Martin Luther (1483-1546)

Gustav Preller – ’n Huldeblyk
July 26, 2018
1858 Nederlanders en Nieuw-Gelderland
July 26, 2018

Martin Luther soos uitgebeeld in ’n houtsnee deur Lukas Cranach die Ouere.

Op 10 November 1983 sal dit 500 jaar na Martin Luther se geboortedag wees. Hierdie geleentheid word wyd en syd herdenk met uitstallings, lesings en saamtrekke, veral in die plekke waar die groot kerkhervormer spore gelaat het: in Eisleben, sy geboortedorp; Eisenach, waar hy oorlede is; Erfurt, Wittenberg en Wartburg in die Duitse Demokratiese Republiek, en in Augsburg, Coburg, Nuremberg en Worms, in die Federale Republiek.

Martin Luther stam uit ’n mynwerkersfamilie. In 1501 skryf hy in vir studie in die regte aan die Universiteit van Erfurt, maar besluit om ’n Augustynse monnik te word. In 1507 word hy as priester georden.

Die volgende jaar, in 1508, gaan Luther na die nuwe Universiteit van Wittenberg (in 1502 gestig). Die ‘Schlosskirche’ was heg met die universiteit verbind en het die beskerming van die toenmalige keurvors van Sakse, Frederik III, geniet. In 1512 word die doktorsgraad in die teologie aan Luther toegeken en word hy as professor in die teologie aan laasgenoemde universiteit aangestel. Hierdie aanstelling behou hy lewenslank.

Uit huis uit was Luther ’n getroue ondersteuner van die Rooms-Katolieke kerk. As kind reeds het hy diep onder die indruk verkeer van God se oordeel. As student begin hy soek na ’n antwoord op die vraag: hoe vind die mens guns by God? In daardie dae was sy god ’n god wat straf uitdeel, al het hy as godvresende monnik in die klooster gelewe. Vir hom was die antwoord nie in die mens se verdienste geleë nie. Hy het besef dat hoe meer hy probeer om God te behaag, hoe meer hy nie op God nie, maar op eie poging steun. Terwyl Luther in die jare 1513—17 die Psalms en die sendbriewe van Paulus bestudeer het, het hy die antwoord gevind: God se guns is nie ’n prys wat verower word nie, maar ’n gawe wat aanvaar moet word. Die mens is voor God regverdig alleenlik deur te glo in Godsgoedheid en -genade wat aan die wêreld gegee is in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Met hierdie leer van regverdiging het Luther beroemd geword.

Foto: In 1517 spyker Martin Luther sy 95 stellings aan die kerkdeur van Wittenberg vas.

Toe Martin Luther eers ’n bekende teoloog is, bots hy met die kerk. Na aanleiding van die verkoop van aflaatbriewe vir sondeskuld spyker hy op 31 Oktober 1517 sy 95 leerstellings aan die kerkdeur van Wittenbergkasteel. Hierdie moedige daad was nie ’n skielike onbeteuelde emosionele reaksie nie. Dit was die resultaat van sy soeke, bepeinsing en groot godsdienstige ontdekking.

In 1519 het Luther in Leipzig beswaar gemaak teen die pouslike gesag en in den brede idees neergelê wat in daardie dae as revolusionêr beskou is, byvoorbeeld die vryheid van die individu om om vergiffenis te vra en van Godsvergewing verseker te wees sonder die priester se tussengang.

Drukperse het Luther se opvattings dwarsdeur Duitsland versprei. Hy is geëkskommunikeer en in ’n pouslike bul is sekulêre en kerklike owerheid verbied om met die dapper en vermetele priester kontak te hê. Sy geskrifte sou in die openbaar verbrand word. Luther se reaksie was waaghalsig: hy het die pouslike bul verbrand!

Die dade, geskrifte en preke van die Wittenberger het die sekulêre owerheid begin bekommer. In April 1521 word hy voor die Ryksdag van Worms gedaag, waar Keiser Karl V en die Duitse prinse van hom verwag dat hy van insig moet verander, maar Luther het geweier met die woorde wat sedertdien beroemd geword het: ‘Hier stehe ich, ich kann nicht anders. Gott helfe mir. Amen.’ (Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Mag God my help. Amen.) Daar word bepaal dat Luther se geskrifte nie gedruk mag word nie, niemand mag hom huisves nie, en almal was verplig om hom aan die keiser uit te lewer. Die keurvors Frederik wat Luther simpatiek gesind was, het vinnig ’n plan beraam en die priester na die Wartburg Iaat bring. Luther was toe 38 jaar oud en het hier, onder andere, die Nuwe Testament in Duits vertaal.

Foto: Martin Luther en Karl V, die Heilige Romeinse Keiser, tydens die Ryksdag van Worms in 1521.

Daar is baie redes waarom Martin Luther nie, soos ander voor en na hom, as ketter op die  brandstapel verbrand is nie, hoekom hy steeds sy geskrifte gepubliseer het, en waarom hy die Wartburg na slegs een jaar kon verlaat: Keiser Karl V was selde in Duitsland en sy aandag is deur oorlogvoering in beslag geneem; die Pous moes hom verdedig teen magte wat hom wou onttroon, en daarby was Luther baie gewild onder die volk.

