“Methods of barbarism”

Die beleid van “verskroeide aarde”
January 22, 2015
“Winter in die hart van ’n nasie”
January 22, 2015

Onder die Britte wat die “verskroeide aarde”-beleid veroordeel het, was sir Henry Campbell Bannerman, leier van die Liberale Party. Hy het op 14 Junie 1901 in ’n toespraak enkele woorde gebruik wat histories geword het: “A phrase often used is that ‘war is war’, but when one comes to ask about it one is told that no war is going on, that it is not war. When is a war not a war? When it is carried on by methods of barbarism in South Africa.”

Behalwe hierdie metodes het die Britte ’n tweede maatreël toegepas – dié keer teen die vegtendes. Hulle het begin met groot dryfjagte of drives (die Boere het dit soms “krale” genoem) om al die kommando’s te probeer vang. Langs die spoorweë en tussen sommige dorpe het die Britte linies van blokhuise gevorm. In so ’n blokhuis is ’n afdeling soldate geplaas. Britse kolonnes wat ’n aaneengeslote linie oor lang afstande gevorm het, het die kommando’s in die rigting van die blokhuislinie begin dryf. Die kommando’s sou hulle dan as ’t ware in ’n kraal bevind waaruit hulle nie kon wegkom nie en dan daar oorgee. Met die groot dryfjagte het die burgers voor ’n oormag te staan gekom, hoewel sommige tog deur die vyandelike linies geglip het. Saam met die “methods of barbarism” waarvan dit deel was, het die dryfjagte bygedra tot die verwoesting van die land.

Die derde maatreël wat Kitchener gevolg het, was om die vroue en kinders na konsentrasiekampe weg te voer.

Die vroue het tot in daardie stadium ’n belangrike bydrae tot die republikeinse oorlogspoging gelewer. Toe die kommissariaat aan die begin van die oorlog nie genoeg voedsel kon lewer nie, het baie vroue hul wonings as bakkerye gebruik. Die staat het net die meel voorsien. Baie vroue het vrywillig diens gedoen as verpleegsters, en op die plase het hulle die boerdery behartig in die afwesigheid van die burgers. Vir die eerste oorlogswinter het die vroue duisende pakke klere gemaak van materiaal wat die staat verskaf het. In Februarie 1900 het die vroue van Fordsburg met ’n beweging begin om die werk in die poskantoor en ander staatsdepartemente te doen om meer mans vir krygsdiens vry te stel. Ná die eerste groot teenslae aan die front het vroue aangebied om te gaan veg. Daar is enkele gevalle bekend waarin vroue, verklee as mans, krygsdiens gedoen het. Op die vooraand van die val van Pretoria het die vroue die moedelose burgers aangespoor om te volhard in die stryd. Hulle het op allerhande maniere die moreel probeer hoog hou – sodat in Desember 1900 in die Britse Laerhuis verklaar is dat die Boerevroue verantwoordelik is vir die verlenging van die oorlog. Toe die guerillastryd begin, het elke plaashuis ’n voorsieningsdepot vir die verbytrekkende burgers geword. Die vroue het hulle verpleeg, geherberg en aan kos en klere gehelp. Dit was veral om dié rede dat Kitchener op 21 Desember 1900 beveel het dat die vroue van die plase verwyder en na die konsentrasiekampe gebring, die huise verwoes en die vee vernietig word.

Die naam was eers refugee camps. Daar wás egte vlugtelinge, maar minder as dié het uit vrees vir die kampe na klowe, murasies en verlate plekke gevlug.