Enige tyd gelede, toe die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede ’n waardige kopergedenkplaat in die historiese Meerhoffkasteel-grot onthul het, het ’n stuk interessante ou Kaapse geskiedenis weer onder die loep gekom. Wat is Meerhoffkasteel, en watter vreemde verhaal uit die verlede omweef hierdie beskeie Hardeveld-heuwel?
Nagenoeg vierhonderd kilometer noord van Kaapstad en vyftien kilometer wes van die dorpie Nuwerus lê ’n piramidale spitskoppie (Meerhoffkasteel) op ’n afgesonderde uitgestrektheid wat deel vorm van die woestynagtige kusvlakte tussen die Olifantsrivier en die Oranje. Die top van hierdie koppie word gekenmerk deur dagsome en riwwe uit blinkende en veelkleurige kwarts. Teen die laer helling aan die westekant gaap daar twee grotte in die spierwit kwarts, en feitlik reg onder die grootste en onderste grot, wat vroeër glo skuiling aan ’n dosyn of meer mense kon bied, syfer eeue lank reeds fonteinwater wat, ofskoon brak, tog drinkbaar is. Die kleiner grot hoër op – die ingang is deur digte bos-en struikgewasse toegegroei – is geheel en al droog, sodat heuningbye van tyd tot tyd daarin nes maak.
Die koppie Meerhoffkasteel is plaaslik ook as Mierkasteel bekend, maar in die ou Kaapse dokumente en in die reisjoernale van eertydse ontdekkers, veeruilers, jagters en ander reisigers kom die naam Mierhoutskasteel, Mieropskasteel, Mierhoopskasteel, Mierenkasteel, Mierhoofdkasteel, Kasteelklip en Miroskasteel eweneens voor – almal dus variante of etimologieë deur reisigers, jagters, boere, of dalk nog selfs deur die Namakwas, Sonkwas, Grigrikwas of Charigurikwas geskep. Die fontein wat deur die eeue standhoudend gebly het, is paslik bekend as Meerhoffsfontein, Mierfontein of Kasteelfontein, en het geslagte lank drinkwater voorsien aan die toevallige reisiger en later aan die bewoners van die nabygeleë opstal.
Die omliggende vlaktes en lae rantjies – hierdie wêrelddeel is bekend as die Hardeveld – bied skraal weiding aan die vee, maar in goeie jare is daar met vroegherfs wuiwende lappe Namakwalandse blomme; ook kan allerlei graansoorte verbou word indien die reent op die regte tyd val. Die algemene indruk van die omgewing is egter dié van ’n onherbergsame wêreld waar die mens deur die harde natuur gebrei en gevorm word tot ’n bepaalde geestesgesteldheid en taaiheid waarvan die insidentele besoeker of toeris betreklik min begryp.
Hoewel Meerhoffkasteel eintlik ’n alleenstaande koppie is, vorm dit nietemin ’n skakel met die heuwelreeks wat die vlak vallei omgeef en van Koekenaap noordwaarts strek. Hierdie vallei was baie jare lank die voor-die hand-liggende deurgang en roete vir moedige reisigers vanaf die Olifantsrivier na die noorde en terug. Vandag loop die nasionale pad na Springbok en Suidwes-Afrika ver van hierdie historiese vallei, maar afgeleë plase en plekke soos Bitterfontein, Elandsfontein, Louisfontein, Goerap, Kamkas, Krakeelklip e.a. word deur goeie afdelingsraadpaaie verbind. Nogtans, hoewel Meerhoffkasteel ver van die woelige wêreldtoneel geleë is, het dit ’n interessante geskiedenis soos blyk uit die amptelike stukke en terloopse aantekeninge in ou dagboeke en reisjoernale. Daarby is die naam Meerhoffkasteel ook nog gehul in ’n waas van geheimsinnigheid en misterie wat waarskynlik nie maklik opgeklaar sal kan word nie.