Die Ryksdag van Worms kan beskou word as die begin van die Hervorming wat later aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Protestantisme. Luther se doel was om die kerk te vernuwe, nie om ’n skeuring te veroorsaak of ’n nuwe kerk tot stand te bring nie, maar sosiale en politieke reperkussies het tot die Hervorming gelei. Luther self was nie revolusionêr of ikonoklas nie. Toe fanatiese volgelinge heilige voorstellings verbrand en sy-altare in die kerk van Wittenberg-paleis vernietig het, het Luther, die priester, gepraat van ‘vryheid sonder liefde’. Toe die boere in opstand gekom het teen die tirannieke prinse en na Luther se Von der Freiheit eines Christenmenschen verwys, het hy die tirannie van die prinse veroordeel, maar terselfdertyd ’n beroep op die radikales gedoen om hulle nie te laat verlei deur die ‘moordenaars’ nie. Hy het voortgegaan met die hervorming van die erediens (in Duits) en daardeur met die Switserse hervormers Zwingli en Calvyn gebots.

’n Poging in 1530 om verskille by te lê, het misluk. Die term ‘Protestant’ het ontstaan. (Kortstondige ooreenkoms is in 1555 in Augsburg bereik, maar teen daardie tyd was Luther reeds oorlede. Sy heengaan, in 1546, was geruime tyd vóór die Dertigjarige Oorlog (1618—48), maar Iaasgenoemde was die gevolg van denominasiebotsings in die Heilige Romeinse Ryk.)

Die Hervorming was toe nie slegs ’n Duitse aangeleentheid nie. Luther se dogma van ’n suiwer evangelie en die geskrif Von der Freiheit eines Christenmenschen het Engeland bereik. Daar is toe begin om die Bybel as uitgangspunt te gebruik, die aanbidding van relikwieë en heiliges uit die kerk te verban, die Heilige Nagmaal te verander, die private mis te belet, en die selibaat op te hef.

Een van Luther se grootste verdienstes was die vertaling van die Bybel, wat hy met ’n nuwe ryk klank bedeel het. Die Luther-bybel is sy vertaling van die Ou en Nuwe Testament wat in 1534 gereed was. Luther was inderdaad nie net ’n profeet en ’n briljante prediker nie – hy was ook taalskepper. Na die tydperk van die minnesang in Middelhoogduits het die taal weer in dialekte verbrokkel. Luther se Bybel het die nuwe hoogduitse styl tot gevolg gehad. Die klassieke digters van die 18de eeu het dit tot standaard-Duits verfyn. Dit was die grootste bydraende faktor tot die ontstaan van moderne Duits.

Die hervormer het meermale sy tydgenote geskok met die kragtige gebruik van sowel die gesproke as die geskrewe taal. In 1525 trou hy met Katharina von Bora wat van ’n klooster weggedros het – ’n groot skandaal beide onder sy aanhangers en sy teenstanders. Sy aanvalle op die pousdom was dikwels venynig.

Naas die Bybelvertaling was Luther se invloedrykste letterkundige werk Der Kleine Katechismus van 1529, wat bekend geword het as die ‘leek se bybel’. Luther het hierin sy siening opgesom van hoe ’n Christen behoort te wees en hoe hy behoort te lewe. Duisende mense het die grondbeginsels van die Christelikheid uit Luther se kategismus of een van die verwerkings geleer.

Luther se rol in die musiekgeskiedenis is byna so belangrik soos sy bydrae tot die Duitse letterkunde en die Duitse taal. Sy gesange het ’n nuwe era op die gebied van kerkmusiek ingelui. Luther se bekendste gesang is Ein feste Burg ist unser Gott (’n Vaste burg is onse God) (1527).

Ten spyte van sy aktiewe openbare lewe was Luther hoofsaaklik ’n akademikus. In 1520 skryf hy baie werke, insluitend twee wat verreikende gevolge gehad het: een het die sakramente van die kerk gekritiseer, die tweede het verklaar dat die Christen vry is, onderdanig aan geeneen, maar terselfdertyd ’n gewillige dienskneg, vryelik aan enigiemand onderdanig. Luther self het Vom freien Willen (1525) as sy belangrikste werk beskou. Daarin het hy die Nederlandse humanis Desiderius Erasmus aangeval en probeer bewys dat die mens niks kan doen om tot sy redding by te dra nie. Dit moet as ’n gawe van God aanvaar word.

Die meeste van Luther se geskrifte was besprekings van die boeke van die Bybel. Vele is as lesings voorberei en later gepubliseer. Die belangrikste van hierdie werke Vorlesung über den Galaterbrief (1516—17, 1531, 1535) en Auslegung über die Epistel an die Galaten (1519) het baie van Luther se idees opgesom.

Die teëstellings in Martin Luther maak hom geheimsinnig. Hy was beskeie, maar het nogtans soos ’n held voor die Ryksdag van Worms opgetree. Hy kon onbeskof, dogmaties en grof optree, en tog ontvang Tetzel, die verkoper van aflaatbriewe, op sy sterfbed ’n troosbrief van Luther.

Martin Luther is op 18 Februarie 1546 in Eisleben oorlede. Tot die einde toe het hy gewerk aan die vervolmaking van sy dogma van suiwer christelikheid, dit in baie belangrike geskrifte en meer as 3 000 preke verduidelik, en steeds gepoog om bloedvergieting in die godsdiensdispuut te voorkom.

 

Bron: Lantern, September 1983: 75-77.