Magrietha Prinsloo
April 10, 2017
Moorddrift-monument
April 10, 2017

(Geskryf deur Christa Basson, St. V., Boksburg-Noord, soos verskyn in Historia Junior)

Op 2 Oktober 1857, iets meer as ‘n honderd jaar gelede, het Marthinus Theunis Steyn op die plaas Rietfontein, naby Winburg, die eerste lewenslig aanskou. Marthinus was dus ’n gebore Vrystater en het dwarsdeur sy lewe hierdie land innig lief gehad. Hy het vir die Vrystaat en vir die groter Suid-Afrika geleef. Van jongsaf het hy besonder belang in die algemene geskiedenis gestel. Die mensheid was vir hom iets groots.

Toe hy sestien jaar oud was, het sy broer Tewie gaan boer. Geen mooipraat kon Theunis toe langer op skool hou nie. Saam met Tewie is hy toe na Suurfontein. Sy ouers het op die dorp gaan woon en die twee moes nou onder die strenge toesig van hul vader, die boerdery behartig. Hier het Theunis vier jaar lank geboer.

Regter Buchanan het by Theunis aangedring om die plaas te laat staan en in die regte te gaan studeer. Uiteindelik het die boer van Suurfontein saam met sy vriend Harry Vels in Mei 1877 na Nederland vertrek om daar in die regte te studeer.

Die seereis het doodgewoon verloop. In Nederland het die twee vriende die studie in Deventer met alle erns aangepak. Na ’n verblyf van twee jaar in Nederland, is hulle na Engeland, waar Steyn na nog drie jaar se studie in Londen as advokaat toegelaat is. Kort hierna is hy na sy vaderland terug. Hy word eers aangestel as Staatsprokureur, daarna as Strafregter en in 1895 word hy met ’n groot meerderheid van stemme tot president van die Oranje-Vrystaat verkies.

Dit was moeilike jare want die verhouding tussen die Suid-Afrikaanse Republiek en Engeland het steeds meer gespanne geword. Steyn het alles in sy vermoë gedoen om ’n botsing te voorkom. Uiteindelik het hy besef dat ’n oorlog tussen Engeland en Transvaal onafwendbaar was. Nou het hy nie langer geaarsel nie, maar hom aan die kant van sy landgenote noord van die Vaal geskaar. Op 11 Oktober 1899, toe die oorlog tussen Transvaal en Groot-Brittanje uitgebreek het, het Steyn se burgers die Transvalers te hulp gesnel. Nadat Bloemfontein deur die Britse magte ingeneem is, het president Steyn met sy regering eers na Kroonstad en later na Heilbron verhuis. Later moes hy maar kruis en dwars deur die Vrystaat trek. Twee keer het hy naelskraap uit die greep van die vyandige magte ontkom. Sy voorbeeld was ’n besieling vir die Boere. Die uitputting wat die lang togte meegebring het en die gedurige spanning waarin hy verkeer het, het sy gesondheid ondermyn. Hy het ernstig siek geword. By Vereeniging het hy in ’n hulpelose toestand aangekom. Magteloos lê hy in sy tent terwyl die lot van die vryheid beslis word. Hy het as president bedank en is opgevolg deur generaal Christiaan de Wet. Daarna is president Steyn na Nederland vir mediese behandeling. Nadat hy sy gesondheid herwin het, is hy weet terug na die Vrystaat.

Stil en rustig het hy hom op sy plaas, Onze Rust, naby Bloemfontein gevestig. Vanhier het hy weer met onvermoeide ywer in die diens van sy volk getree. Hy het tydens die Nasionale Konvensie ’n groot aandeel gehad in die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika.

Die skielike dood van Marthinus Theunis Steyn op 28 November 1916, onderwyl hy besig was om die Oranje-Vrouevereniging in die ou Gedenksaal in Bloemfontein toe te spreek, was ’n smartlike skok vir die hele Suid-Afrika. Hy is begrawe aan die voet van die Vrouemonument, om die duisende besoekers uit alle dele van die wêreld steeds te herinner aan sy liefde, sy opoffering en toewyding aan sy land en volk.