Meerhoffkasteel en Pieter van Meerhoff, die moedige baanbreker na wie die koppie heet, is intiem verweef met die vyftiende-eeuse ryk en regeerder Monomotapa. Aan die begin van die vyftiende eeu het koning Mutota van die Vakaranga-volk ’n veroweringsoorlog begin wat sy koninkryk en prestige aansienlik uitgebrei het – ’n veroweringsveldtog wat jare lank voortgeduur het en baie roem, selfs in Europa, aan die regeerders sou bring. Die agtereenvolgende konings het die titel Mwenemutapa (Monomotapa(?)) aangeneem, d.w.s. ‘heer en meester van die geplunderde grondgebied’. Teen die sestiende eeu was die Monomotapa beslis nie meer die eertydse magtige ryk in Sentraal-Afrika nie, hoofsaaklik weens die inwendige twiste en die feit dat die Portugese die goudhandel geëksploiteer het. Ou sestiende- en sewentiende-eeuse kaarte, o.a. dié van Cantarini, Waldsemüller, Ortelius en Van Linschoten, dui die geografiese posisie van Monomotapa verskillend aan, sodat daar begryplikerwys verwarring ontstaan het t.o.v. die mitiese goudstede soos Davagul, Gale en Vigita Magna, asmede die posisie van die Rio Infante en die Rio de Espiritu Santo. Hoe dit ook al sy, die ‘illusiewe’ Monomotapa het die verbeelding van Europese avonturiers, ontdekkers, en seevaarders eeue lank aangegryp; geen wonder nie dat daar so baie daaroor geskryf en gedroom is!
Van Riebeeck, kommandeur van die Kaap, was sedert sy aankoms aan die Suidpunt só deur die goudryk betower dat hy intensiewe studie van die aangeleentheid gemaak het, en o.a. die juiste posisie van die stede en riviere probeer vasstel het. Sy vernaamste bronne was Van Linschoten se werk, die mondelinge verslag van vader Martini, ’n Spaanse priester wat die Kaap in 1653 besoek het, etlike reisverhale en die inligting wat van verbygaande matrose verkry is. Van Riebeeck was vas oortuig dat die Monomotapa-mense in steenhuise gewoon het en baie beskaafder as die Kaapse Hottentotte was; ook het hy verkeerdelik aanvaar dat Vigita Magna, Samot, Cumissa en Gale slegs twintig tot dertig dagreise van Tafelbaai was.
Aangesien voordelige handelsbetrekkinge vir die Kaap en die V.O.C. van kardinale belang was, het Van Riebeeck nie gehuiwer om die saak met die outoriteite in Patria en die Ooste te bespreek nie. Kommissaris Rijckloff van Goens – hy het die Kaap in 1657 besoek – en die Here XVII het verlof vergun dat ekspedisies na die Monomotapa en veral na die goudstede uitgestuur word. So het dit dan gebeur dat daar tussen 1660 en 1664 inderdaad ses pogings van soldate, vrywilligers en burgers was om die Rio Infante en die Monomotapa-stede te bereik.
Enkele maande voordat hierdie reise ’n aanvang kon neem, kom ’n interessante persoonlikheid, ene Pieter van Meerhoff, ’n Deen uit Kopenhagen, in die Kaap aan. Hoe hy in die Kaap beland het, en waarheen hy eintlik op pad was, kon nie vasgestel word nie, maar omdat hy onder-chirurgyn, d.w.s. bedrewe in noodhulp was, en daarby ‘wel ter pen’ en ‘oock eenighsints in de teijckenkunst ervaren,’ het van Riebeeck so ’n hoë dunk van die begaafde jong man gekry dat hy in 1660 ingesluit is by die eerste ontdekkingsreis na die fabelagtige Rio Infante en die Vigita Magna. ‘Meester Pieter’, soos hy spoedig onder sy medereisigers bekend was – hy was in daardie stadium vyf-en-twintig jaar oud – het oor ’n besondere humor- en verantwoordelikheidsin beskik, maar het daarby ook ’n fyn aanvoeling vir die praktiese openbaar. Uit die reisjoernale blyk dit ondubbelsinnig dat dit verder spontaneïteit, energiekheid en gewildheid by die manskappe was wat verseker het dat hy al ses die ontdekkingstogte na die noorde meegemaak het.
