’n spoggerige Voortrekker-kêrel wat vir sy vrou ’n katel met ’n los koppenent gemaak het wat net soos die pote maklik uitgetrek kon word. Hierdie katel is ook in die Monumentmuseum te sien.

In die kombuis was ook baie artikels wat die pionier van hout gemaak het. Daar was teegoedvaatjies, waterbalies, houtemmers, wynvaatjies, balies vir pekelvleis, almal met yster- of koperhoepels om.

Dit was werklik ’n kuns en ’n vaardigheid om die duie van ’n vaatjie in die groefie in die hout-boom regop te laat staan en om dan die hoepels mooi daaromheen te laat pas sodat die duie styf en dig teenmekaar druk en die hele spul nie in duie stort nie.

Dit is dus van hierdie kuipery of vaatjiemakery wat in die ou dae so belangrik was, waarvan die Afrikaanse spreekwoord afgelei is.

Hout was iets waarsonder die pionier baie moeilik kon klaarkom. Op die Groot Trek het mense dikwels hulle besittings verloor. Die Zoeloes het die waens aan die brand gesteek of ’n wa het omgeval of van ’n krans afgestort en alles is dan gebreek. In sulke gevalle moes die mans self voorsien in die nood.

Mev. genl. Joubert, een van die moedigste Afrikanervroue wat ooit geleef het, was in die Trek ’n dogtertjie van omtrent 9 of 10 jaar oud. Sy het vertel dat die Voortrekkermans wonderlik vaardig was om goed uit hout te maak soos bekers, wasbakke, botterbakke, bakkiste, karrings, lepels, borde, deegrollers, voetstofies, blakers, meubels, ploeë, grawe, êe, waens en nog baie dinge meer.

Hierdie goed het die pionier van inheemse hout gemaak. die bekendste houtsoorte was stinkhout, geelhout, keur (wat amper soos geelhout lyk), tambotie, kiaat, boekenhout, wilde-sering, peer- en olienhout. Die hardste stowwe soos Kaapse ebbe en ysterhout, het hy gebruik om die wa van te maak.

Die dik boomstompe is oor ’n saagkuil deurgesaag in balke en plafon- en vloerplanke. Op ’n enkele ou Voortrekkerplaas is vandag nog die holte te sien waar die kuil destyds was, soos op die plaas “Modderfontein”, Rustenburg.

Onder die pioniere was daar mense wat baie vaardig en kunstig met houtwerk was en hulle het stoele en banke pragtig versier. Op die leunings het hulle hartjies en blommetjies uitgesny of soms ook diere soos ’n leeu en ’n bokkop. So ’n bank is in die Voortrekkermonument te sien. Hierdie bank is ’n pragstuk en kon alleen deur iemand gemaak word wat die dierelewe goed geken het.

Omdat die pionier baie gejag het, het hy ook baie dikwels ivoor gebruik. Daarvan het hulle worsstoppers, bekers, nekdoekringe, borsspelde, kieriekoppe en meshewwe gemaak. Hulle was veral lief om stoele, banke, voetstofies en die bome van kruithorings met ivoor te versier. Patroontjies is uit die ivoor gesny en in die hout ingelê.

Die Transvaal-Museum in Pretoria besit so ’n stoel wat Hendrik Prinsloo, wat by Slagtersnek opgehang is, vir sy vrou, Betjie, gemaak het. Daarby is ook ’n passer en ’n winkelhaak wat hyself geheel en al uit ivoor vervaardig het.

In die Monumentmuseum staan daar ’n stoel wat die Voortrekker Daniël Prinsloo van die plaas “Wonderboom” met ivoor versier het.

As ’n mens na hierdie houtvoorwerpe van die pionier kyk, verbaas dit jou elke keer weer opnuut hoe presies en netjies dit gemaak is. Al die tappe is met hout- en ivoor-penne vasgesit, en na ’n harde diens gedurende ’n swerwersbestaan van meer as honderd en twintig jaar, is menige stuk nog stewig en sterk. Hierdie mense het beslis trots in hulle eie handewerk en in hulleself gehad.

Die pionier wat noordwaarts getrek het, het dikwels ook erfstukke met hom saamgeneem. Hieronder was stoele wat lank voor die Groot Trek gemaak is.

Oor die riempies waarmee die stoele gemat is en die velle wat op die vloere gelê het, gesels ons volgende keer.