Meningsverskil oor ras

Suid-Afrikaanse Akademie gestig
January 23, 2015
Artikel 137 en eksamentaal
January 23, 2015

Die rasseteenstelling was een van die sake wat die afgevaardigdes na die Nasionale Konvensie verdeel het. Feitlik alle verteenwoordigers van Transvaal, die Vrystaat en Natal was teen die verlening van stemreg aan swart of bruin mense, terwyl byna almal in die Kaapkolonie ten gunste van algemene stemreg was. In die Wes-Kaap, wat min swart mense gehad het, was meer mense ten gunste van stemreg aan swartes as in die Oos-Kaap met sy baie swart mense. JW Sauer, ’n Kaapse Afrikanerlid van die parlement, het gemeen dat die Kaapse stelsel van stemreg vir almal na die ander kolonies uitgebrei word. ’n Afrikaner-nasionalis, FS Malan, gewese redakteur van Ons Land, was om politieke redes teen ’n kleurskeidslyn. Politici uit die Vrystaat met sy kleiner swart bevolking was meer positief teenoor swart stemreg as dié uit Natal.

Generaal Smuts het op 13 Maart 1906 aan John X Merriman geskryf dat hy teen stemreg vir swartes is. “When I consider the political future of the Natives […] I must say that I look into shadows and darkness.” Hy het ook gemeen dat sterk kragte werksaam was wat die Afrikaner sou verander. Op die Nasionale Konvensie is ’n kompromis bereik wat as artikel 35 in die grondwet opgeneem is. Swart en bruin mense in die Kaapkolonie sou hul stemreg behou, tensy ’n verenigde sitting van die Volksraad en Senaat met ’n tweederdemeerderheid anders besluit.

Die Kaapse politici, “Onze Jan” Hofmeyr en WP Schreiner, het skerp kritiek op dié bepaling gehad. Hofmeyr het gesê dat die politieke en maatskaplike veiligheid van die skaars een miljoen wit Suid-Afrikaners niks swakker sou gewees het as dit die toegeneentheid van die vyf miljoen bruin en swart mense kon behou het en dié mense met die politieke instellings tevrede gestel het nie. Ook die politiek bewuste bruin en swart mense het hul ontevredenheid laat blyk. In Brittanje het ’n afvaardiging onder Schreiner namens die bruin en swart mense en een onder MK Gandhi namens die Indiërs teen die grondwet gaan protesteer. Die proteste was tevergeefs maar die gety het gekeer. Op                8 Januarie 1912 het ’n groep swart mense in Bloemfontein ’n politieke organisasie, die South African Native National Congress, gestig om die kleur-slagboom en grondbeleid van die regering te beveg. Terwyl die “Naturellen Grond Wet” van 1913 bespreek is, het die African National Congress tot stand gekom, die eerste swart politieke organisasie in Suid-Afrika.

Op die Nasionale Konvensie was daar ook verskille oor die vraag of dit ’n federasie of unie moet word. Afrikaners was oor die algemeen vir ’n unie. Provinsiale rade sou seggenskap hê oor onderwys, hospitale, paaie en munisipale sake. Oor die hoofstede was daar ’n kompromis. Kaapstad sou wetgewende en Pretoria uitvoerende hoofstad word. Die wetgewende mag het berus by die Volksraad van 121 en die Senaat van 40 lede. Die uitvoerende gesag het berus by die Goewerneur-generaal-in-Rade, bestaande uit die Goewerneur-generaal as verteenwoordiger van die Britse koning, bygestaan deur die kabinet wat verantwoordelik was aan die meerderheid van die Parlement.