Kort na sy terugkeer van die laaste binnelandse reis in 1664 word hy deur die Politieke Raad bevorder tot chirurg, en enkele maande later trou hy met Eva, ’n aanvallige jong Hottentot-vrou, wat vroeër soos ’n kind by Van Riebeeck in die Fort ingewoon het. Eintlik was sy die Kompanjie se amptelike en nie-amptelike handelsattaché en tolk aan die Kaap, en daarby ’n talentvolle en geslepe diplomaat wat die kuns verstaan het om ’n dubbele rol te speel en skotvry daarvan af te kom. Van Meerhoff, wat sedert 1665 bevelvoerder van Robbeneiland was, is in 1667 deur goewerneur Cornelis van Quaelbergen op ’n handelsending na Madagaskar, Mauritius en die ooskus van Afrika gestuur. Tydens hierdie ekspedisie, t.w. op 27 Februarie 1668, word hy en agt makkers onverwags deur vyandige inboorlinge in Antongilbaai (Madagaskar) oorval en vermoor!
Tydens die genoemde ontdekkingstogte (1660—1664) het Van Meerhoff o.m. as chirurgyn, joernaalhouer, sekunde en leier ’n prominente rol gespeel en veel bygedra tot die sukses wat wel bereik is. Volgens dr. EE Mossop, wat meer as vyftig jaar gelede die roetes van die ses geselskappe noukeurig nagevors en gekarteer het, het die reisigers elke keer die Olifantsrivierberge by die Piekenierskloof oorgesteek en min of meer al langs die Olifantsrivier (Tharrakamma) noordwaarts gereis. In Februarie 1661 tydens die tweede reis gee Van Meerhoff sy naam aan ’n ronde koppie bo-op Piekenierskloof. Hy noem die berg ‘Het Casteel Meerhoff’ en verstrek die volgende beskrywing daarvan: ‘… is een ronde bergh, leggende op het vaste geberghte gelyck een casteel en is heel kenbaer, kan wel 17 a 18 mylen gesien worden eer men daar aencomt …’. Maar die onverklaarbare lê daarin dat dit eers tydens die vyfde reis onder aanvoering van Pieter Cruijthoff was dat die reisgeselskap op 9 Desember 1662 by ’n berg aankom wat, indien die aanwysinge en afstande noukeurig gevolg word, onmiskenbaar Meerhoffkasteel in die Hardeveld moes gewees het. Joernaalhouer De Smit beskryf die plek as ‘… groote holle klijpe …’ Drie weke later maak die joernaal weer melding van die plek wat toe egter as die ‘paerdestall’ beskryf word waar slegs ‘… brack stinkent waeter …’ gevind is. Dit is derhalwe duidelik dat die naam Meerhoffkasteel nie tydens die vyfde reis aan die spitskoppie gegee is nie!
Ook op die sesde en laaste tog verlaat Van Meerhoff en Jonas de Guerre, die leier, die Olifantsrivier op 16 November 1663 by Koekenaap en word die noordelike roete gevolg tot die geselskap die volgende dag ‘een marmer bergh’ bereik, waar ’n fontein met ‘salpeterigh water’ gevind word. Dit Iy geen twyfel nie dat met inagneming van die rigtings en afstande soos in die joernaal opgeteken dit Meerhoffkasteel moes gewees het, ofskoon die grotte nie pertinent genoem word nie. Wat die benaming marmerberg betref, moet daar in gedagte gehou word dat die pre-Nama-gneiss-neerslae teen die spitskoppie baie soos marmer lyk; trouens, dit word inderdaad deur Simon van der Stel as albaster beskryf. Hoe dit ook sy, tot in hierdie stadium was die Hardeveldgrotte nie as Meerhoffkasteel bekend nie.
