Mamre, dist. Darling

De Goede Verwachting, Groenpunt (Geen toegang)
December 13, 2017
Geboortehuis van genl. J. C. Smuts, Riebeek-Wes
December 14, 2017

In ’n vrugbare, groen vallei, skaars 50 km van Kaapstad op pad na Darling, is die bekende sendingpos Mamre geleë.

Met die koms van Jan van Riebeeck was hierdie pragtige vallei en die omliggende gebied tot daar by Saldanhabaai die tuiste van die “regte Saldanhars” of die Cochoquas, ’n Hottentotstam. Hierdie vrugbare, nabygeleë vallei het weldra die belangstelling van die Kaapse veeboere gewek en dit het as die “Groene Kloof” bekend geword. In 1700 is die welvarende vleispagter, Henning Hüsing, toegelaat om “de drie fonteijnen op deze zijde van de groene kloof” te gebruik en om sy beeste tot aan Saldanhabaai te laat wei.

Henning Hüsing, die boere in die omgewing van Riebeek-Kasteel en die Hottentotte het egter soveel las van die roofsugtige Boesmans gehad dat Willem Adriaan van der Stel verplig was om in November 1701 ’n sersant en tien man na die “Groene Kloof” te stuur om aldaar ’n permanente militêre pos te stig. Hierdie pos het as “De Kleine Post” bekend gestaan. GeleideIik het die Kompanjie ook sy beeste uit die omgewing van Stellenbosch “op ’s Compagnies post in de Groene Cloof” oorgeplaas. Kwartiere vir die soldate en stalle vir die vee is gebou en landerye aangelê. Terselfdertyd is ’n onopgemete stuk grond wat aan die “Groene Kloof” gegrens het en as Louwsplaas bekend was, as ’n reservaat vir die Hottentotte uitgehou.

“De Kleine Post” het tot 1791 as buitepos van die Kompanjie bly bestaan, en soos al die ander Kompanjiesposte het dit eintlik ’n voorraadskuur geword waaruit die amptenare wederregtelik in hul eie behoeftes voorsien het. Toe bankrotskap die Kompanjie teen die einde van die 18de eeu in die gesig gestaar het, is al die buiteposte, en dus ook “De Kleine Post”, afgeskaf en die vee verkoop. Die “Groene Kloof” het egter die besit van die regering gebly en is verpag.

In 1806 het die Kaap vir die tweede keer in besit van Groot-Brittanje gekom en die Graaf van Caledon is as goewerneur van die kolonie aangestel. Hy het simpatiek teenoor die sendelinge gestaan en was veral beïndruk deur die werk van die Morawiërs of Hernnhutters te Genadendal. Daarom het hy hulle gevra om ’n tweede sendingpos onder die Hottentots in die “Groene Kloof” te stig waar ongeveer 100 Coehoquas, Goringhaiquas en Goraehouquas nog gewoon het. Met die doel het Caledon in Desember 1807 aan die Morawiese Broeders die regeringsplaas “De Kleine Post” met die geboue daarop, die aangrensende Hottentot-reservaat, Louwsplaas, en die plaas Cruijwagenskraal geskenk.

Twee sendelinge, J.F. Kohrhammer en J.H. Schmitt, is vir die werk alhier afgesonder. Omdat die huurkontrak van die pagter van “De Kleine Post” nog nie verstryk het nie, was die opstal en ander geboue nie al dadelik tot die beskikking van die sendelinge nie. Eers in Maart 1808 is hulle deur die owerheid verwittig dat die huurder opdrag gekry het om die plaas te verlaat sodra hulle daar kon aanland. Op 27 Maart 1808 het die twee Broeders dan ook met hulle werksaamhede in die “Groene Kloof” begin. Hulle het aan “De Kleine Post” die Bybelse naam Mamre gegee wat vettigheid beteken.

Caledon se opvolgers, en veral lord Charles Somerset, was hierdie sendingnedersetting minder goedgesind. Hy was die mening toegedaan dat hierdie ideale stuk grond liewer as ’n gesogte landelike tuiste vir die goewerneurs uitgehou moes word. Tydens sy besoek in 1814 het hy dan ook ernstige besware teen die luiheid en onsedelikheid van die inwoners geopper en die sendelinge nog dieselfde jaar versoek om hulle bedrywighede te staak en met hulle volgelinge na Genadendal te verhuis. Hierdie bedreiging is gelukkig deur biskop Latrobe, wat toe op besoek aan die Kaap was, afgewend. Hy het tot ’n ooreenkoms met die koloniale sekretaris geraak waardeur die bestendigheid van Mamre gewaarborg is.

Op stoflike gebied het die sendingpos in die daaropvolgende jare ernstige terugslae ondervind. Twee jaar agtereenvolgens was daar misoeste en die nedersetting is deur ’n skaarste aan voedsel bedreig. In 1822 het die swaar en aanhoudende reëns talle huisies en selfs een van die gewels van die pas voltooide kerk laat instort. Onder die bekwame leiding van die sendelinge het die gemeenskap van die sendingpos deur hulle eie vlyt geleidelik tot groter welvaart gekom.

