Transvaalse Vryheidsoorlog begin
May 6, 2015
“Majuba laat Afrikanerbond wortel skiet”
May 8, 2015

Lanyon het ’n afdeling soldate onder kol. Philip Anstruther gelas om van Lydenburg na Pretoria te gaan om die garnisoen daar te versterk. Die Transvalers het kmdt. Frans Joubert opdrag gegee om hom te keer. Anstruther kon nie glo dat die Transvalers hom sal aanval nie en het geen verkenners uitgestuur nie. Sy blaasorkes het ’n vrolike wysie gespeel en sy manskappe het loop en perskes eet toe Joubert en sy manne hulle op 20 Desember 1880 by Bronkhorstspruit verras. Joubert het Anstruther versoek om sy mars te staak, maar dié het geweier. ’n Kort maar hewige geveg het losgebars. Binne ’n paar minute was twee-derdes van die Britte dood of gewond. Anstruther is swaar gewond en het kort daarna gesterf.

Nou moes die Transvalers verhoed dat Britse versterkings uit Natal aankom. ’n Mag was reeds onder genl. George Pomeroy Colley saamgetrek. Hy het Newcastle op 24 Januarie 1881 verlaat, maar vier dae daarna ’n ernstige nederlaag by Laingsnek gely. Op 8 Februarie het genl. Nicolaas Smit hom by Skuinshoogte verslaan.

In die Vrystaat en Kaapkolonie het Afrikaners hul steun aan Transvaal toegesê en party Vrystaters het gaan help. Onder hulle was Christiaan de Wet, die later beroemde generaal. Die Transvalers was bereid om die stryd te staak, maar voordat hulle kon antwoord op Colley se voorstelle, het hy sy troepe laat opruk na ’n strategiese punt: Majuba. Stil-stil het hy en sy soldate die berg die nag van 26 op 27 Februarie 1881 bestyg.

Die Transvaalse mag onder genl. Piet Joubert was aan die voet van die berg. Met dagbreek op Sondag 27 Februarie het sy vrou, mev. Hendrina Joubert, opgestaan en ’n ketel water gaan kook buite die tent. “Ek het daar gestaan en na die môrelig gekyk, en bo op die berg het ek mense gesien. Ek het nog ’n slag gekyk, en toe die generaal toegeroep: ‘Kom gou hier, daar is mense op die kop.’ My man kom buitekant, en hy sê: ‘Dis die versterkings wat ek verwag het.’ ‘Maar man’, sê ek, ‘vat jou verkyker, het ons mense dan rooi baadjies?’”

Toe Joubert besef dis Engelse, het hy sy manne beveel: “Daar is die Engelse nou op die kop – julle moet hulle gaan afhaal!”. Vrywilligers, onder wie Christiaan de Wet, het die kop bestorm. Terwyl die voorhoede teen die helling uitklouter, het die agterhoede geskiet na die Engelse op die kop. Colley en sy manne het geen aanval verwag nie en toe die eerste Boere sigbaar word, was hul kanonne verkeerd gestel. Sarsie na sarsie het die Britte getref. Paniek het uitgebreek. Colley, wat die vlugtendes probeer keer het, is dodelik getref. Nog 92 offisiere en manskappe het omgekom en 134 is gewond. Aan Boerekant het een gesneuwel en is vyf gewond. Dit was een van die skitterendste militêre oorwinnings van die Afrikaner.

Vredesonderhandelings was reeds aan die gang, waarin veral pres. Jan Brand van die Vrystaat as bemiddelaar opgetree het. Op 23 Maart is ’n verdrag onderteken waarin die Britse regering die driemanskap van Kruger, Joubert en MW Pretorius erken. Die Transvalers het die Britse susereiniteit aanvaar. Hulle sou selfbestuur kry, maar op sy onafhanklikheid sou belangrike beperkings rus. Brittanje het toesig oor buitelandse betrekkinge gehad.