Die naam Meerhoffkasteel vir die Hardeveld-spitskoppie kom die eerste keer in 1682 voor in die reisjoernaal van Oloff Bergh, d.w.s. agtien jaar nadat Pieter van Meerhoff die grotte die laaste keer besoek het. Bergh, wat ’n hoë amptenaar aan die Kaap was, is, soos algemeen bekend, in 1682 deur Simon van der Stel aangesê om die koperberge van die Amakwas op te spoor ten einde mineralogiese ondersoeke uit te voer. Hy het met een-en-dertig blankes en ses waens noordwaarts gereis langs ’n roete wat vandag min of meer deur die Malmesbury-Klawer-spoorlyn gevolg word. Op 12 November 1682 verlaat die Bergh-reisgeselskap die Olifantsrivier by Klawer, en drie dae later ‘… marcheert tot sons ondergang als quamen in een valeij bij een hooge steenrots genaemt Meerhofs Casteel, vonden daer bij een plaats brack water en geen gras als wat bosjes.’ Op die terugreis, sestien dae later, d.w.s. op 1 Desember, word die koppie in die Bergh-joernaal egter Meerhouts Casteel genoem. Uit die joernaal blyk dit ook dat Bergh beslis nie die naam Meerhoffkasteel aan die koppie gegee het nie; ’n mens kry eerder die indruk dat die kop ’n landteken was waarvan die reisgroep geweet het, en waarop daar afgepeil is.
Die volgende belangrike reisgeselskap wat Meerhoffkasteel besoek het, was natuurlik dié van Simon van der Stel en sy entourage. Laasgenoemde het bestaan uit ses-en-vyftig blankes, ses-en-veertig drywers en touleiers en was drie jaar na Bergh, t.w. op 26 September 1685, met vyftien waens, ag karre, ’n koets, tweehonderd osse, dertien perde en ag muile op Meerhofs Casteel ‘… synde een bergh als/oo genaemt na een persoon die dese landstreeck mede heeft bereyst indeselve is een groote spelonck synde poorts gewys door de natuy/r alsoo gemaekt.’ Van der Stel en sy geselskap was natuurlik nes Bergh ook onderweg na die koperberge waar mineralogiese toetse uitgevoer moes word, veral met die oog op die ekonomiese ontginning van die ryk Namakwalandse kopererts. Die Kommandeur het sy naam op die rotswand van die onderste grot – die eerste inskripsie by Meerhoffkasteel – laat uitbeitel en selfs tot bo-op die kruin van die spitskop geklim vanwaar hy die omliggende terrein kon besigtig. In die reisjoernaal word die kop beskryf as ‘een hooge rugh hebbende aen d’eene kant een gangh van schoone witte albaste/r en aen d’and’re kant root en wit, bruyn en wit, oock graeuw en wit, als mede geheele witte marmersteen …’. Wonder bo wonder was daar tydens Van der Stel se besoek goeie weiding en baie water by Meerhoffkasteel, sodat die geselskap twee dae daar kon oorstaan en uitrus.
Die waas van misterie rondom Meerhoffkasteel lê dus daarin dat Van Meerhoff sy naam aan ’n koppie bo-op Piekenierskloof gegee het, maar dat dieselfde naam een-en-twintig jaar later in die Bergh-joernaal opduik as naam vir ’n spitskoppie in die Hardeveld, tweehonderd kilometer noord van Piekenierskloof-pas. Verder is dit opvallend dat die Meerhoffkasteel van Citrusdal na 1661 ’n tyd lank nie in reisjoernale gemeld word nie, maar dat slegs verwys word na die ‘Groote Cloof’ op pad na die Olifantsrivier. Sou dit moontlik wees dat ou reisigers die twee koppies met mekaar verwar het? Dis natuurlik ook nie uitgesluit nie dat Pieter van Meerhoff self sy naam ook aan die Hardeveld-spitskop gegee het; hy het die plek immers vier keer besoek en het as joernaalhouer, onderleier en chirurgyn in ’n gunstige posisie verkeer om strategiese plekke te identifiseer en te benoem. Of het hy dalk slegs by wyse van spreke op humoristies-ironiese wyse na die koppie as sy kasteel verwys?
