Kaptein Hindon
June 27, 2017
Nog ’n jong held
June 27, 2017

(Geskryf deur Rosaline de Kock, Dirkie Uys Voortrekkerkommando, Krugersdorp-Wes, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1970)

Marie de Wet was die dogter van adv. Johannes de Wet, ’n vooraanstaande man. Sy vrou was ’n juffrou Horak. Marie Margaretha de Wet is gebore in Kaapstad in die huis wat nou die Koopmans-De Wet-huis is. Toe sy sewe jaar oud was, is sy na die skool van ds. Spyker, ’n Hollander, gestuur. Haar vader het groot waarde aan die kennis van vreemde tale geheg. Daar het gereeld ’n Franse en Duitse meester na die huis gekom om les aan Marie te gee. By Marie, wat haar persoonlike karaktertrekke betref, is die opvallendste haar sterk wil en beslistheid van optrede. Sy het ’n warm hart gehad veral wat volksake betref.

Adv. De Wet het daarvoor gesorg dat sy dogters die beste leermeesters kry vir musiek, veral klavierspel en sang, en daarby het sy en haar suster skilderlesse ontvang.

Adv. De Wet was jare lank lid van die Wetgewende Raad en een van die leiers van die Kaapse gemeenskap. Daarby het hy ’n oop huis gehad waar al die vooraanstaande persone van die Kaap onthaal is. Marie se tante was met ’n hoofregter getroud. Dus het sy geleentheid gehad om die hooffigure op die Kaapse toneel van naby te bestudeer en te leer ken, waaroor sy ’n oordeel geopenbaar het wat waarlik verbasend was.

Op vyftienjarige leeftyd het sy ’n drama voor haar oë sien afspeel. Haar biograaf, sen. FS Malan, sê dat hierdie beweging was om die Kaap te vrywaar van die lot van ’n strafkolonie. Protesvergaderings is gehou en versoekskrifte is na Engeland gestuur. Vyf maande het dit geduur voordat die Neptune na Australië gestuur is. Hierdie dinge was vir Marie van die opwindendste tye. As jong meisie was sy mooi en aantreklik en die portrette wat daar van haar bestaan, toon dat sy ’n fyn sin vir die modes van die tyd gehad het. Dit is egter skoonheid wat vertolk is deur die sagte blou oë en die vriendelike glimlag wat getuig van haar innemende geaardheid.

Marie is op dertigjarige leeftyd getroud met Johan Koopmans, ’n jong Hollander wat met ’n aanbevelingsbrief van een van adv. De Wet se vriende in Holland, sy opwagting gemaak het by die dubbelverdieping in Strandstraat. Koopmans het aanvallige maniere en ’n gesellige geaardheid gehad en was flink van optrede. Hy was ook ses Europese tale magtig en hoewel hy met die Brits-Duitse Legioen as lid van die staf van baron Van Stutterheim na die Kaap gekom het, het hy ’n aanstelling gekry in die staatsdiens as buitelandse korrespondensieklerk in die hoofposkantoor in Kaapstad. Na die huwelik het die egpaar Koopmans ’n huis in Waalstraat betrek. Hulle het dit nie breed gehad nie. Daar hulle geen kinders gehad het nie, het hulle, toe Marie se moeder se gesondheid verswak, hulle intrek in die ouerhuis geneem, deels ook omdat haar man sy pos vanweë die depressie in 1867 verloor het. Hy is na agt maande aangestel as stafdraer van die Wetgewende Vergadering.

Reeds die volgende jaar is mev. De Wet oorlede en sy het gesorg dat die huishouding oorgegaan het op die ongetroude dogter Margaretha. Enkele jare later is adv. De Wet oorlede en in 1879 is mnr. Koopmans oorlede aan ’n nierkwaal. Marie het sy dood nooit volkome te bowe gekom nie. Soos blyk, het sy ook nooit van haar rouklere afgelê nie.

Die “Prince Imperial”, seun van Napoleon III en keiserin Eugenie, het tydens sy kort verblyf aan die Kaap, op weg na Zoeloeland met mev. Koopmans kennis gemaak en toe hy so skielik gesneuwel het, het mev. Koopmans ’n hartroerende brief namens die vrou en moeders aan die Kaap, aan Eugenie geskryf om hul meegevoel met die bedroefde moeder te betuig.

In hierdie tyd het Marie Koopmans haar eerste reis onderneem om persoonlik met haar oorlede man se bloedverwante te gaan kennis maak. In Nederland is sy aan die hof van Koning Willem III ontvang en toe hierdie vors enkele jare daarna sterf, het sy ’n persoonlike brief van leedbetuiging aan koningin Emma, asook ’n pragtige krans gestuur.

In Suid-Afrika teruggekeer, het sy en haar suster hul lewe anders ingerig en wel so dat hul huis die trefpunt geword het van die vernaamste ingesetenes van Kaapstad en sodanig was die gees wat daar geheers het dat dit enigsins die stempel gekry het van die bekende Paryse salons waar sulke vroue soos Madame de Steal in die 18de en Madame de Rècamier in die 19de eeu as gasvroue geskitter het. Ons weet dat Marie Koopmans bevriend was met Onze Jan, en ook dat Cecil Rhodes haar huis herhaaldelik besoek het.

Dit was in hierdie tyd dat daar sprake was om ’n stuk van die Kasteel de Goede Hoop af te breek. Mev. Koopmans en andere het dadelik protes aangeteken en sy het selfs met invloedryke vriende in Engeland in verbinding getree en hulle hulp ingeroep. Jare later was daar ’n skema om die Kasteel te verbeter en te verfraai. Rhodes was Eerste Minister en hy het ’n kopie van die skema aan mev. Koopmans gestuur om haar mening oor die saak in te win. Met die mening dat hy ’n punt wil afbreek ter wille van die roete van elektriese treine, was die antwoord aan sy sekretaris: “Sê aan mnr. Rhodes sy neus is ook net ’n puntjie van sy gesig. Laat hy dit afsny en dan in die spieël kyk.” Hierdie reaksie het die nodige uitwerking gehad.

Sy was lid van die hoofbestuur van die Suid-Afrikaanse Taalbond en het ook boekpryse aan Suid-Afrikaanse Kolleges gestuur. Haar grootste en belangrikste werk sou sy egter in belang van die vrou en kinders in konsentrasiekampe doen. Sy het tussen die jaar 1900 en 1902 ’n groot som geld geadministreer en duisende kiste klere saam met haar suster ontvang, oorgepak en na verskillende kampe gestuur. Die onderste vertrekke van haar huis is omskep in ’n pakhuis vanwaar alles verdeel, oorgepak en versend moes word.

Haar gesondheid wat nooit van die beste was nie het onder die veelvuldige werksaamhede gekwyn en sy is in Augustus 1906 oorlede. Voor die tyd het sy en haar suster ’n gesamentlike testament opgestel waarin hulle hul woning in Strandstraat met meubels en al aan die volk van Suid-Afrika bemaak het, terwyl hulle hul geld veral in die opvoeding van oorlogswese toegesê het.