Die bevolking het vinnig toegeneem. In 1815 was dit reeds 300 en teen 1835 byna 700. Aan hierdie toename het die vrystelling van die slawe ekstra groeikrag verleen. Teen hierdie tyd het die dorpie ook reeds vorm begin aanneem. Die inwoners het hulle huisies op ’n taamlike afstand van die oorspronklike opstal verspreid oor die vallei gebou. Aanvanklik was daar geen orde in die uitleg nie en die huisies het in boustyl, grootte en afwerking grootliks verskil. Geleidelik het daar egter groter eenvormigheid gekom. Die huise is in lang rye gebou en wel op die styl wat destyds algemeen gangbaar onder die koloniste was – witgekalkte rietdakhuisies meesal met wolwe-entgewels. Die huisies het meesal uit twee vertrekke en ’n kombuis bestaan.

Hoewel die inwoners die reg gekry het om ’n klompie beeste aan te hou, het hulle hul hoofsaaklik op die tuinbou en landbou toegelê. Hierin het die praktiese Morawiese Broeders hulle deeglike voorligting gegee. In 1830 is daar ’n perdemeul opgerig om hul eie koring te maal. Benewens landbou het die sendelinge die inwoners talle ambagte geleer soos skrynwerk, messelwerk, smidswerk, looiery en hoedemakery.

Ook op kerklike en onderwysgebied was daar snelle vooruitgang. Die pragtige ou plaashuis met sy holbol-gewel, wat vandag nog staan, is deur die sendelinge betrek en aanvanklik is die eredienste in die ruim voorhuis gehou. Met ’n skooltjie is in een van die buitegeboue begin. Weldra is egter met die bou van ’n kerk in die onmiddellike omgewing van die opstal begin. Vir die doel is ambagsmanne uit Kaapstad gewerf. In 1818 is hierdie kerkie, wat vandag nog as ’n sieraad daar staan, voltooi en op die oorspronklike kroonlys is dié datum nog te lees. Onderwys is nie slegs aan kinders gegee nie, maar ook aan volwassenes sodat daar in 1812 reeds 150 leerlinge tussen ses en 30 jaar op skool was.

Na die vrystelling van die slawe in 1834 het byna alle sendingposte moeilike jare beleef. Die oordrewe filantropisme van sommige sendingleiers en die vloei van arbeiders na die sendingposte het by baie koloniste verset uitgelok. Die gevaar dat met die Kleurlingsendingposte weggedoen word, was groot. Die Morawiërs het hulle egter nie van stryk laat bring nie. Hulle hoofposte Genadendal, Mamre en Elim het gestadig vooruitgang gemaak en staatsteun aan hul skole het hulle in staat gestel om te Genadendal hul eie onderwysers en sendelinge op te lei. Buiteposte is gestig en in die geval van Mamre het die buitegemeente op die plaas Modderrivier tot stand gekom. Boere het die positiewe arbeid van die Morawiërs begin waardeer en ag omliggende plase is vanuit Mamre bearbei. Op die plase is geboutjies vir die doel deur die eienaars ter beskikking van die sendelinge gestel.

Die plaaslike administrasie van Mamre is vir ’n eeu deur die sendelinge self behartig. Aan die begin van ons eeu, net na die Anglo-Boereoorlog, het daar egter ’n gees van vyandigheid onder die Kleurlinge teenoor die Blankes ontstaan. In Mamre het ’n party onder leiding van Johannes Adonis hom openlik teen die sendelinge verset. Omdat daar op die ander poste soortgelyke bewegings was, het die Kaapse regering in 1909 die “Mission Land Bill” deur die Parlement geloods. Hierdeur is die sekulêre beheer van die sendelinge vervang deur ’n Bestuursraad (Board of Management) bestaande uit ’n staatsamptenaar en ’n raad van nege lede, van wie ses deur die geregistreerde eienaars gekies is en drie deur die goewerneur-generaal benoem is. Die ingesetenes het nou in ’n groot mate die bestuursaangeleenthede in hulle eie hande gehad. Hierdie reëling het egter nie die gewenste vrugte afgewerp nie. Die gemeenskap van Mamre het in verval geraak en dit het die geleentheid vir kwaadstokers gebied om onrus te saai. Ten einde hierdie ooglopende agteruitgang op maatskaplike en ekonomiese gebied die hoof te bied, het die regering in 1944 die beheer en administrasie van Mamre en ander poste aan die Departement van Volkswelsyn oorgedra. Blanke superintendente is aangestel en in medewerking met die bestaande rade het die gemeenskappe weldra tot verhaal gekom.

In 1949 is staatslenings vir hierdie kleurlinggemeenskappe beskikbaar gestel. Dit het die Bestuursraad van Mamre in staat gestel om die saai- en beesboerdery, die behuisingstoestande en die voorsiening van drinkwater te verbeter. In hierdie jare is ook ’n poskantoor gebou, skoolgeboue opgeknap en vergroot en ’n begin gemaak met ’n kliniek.

Mamre het dus ’n lang en skilderagtige geskiedenis, maar dit is nie net sy geskiedenis wat hom skilderagtig maak nie. Die ou Kaaps-Hollandse huis uit die sewentigerjare van die 18de eeu, die pragtige ou kerkie en omliggende geboue, en die ry op ry wit huisies met hulle tuintjies daaromheen verleen aan die dorpie ’n buitengewone argitektoniese skoonheid en inhoud. Voeg daarby ’n gemeenskap met sy eie, besondere samestelling, leefwyse en lewensbenadering en Mamre word ’n historiese, argitektoniese en volkekundige besienswaardigheid.

(Geproklameer 1967)

 

R. Cocking • Sendinghuis en kerk te Groenkloof • C.I. Latrobe: Journal of a visit to South Africa
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 61.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 59-61.