Aan die begin van die agtiende eeu was die Meerhoffkasteel-grotte steeds bekend in die Kaap. So berig Kolbe wat indertyd verslag gedoen het oor die verskillende Hottentot-stamme in die binneland, foutiewelik, dat die Namakwas, met uitsondering van ‘… één bron alleen, die by Miros Castell te vinden is,’ uitsluitlik op die water van die Olifantsrivier aangewys is. Hierdie Miros Castell is nie ’n vesting wat ene Miros sou gebou het nie, aldus Kolbe, maar is glo ’n ‘uitgearbeide klip of berg, welke zonder twyfel een Hottentotsche Kaptein van deze natie heeft uitgearbeid of tot zijn vermaak vervaardigt’. Kolbe kon vanweë die Hottentotte se ‘overgrote en ongelooflyke luyheid’ hierdie feite nie maklik aanvaar nie. Wat hy wel kon bevestig, was dat daar in die Miros Castell twee vertrekke is waarin ’n redelike aantal mense gehuisves kon word.
Gedurende die eerste kwart van die agtiende eeu het die Kaapse Weskusvlakte, noord van die Piketberge, steeds besoek ontvang van sporadiese wild- en olifantjagters, avonturiers en amptelike veeruilers. Veral laasgenoemde het gereeld hul opwagting in die Olifantsriviervallei en ander grensgebiede gemaak om ’n genoegsame vleisvoorraad vir die Kaap en die verbyvarende Kompanjieskepe te verseker. Omdat die veeruilers nie altyd joernale gehou het nie, en dikwels Hollandse name – name soos Zots, Miere, Viere, Dirk, Vulkaan, e.a. – aan die Hottentot-kapteins en die onderskeie stamme gegee het, is dit dikwels nie moontlik om die roetes en die lokaliteite nader te bepaal nie. Hoe dit ook al sy, daar kan met veiligheid aanvaar word dat veeruilers tot 1730 die Hardeveld besoek het om vee by die onderskeie krale te ruil. Slegs een veeruiler, die jonge kaptein JT Rhenius, het by geleentheid in 1721 sy naam op die grotwand by Meerhoffkasteel uitgekap, hoewel hy na alle waarskynlikheid ook in 1722, en twee jaar later, ook by die fontein uitgespan het. Na 1720 moes die veeruilers, volgens die beskikbare joernale en ander amptelike stukke, tot in Namakwaland reis daar die meeste Hottentotte feitlik almal permanent noordwaarts verhuis het.
Reeds vroeg in die agtiende eeu het die nomadiese veeboere die Kaapse weskusvlakkeland met hul veetroppe binnegetrek en mettertyd die beste weiveld en water as leningsplase amptelik laat registreer. Omdat die Hottentot-stamme vanweë ’n groot verskeidenheid faktore, o.a. die veeruil, die pokke-epidemie van 1713, droogtes en hul aangebore rusteloosheid reeds teen 1720 metterwoon in Namakwaland gevestig was, kon die noordwaartse trekbeweging van die veeboere rustig voortgaan. Die voorpunt van hierdie veeboertrekbeweging het die Onder-Olifantsriviergebied en die Hardeveld teen die begin van die jare dertig binnegetrek en die onbewoonde uitgestrektheid permanent bewoon.
Ongeveer hierdie tyd het die blanke veeboere van die Kaapse Weskusstrook ernstige verhoudingsprobleme met hul illusiewe Boesmanbure ondervind. Laasgenoemde het die boere van die Piketberg, die Sandveld en die Olifantsrivier lastig geval deur veeroof en veeverminking, die afbrand van opstalle en die vermoording van blankes en slawe. Die Boesmans self het beweer dat hul hierdie dade van terrorisme pleeg, omdat die blankes ‘in haarlieden land woonden’. Die toestand het geleidelik versleg sodat die boere met hul vee na die Piketberg teruggeval het, en militêre poste in 1739 by die Warmbad, naby Citrusdal, en Compagniesdrift opgerig is. Verskeie kommando’s is ook op die been gebring om Boesmanleiers soos Swartbooi en Titus te straf en die veeboere wat op die plase agtergebly het, te beskerm.
