“Majuba laat Afrikanerbond wortel skiet”

Majuba
May 7, 2015
Nuwe taalregte
May 9, 2015

“Die Vierkleur van ons dierbaar land/ Die waai weer oor Transvaal,/ En wee die Godvergete hand/ Wat dit weer neer wil haal!” Só begin SJ du Toit se “Transvaalse Vryheidslied” wat gou bekend was tot in Nederland en Vlaandere. Die Patriot het die Afrikanergevoel gebruik om Afrikaans te bevorder. Een van die dinge “wat ons by die oorlog gewen het”, skryf die Patriot op 15 April 1881, is dat “die Afrikaners, veral die jeug, nou ’n afkeur gekry het teen vreemde tale en sede, veral teen Engels, en dat daar ’n ambisie opgewek is ver ons eie volk en ons eie taal. Die Engelsman het homself met syn taal en al gehaat gemaak. En dis goed; want die kwaad was al ver gevorderd”.

SJ du Toit het besef dat iets meer as sentiment en ’n taalgenootskap nodig is om taalregte te verkry. Dis politici wat besluit oor landsake soos taalgebruik in staatskantore. Politieke mag is dus nodig, en hy het in 1879 in ’n reeks Patriot-artikels ’n Afrikanerbond bepleit. Dié moes hom beywer vir landsbelange, ook: “Vernamelik ag hy sig geroepe die Volkstaal in beskerming te neem waar die verwaarloos word op kerkelik, maatskappelik, en staatkundig gebied, veral in die skole.”

Waarskynlik weens die NG Kerk se teenkanting teen die Patriot was daar nie dadelik geesdrif om takke te stig nie. Die Sinode het in 1880 drie dae lank gepraat oor die gees en strekking van die Patriot; party het die anti-Engelsheid en gees van verset teen die owerheid afgekeur. Met 114 stemme teen 2 is die blad veroordeel omdat hy agterdog teen en minagting vir die leraars en hul werk, asook kerklike inrigtings, sou verwek. Die Sinode het duisende brosjures teen die Patriot versprei, maar die intekenaars het van 2000 tot 3700 gestyg.

Die eerste tak van die Afrikanerbond is op 16 Junie 1880 in die distrik Hopetown gestig, waar Du Toit in 1879 besoek afgelê en hy geesgenote gehad het. Die volgende takke was by Petrusville en Calvinia. Van 1881 af het die Afrikanerbond vinnig uitgebrei; “op Amajuba het die Afrikanerbond wortel geskiet”, het Du Toit verklaar. In 1881 is 31 takke gestig, en in 1882 52. In 1883 was daar 116 takke met 5800 lede in die Kolonie, 23 takke met 1273 lede in die Vrystaat en 13 met 923 lede in Transvaal. ’n Bloemfonteinse tak is op 11 Mei 1881 gestig met as voorsitter hoofregter FW Reitz, en in die bestuur dr. Johannes Brill, hoof van Grey-kollege, en Carl Borckenhagen, redakteur van De Express. Dis dr. Brill, Nederlander van geboorte, wat in Mei 1875 in ’n lesing oor “De landstaal” betoog het dat Afrikaans, nie Nederlands nie, die landstaal is.

Een van die Patriot-projekte was die Hugenote-Gedenkskool op die plaas Kleinbosch in Daljosafat. SJ du Toit het die skool in ’n reeks artikels in die Patriot bepleit en grond sy betoog op moderne argumente vir noedertaalonderwys wat meer ’n eeu daarna nog deur opvoedkundiges en sosiolinguiste gebruik word. Die skool het op 1 Februarie 1882 begin. Beroemde oudleerlinge was die skrywers DF Malherbe, Totius en AG Visser. Twee van die drukker DF du Toit se seuns het wetenskaplikes geword: DF du Toit, ’n chemikus, en PJ du Toit, ’n veeartsenykundige. DF du Toit Malherbe was een van die grondleggers van ’n Afrikaanse chemie-woordeskat. Nog ’n PJ dié u Toit was hoogleraar in Nederlands en Afrikaans.