Die vestiging van blankes langs die Magaliesberg (1840-1850) – Deel 1
April 10, 2017
Marthinus Theunis Steyn
April 10, 2017

(Geskryf deur mnr. JCO van Graan, hoof van die Magrietha Prinslooskool op Evaton, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1960)

In die skaduwee van die galg van Slagtersnek het die groot familiekring, Prinsloo, besluit om die Kaapkolonie vaarwel toe te roep en om die hinterland binne te trek. Hulle wou wegkom van die gesag van die Engelse. Van hulle planne het daar egter nie te veel tereggekom nie, totdat Piet Retief in 1837 besluit het om te trek.

As elfjarige dogtertjie het Magrietha Prinsloo (wat in die geskiedenis van die Trekkers bekend staan as Catharina) saam met haar ouers by die trekgeselskap van Piet Retief aangesluit om ’n nuwe toekoms te gaan soek in die wonderskone, ongetemde Natalia.

Dit was seker die grootste gebeurtenis in klein Magrietha se kortstondige lewe om die trek mee te maak en om die onbekende land in te gaan met die baie gevare wat dit inhou. Op ongebaande weë het die Trekkerwaens, twee tot drie langs mekaar, ’n weg gebaan tot by die Grootrivier, waar die waens deur middel van vlotte ’n veilige oortog gevind het.

Die vaal-eentonigheid van die Vrystaatse vlaktes was gou vergete toe die Trekkerwaens die oortog oor die Drakensberge begin het. Daar was net soveel afwisseling in probleme en gevare as wat daar was in die natuurtaferele. Sonder om ag te slaan op die kindergemoed van Magrietha of enigiemand anders, het die kakebeenwaens stadig die berghange afgesak na die veelbesproke toekomstuiste, die wonderland, Natalia. Wild en woes het hulle toekomsland daar aan hulle voete gelê.

Arme Magrietha – kon sy ooit in haar wildste drome droom wat daardie veelbelowende land vir haar, haar maats, haar familie en haar mede-Trekkers inhou? Sy het geen seggenskap gehad nie, maar moes soos elke Trekkerdogter die daelikse pligte nakom, sonder dat daar juis tyd was om drome te droom.

Terwyl Piet Retief met sy sewentig manskappe met Dingaan gaan onderhandel het om ’n gedeelte van die onbewoonde Natalia aan die Trekkers oor te dra, het Magrietha saam met haar ouers en etlike ander geselskappe in ’n klein laer langs die Blaauwkransrivier gestaan. Hoër en laer langs die rivier was daar ook ander klein laers, want die Trekgeselskap het opgebreek in kleiner geselskappe ten einde weiveld vir almal se vee te vind.

Hierdie tydelike stilstand het geen rustige niksdoen vir Magrietha, haar moeder en alle vroumense ingehou soos vir die mans nie. Hulle moes brood en beskuit bak, biltong maak, klere maak, lap en was, en natuurlik moes Vader en Boet en al die Ooms gereeld hulle koppie koffie kry, en wie kon ’n lekkerder koppie koffie inskink dan Magrietha.

Sonder dat sy dit gesê het, het die vroulike intuïsie Magrietha en andere gewaarsku dat ’n naderende onheil aan die broei was, want waarom bly hulle leier, Piet Retief, en sy geselskap dan so lank weg? Almal is dan tog so haastig om op sy eie plekkie ’n nuwe toekoms te begin in hierdie wonderland met sy talryke riviere en vrugbare aarde.

