Massakultuur en sport

Van lugbrug tot volksfees
January 25, 2015
Gewildheid van die radio
January 25, 2015

Soos elders het die algemene tydskrifte van goeie gehalte onder druk gekom. Die sirkulasie van Die Huisgenoot het in die jare vyftig begin daal. Die “kuise en ingehoue styl” van die blad het vir ’n nuwe geslag “flou afgesteek teen die hartstog, uitgesprokenheid en uitdagendheid van die bioskoop en ingevoerde blaaie”, sê Johan Spies, indertyd redakteur. Kleiner blaadjies soos Fyn Goud en Hy en Sy het aan lesers gegee wat hulle nie in Die Huisgenoot kon kry nie. Die Landbouweekblad, waarvan die eerste nommer op 21 Mei 1919 in Bloemfontein verskyn het, is in 1950 na Kaapstad oorgeplaas. Die sirkulasie het gestyg totdat die aantal boere in die land begin daal het. Op 4 Julie 1950 het Die Landstem onder Piet Beukes begin met die soort menslike nuus wat die publiek wou hê.  Baie mense het dit as ’n “sensasieblad” beskou. Die Landstem het die Suid-Afrikaanse gedeelte van die “Mej Wêreld”-kompetisie in Londen aangebied. Penny Coelen was die eerste Suid-Afrikaanse Mej Wêreld.

Die Nasionale Toneelorganisasie onder staatsbeheer, gestig in 1947, het in Afrikaans en Engels opgevoer.  In een kwartaal in 1950 het 300 000 mense NTO-opvoerings bygewoon. As ons twee eers getroud is van Gerhard Beukes was veral gewild. Ligte musiek het gefloreer, onder meer met die tranetrekkers van Frans en Sannie Briel, soos Die trein na Pretoria. Van hoër gehalte was Danie Bosman se liedjies wat weens hul mooi melodieë gewild gebly het.

Ondersoek na die invloed van koerantplakkate op straatverkope het lesers se liefde vir sport getoon. Rugby was nog Afrikaners se gunsteling. Die begin van die vyftigerjare was die einde van die goue era wat Springbok-rugby sedert die jare 20 beleef het. Legendes soos Hennie Muller, Okey Geffin en die senterpaar Tjol Lategan en Ryk van Schoor het die verbeelding aangegryp. In later jare was dit, naas die rugbybaas Danie Craven, spelers soos Frik du Preez en Naas Botha, of Mannetjies Roux – wat deur die sangeres Laurika Rauch in ’n nostalgiese liedjie verewig is.

Die 1951/52-Springbokspan het net een van hul 31 wedstryde in Brittanje en Frankfryk verloor. Hennie Muller het die kapteinskap van Basil Kenyon oor-geneem wat ’n ernstige oogbesering opgedoen het, en was kaptein toe die Springbokke Skotland op 24 November 1951 op Murrayfield met 44-0 gewen het.  Dit was die grootste nederlaag wat Skotland ooit gely het. Diep in die tweede helfte het Hennie Muller die Skotte so jammer gekry dat hy die jong Skotse kaptein, Angus Cameron, aangesê het om sy voorspelers bietjie meer vas te laat speel. “Dit was die soort sportmanskap wat ’n mens van ’n span soos dié kon verwag”, skryf Chris Greyvenstein in Springbok-Sage. Die Skotte het hul waardering en bewondering betoon deur Muller ná die wedstryd skouerhoog van die veld te dra. Die span word onthou deur hul menslikheid en warmte. Op Kersoggend 1951 het die bestuurder, Frank Mellish, die afrigter, Danie Craven, en die 29 ander spelers Basil Kenyon in sy hospitaalkamer besoek en Stille Nag vir hom gesing. Die jong Johnny Buchler het ’n gebed gedoen.

Nog ’n sportprestasie was die goue medalje wat Esther Brand in 1952 op die Olimpiese Spele in Helsinki vir hoogspring gewen het – die eerste goud sedert 1928 (Sid Atkinson vir 110 meter hekkies in Amsterdam). Daphne Hasenjager het in Helsinki tweede in die 100 meter gekom.