Indertyd het ’n gerug in die Kaap die ronde gedoen dat ’n vreemde skip etlike maande tevore langs die Namakwalandse kus op die rotse geloop het, en dat die bemanning deur die Strand-Boesmans uitgemoor is. Die Politieke Raad het die saak bespreek en besluit dat terwyl daar in September (1739) weer ’n kommando teen die Boesmans uitgestuur sou word, ’n sterk patrollie van ongeveer dertig man na die ontredderde skip en bemanning moet gaan soek. Terselfdertyd moes daar, om die koste te bestry, by die Namakwas so veel vee as moontlik geruil word. Hierdie taak is aan Philip Giebeler, ‘sergeant baas’ van die Kompanjiespos De Schuur, opgedra.
Giebeler, wat op 11 September 1739 vertrek het, het oor Heerenlogement na Meerhoffkasteel gereis. Toe hy op 2 Oktober daar aankom, het dit hom opgeval dat enkele beeste op die berg gewei het; by nadere ondersoek is ’n kraal gewaar waaruit ’n menigte Boesmans op die vlug geslaan het. Later is vasgestel dat Titus en Swartbooi hul daar skuil hou en voornemens was om ter gelegener tyd die Langvlei en die Piketberg af te loop. Een van die burgers, ene Willem van Wyk, en die Hottentot-kaptein Keyset het Giebeler, wat besig was om die Boesmans nader te lok en op tabak en arak te onthaal, gewaarsku om versigtig te wees, veral daar enkele van die Boesmans snaphane en ammunisie by hul gehad het. Kort daarna vervolg Giebeler se joernaal soos volg: ‘… uijt vreese dat wanneer ik van daar vertrocken soude zijn sijl: herwaarts koomende haar boos voorneemen souden ter uijtvoer brengen, te meer dewijl sij van de geene waaren die hier ten platten Lande soo veel roverijen en moorden gepleegt hebben, en dat zy behalven een snaphaan nog met boog en assegaij gewaapent waaren; tot stuijting van dit hun quaad voorneemen; onder deselve soo als se de vlugt begonnen te neemen, doen schietten, bij welke actie tusschen de 30 en 40 van deselve zijn doodgebleeven, waaronder sig den voorm. Cap: Swartebooij bevondsijnde desselfs soon Titus het ontkoomen, alhoewel denselven bij die geleegenthijd is gequetst geworden …’ Na die skermutseling is beslag gelê op ’n hoeveelheid ammunisie en ’n paar beeste wat van boere gesteel is. Ook Diklip, wat na bewering die slaaf van Albert van Zyl gedood het, is gevang.
Kort na die slag van Meerhoffkasteel het die Boesmans as faktor uit die Hardeveld verdwyn, en hoewel verskeie bekende plase in die naburige Onder-Olifantsrivier teen 1750 op lening uitgegee was, is die eerste drie Hardeveld-plase eers in 1770 aangeteken. Die onherbergsame en waterlose Hardeveld het veeboere gedwing om liewer na die Kamiesberge en die Hantam uit te wyk waar die klimaats- en ander omstandighede veel gunstiger was. Die leningsplaas Meerhoffkasteel, die sesde in die Hardeveld, is in 1792 ses maande lank aan ene Jans Jorssen toegeken; daarna is dit deur verskeie ander boere aangevra totdat dit teen die wenteling van die eeu in die hande van Jacobus Coetzee (1730—1816), bekende jagter, ontdekkingsreisiger, avonturier en gids, gekom het. Die plaas is in Oktober 1843 op ewigdurende erfpag op naam van Gert Coetzee, seun van Jacobus, geregistreer, en het daarna tot 1912 in besit van die Coetzees gebly. Vervolgens het verskeie eienaars die plaas besit totdat JJGL Nel dit in 1954 aangekoop het; tans (sedert 1976) is mnr. JA Nel die eienaar.
Bron: Scholtz, P.L. 1980. Meerhoffkasteel – Historiese heuwel in die Hardeveld. Lantern, Desember, pp. 83-89.