Op Saterdagaand, 17 Februarie 1838, het die donkerste nag wat die Trekkers nog ooit beleef het, aangebreek. Soos gewoonlik het Magrietha en haar mense maar vroeg gaan inkruip, want almal was moeg na die vermoeiende dagtaak. In die verte, by die ander laers, kon Magrietha nog die onheilspellende geblaf van die honde hoor, toe sy uiteindelik laat daardie nag aan die slaap raak. Onrustig het sy in haar slaap rondgerol, met ’n intuïtiewe voorgevoel van ’n dreigende onheil. Haar drome was verward – dis spoke en duiwels, dis vuur en bloed, dis ’n gemartelde gekerm en ’n donderende gedreun, dis ’n snikkende moeder en ’n bloedstollende geraas – en toe Magrietha wakker skrik, was die hele laer in vuur en chaos gedompel. Aanstormende Zoeloes, met assegaaie en skildvelle hoog in die lug gehou, staan afgeteken in die lig van brandende waens teen die swart agtergrond van die donker nag. Geweerskote knal, die honde blaf en baklei, mense gil en kerm, gebede word Omhoog gestuur, die swart duiwels storm met ’n helse lawaai op die niksvermoedende en slapende laer af. Menige man, vrou en kind het in hulle slaap die ewigheid ingegaan sonder dat hulle wis wat gebeur het. Toe Magrietha bemerk dat sy alleen was, het sy uitgevlug na ’n brandende Trekkerswa, waar sy ’n warrellende menigte gesien het. Sy het gedink dat dit haar mense was. Wat sy daar aanskou het, was so oorstelpend dat alle vrees en angs verdwyn het – selfs die koue staal van bloedbevlekte assegaaie wat haar telkens getref het, het geen vrees, angs of pyn by haar gewek nie, want sy moes haar ouers, haa4 familie en vriende vind om hulle by te staan. Saam met hulle wou sy nog probeer om die gevaar te trotseer. O, alles was so in ’n harwar, want waar sy haar ook wend, daar storm moordlustige Zoeloe-massas op haar af.

Uit die lig van die brandende Trekkerwaens spartel sy die donkerte van die nag binne. Toe die duisternis van uitputting en bewusteloosheid op haar toesak, was sy nog sonder die besef dat sy talle assegaaisteke opgedoen het.

Bang om haar oë oop te maak toe sy weer haar bewussyn die volgende dag herwin, het sy stil gelê tot sy mense-stemme hoor, wat skynbaar met haar praat. Stadig en vreesbevange het sy haar oë oopgemaak – bang vir wat haar oë alles sal moer aanskou. Die aakligste moordtoneel het voor haar ontplooi. Langs haar, teen haar en om haar het daar talle erg-verminkte lyke van haar eie familielede gelê. Tientalle kinderlykies, met gapende wonde, soos hulle teen die wawiele verbrysel is, en wenende familielede was die eerste blik wat sy gekry het toe sy in die helder daglig haar oë oopmaak. Die afgryslikhede van die moordtoneel was onbeskryflik, maar met bomenslike krag en uithoudingsvermoë het sy probeer orent kom, nieteenstaande die feit dat die sewentien assegaaiwonde haar bebloede liggaampie maar steeds grond toe gedwing het.

Spoedig het daar soos ’n engel van Bo, ’n vrou, Thérése Viglione, die eggenote van ’n Italiaanse handelaar, wat nie ver van Moordspruit gekampeer het nie, opgedaag. Sy het medisyne by haar gehad om vir Magrietha en die ander gewondes te verbind en verpleeg, sodat hulle spoedig, met ’n vasberade wil om te leef, weer herstel het.

So fyn en broos en onskuldig soos wat sy was, het Magrietha nie net ’n martelaar nie, maar ook ’n heldin in ons volksgeskiedenis vir die nageslag geword wat nou in ’n eie, vrye vaderland, sonder kommer of sorg die bodem kan bewoon wat met haar bloed deurdrenk is.

Daardie rein en edel offerbloed van Magrietha Prinsloo roep ons om hulde en eer te betuig aan hulle wat so ’n kosbare prys moes betaal op die pad van Suid-Afrika. Tydens die Voortrekker-eeufees in 1938 het een van die ossewaens van die Simboliese Ossewatrek die naam van Magrietha Prinsloo ontvang, om háár gedagtenis uit te dra oor die hele Suid-Afrika. Hier op Evaton, waar die Magrietha Prinsloo-voortrekkerwa sy spore onuitwisbaar gelaat het, het ons haar naam in ontvangs geneem as die naam vir ons skool. Haar denkbeeldige afbeelding is op ons skoolwapen en haar ideaal: “Die Beste vir die Hoogste” is ons skoolleuse. Ons bring hulde aan Magrietha Prinsloo, die liefling-Voortrekkernooientjie.