Gerrit Maritz se kinders
July 27, 2015
Dirkie Uys
July 27, 2015

deur CR Swart.

Een van die grootste heldedade in ons geskiedenis is seker dié van die jonge Marthinus Oosthuizen, wat sy lewe gewaag het om die lewens van vyftien ander te red teen ’n mag van 1 500 Zoeloes wat hulle omsingel het. Hy was ’n Voortrekkerseun van 18 jaar wat saam met sy ouers onder Piet Retief Natal ingetrek het. Sy pa het saam met Retief na Dingane se kraal gegaan en was een van die manne wat daar vermoor is.

Marthinus was saam met ’n paar ander mans wat onder Sarel Cilliers se aanvoering probeer het om die Zoeloes van die laers weg te hou en te verdryf. Dit was die nag nadat daar soveel honderde mense langs Moordspruit en Bloukrans deur die Zoeloes vermoor is. Gelukkig was daar laers wat nog betyds gewaarsku kon word en dié het toe vinnig stappe gedoen om hulself te beskerm en ook hulle mede Trekkers teen die aanval te help. In die daglig kon die Voortrekkers beter teen die Zoeloes veg, omdat hulle dan kon sien waar die aanval vandaan kom en kon die aanstormende magte terugskiet.

Op ’n koppie was ’n klein klompie Voortrekkers deur ’n groot mag van ongeveer 1 500 Zoeloes vasgekeer. Daar was maar omtrent vyftien mans op die koppie om die aanval van die swart horde teen te staan. Dit was die klein kommando onder Van Rensburg wat voor die aanstormende mag daarheen gevlug het. Van Rensburg en sy mense het hulle dapper gedra, maar moes naderhand terugval. Hulle was omsingel en het op die dood gewag. Maar hulle het nie moed opgegee nie en het aangehou skiet op die Zoeloes wat nader en nader kom. Baie Zoeloes is raakgeskiet en het in die stof gebyt, maar vir elkeen wat val, was daar honderde wat weer storm om die Voortrekkers te kom vermoor.

Sarel Cilliers en ’n klompie manne het gesien dat die Van Rensburgs vasgekeer was en hulle jaag so vinnig as hulle perde kon hardloop om te gaan help. Hulle val toe die Zoeloes van agter af aan en skiet dat dit so gons. Van Rensburg en sy mense het steeds van die koppie af bly skiet om die Zoeloes te probeer stuit.

Die Zoeloes was rondom die koppie en sake het benard gelyk. Boonop het Sarel Cilliers tot sy ontsteltenis gehoor dat die mense op die koppie meteens ophou skiet het. Hy en sy paar manskappe stormjaag en skiet keer op keer op die Zoeloes, maar die vyand was te sterk en hulle moes telkens weer terugval. Naderhand kom hulle tot naby die koppie en hoor Van Rensburg hard skree: “Ons het nie meer ammunisie nie!”

Hoe nou gemaak? Daar is die mense vasgekeer en hulle kan hulleself nie meer verdedig nie, want hulle skietgoed is op.

“Waar’s julle ammunisie?” skree Sarel Cilliers terug. Toe beduie die manne daarbo dat die ammunisie by die waens onderkant die koppie is, byna tussen die Zoeloes. Dit was uiters gevaarlik, maar die mense moes gered word en iemand moes ’n plan maak om vir hulle kruit en koeëls te neem. Maar sou dit moontlik wees om tussen die Zoeloes deur die waens te bereik?

Marthinus OosthuizenMarthinus Oosthuizen was naby Sarel Cilliers en hy sê net vir sy leier: “Ek sal gaan.” Daar was nie so ’n ding soos bang wees nie. Hy sou nie toesien hoe sy mense voor sy oë doodgesteek word, as hy dit kon verhelp nie. Hy sou liewers sy eie lewe waag – word hy dan doodgemaak, dan het hy minstens sy plig gedoen.

Marthinus druk sy perd op en jaag. Dit was ’n swart merrie met die naam van Swartjie, en die dier kon loop. Hy jaag reg op die Zoeloes af. Dit was vir hulle só onverwags, dat hulle nie gou kon begryp wat nou gebeur nie. Die Voortrekkerseun kom tussen hulle ingejaag op die swart perd en voor hulle kon planne maak, was die dapper Marthinus sonder ’n skrapie tussen hulle deur en anderkant uit.

Toe loop Swartjie éérs, reguit na die waens met die ammunisie en binne ’n paar minute het sy haar baas veilig daar gebring. Marthinus spring af en soek gou wat hy wil hê. Die Zoeloes daar naby sien hom en storm om hom te vang, maar hy was te vinnig. Gou gryp hy soveel sakkies kruit en koeëls as wat hy kan dra en spring weer op sy perd se rug.

Nou kom daar nuwe gevaar. Tussen hom en die Voortrekkers op die koppie is daar ’n groot klomp Zoeloes en hy sal weer tussen hulle moet deurjaag. Weer sal sy lewe in groot gevaar wees. Die Zoeloes sien wat hy doen en dié keer sal hulle hom kan voorkeer en vang. Dit was bykans nog een en ’n half kilometer wat hy moes jaag, maar die kranige jong Voortrekker het nie aan die gevaar gedink nie. Hy het met ’n taak begin en hy sou dit enduit deurvoer. Om halfpad om te draai, was nie in sy aard nie.

Daar spring sy perd weg met Marthinus en die sakkies kruit en koeëls op die rug – dit jaag dat die stof so staan en die agterpote so klap. Hy kies sy pad reguit na die koppie om die ander mense daarbo so gou te bereik as hy kan. Voor hom gaan die Zoeloes heen en weer met hulle assegaaie te kere, net klaar om nou die koppie te bestorm en ’n einde aan die mense daar te maak.

Naby die koppie is ’n sloot en ’n klomp Zoeloes hardloop daarin, want hulle weet hy moet daardeur en dan kan hulle hom maklik voorlê en betrap. Maar nou loop die swart merrie vir al wat sy werd is. Aan alle kante kom die Zoeloes nader en begin hul assegaaie na die ruiter en sy perd te gooi, maar dis mis! Nie een assegaai raak hulle nie.

Die sloot kom al nader en daar lê die Zoeloes hom voor. Sal hy deur hierdie laaste gevaar ook kom? Marthinus lê vooroor op die perd se nek en dit dreun van perdepote en oorlogskrete. Hy is nou baie naby die sloot . . . twintig tree . . . vyftien . . . vyf . . . op die wal! Die Zoeloes wat daarin wegkruip, maak klaar om op die ruiter en perd te spring en hom dood te steek. Maar wat! Marthinus druk sy perd op die nek, ruk die teuels op, steek hakskene in en sê: “Kom nou, Swartjie!”

Swartjie weet presies wat dit beteken. Sy trek haar lyf reg en spring dwarsoor die sloot en die koppe van die Zoeloes wat daar wegkruip. Nou is Marthinus los voor en die assegaaie wat nog van agter na hom gegooi word, val ver te kort. Sy swart perd is te vinnig vir die Zoeloes!

Binne ’n paar oomblikke is hy bo-op die koppie tussen Van Rensburg se mense wat saam met die skietgoed sommer nuwe moed kry. Hulle gryp die sakkies, stamp die kruit in hul gewere, laai die koeëls en gou dreun die gewere weer. Marthinus maak vir Swartjie gou agter ’n bos vas, vat sy geweer en begin ook skiet.

Die nuwe geveg aan die kant van die Voortrekkers was vir die Zoeloes te veel. Dit was nie lank nie, of hulle kry die skrik op die lyf en begin terugval. Die dapper daad van die seun van agtien jaar het daardie mense se lewens gered, want as hulle nie die kruit en koeëls in die hande gekry het nie, sou hulle almal – mans, vrouens en kinders – daardie dag deur die Zoeloes vermoor gewees het. Marthinus Oosthuizen was ’n held en sy groot en moedige daad was een waarop elke Afrikaner trots kan wees. Hy het nog lank gelewe en ’n ou man geword in die distrik Reitz, Oranje-Vrystaat, waar hy ’n geëerde en hoogaangeskrewe burger was. Hy is in 1916 oorlede.