Magersfontein

Oorwinning verander in neerlaag
January 22, 2015
Britse reaksie op “Black week”
January 22, 2015

Omdat generaal De la Rey sy seun moes begrawe, was hy nie op die krygsraadsvergadering waarop generaal Cronjé en kommandant J Prinsloo besluit het om die burgers 16 km te laat terugval tot by Spytfontein, en hulle nie 7,5 km agtertoe, by Magersfontein, in te grawe nie. Oor Cronjé se kop telegrafeer hy na president Steyn, wat met president Kruger in verbinding tree. Dié vra Steyn om self na die front te gaan. Hy het die burgers moed gaan inpraat en ’n tweede krygsraadvergadering belê. Dáár het De la Rey daarin geslaag om die ander generaals te oortuig om hulle by Magersfontein in te grawe. Terwyl Methuen op versterkings wag, het die Boere ’n reeks loopgrawe onder die rante van Magersfontein gegrawe.

Nadat Methuen se versterkings opgedaag het, het hy die rante by Magersfontein ongenadig bestook. Hiervan het die Boere min las gehad, want in die loopgrawe was hulle beskut teen die ontploffende bomme. Na die bom-bardement het Methuen die tyd geleë geag om die Boeremagte aan te val. Teen middernag 10 op 11 Desember het ’n aantal regimente, veral Skotte, onder bevel van generaal-majoor AJ Wauchope uitgetrek om die stellings van die Boere aan te val sodra dit lig word. Dit het gereën, en vanweë die donker nag het die soldate dit moeilik gevind om hul formasies te behou. Vroeg die oggend van 11 Desember 1899 was daar dus al heelwat verwarring in Britse geledere.

Die geluid van duisende naderende voete op die grond het die burgers op hul hoede gestel. Stil en bedaard het hulle die oomblik afgewag waarop dit so lig sou word dat hulle die vyand kon sien. Kort nadat dit begin lig word het, het mense met skerp oë die Britte op ’n paar honderd tree gewaar. Dadelik het hulle begin skiet.

Een van die eerste wat gesneuwel het, was Wauchope. Sy dood het verdere wanorde geskep. Kort nadat die geveg begin het, het die son opgekom, en in die helder lig was die Skotte met hul skilderagtige uniforms maklike skywe vir die skerpskutters. Die veld het min dekking gebied en die aantal dooies en gewondes het kwaai gestyg. Die dag was baie warm, en dit was veral vir die gewondes ’n marteling om so stil in die hitte te bly lê. Cronjé was oral by en het bevele gegee en gesorg dat daar vir die Britte geen deurkomkans was nie. Methuen het die geveg van ’n koppie af gevolg en moes teen vieruur erken dat hy ’n groot neerlaag gely het. Hy het sowat duisend man aan dooies en gewondes verloor. Ná die slag was dit aan die westelike front stil tot Februarie 1900.

Die Slag van Magersfontein was die tweede Britse ramp in die “Black Week”. Op 10 Desember het generaal sir William Gatacre met ’n mag van 2600 by Stormberg ’n neerlaag gely teen net 800 Boere onder kommandant JH Olivier. Die Britte het in die nag verdwaal en toe dit lig word het hulle nie besef hulle is naby burgers wat op die Stormberg posisie ingeneem het nie. Meer as 600 Britte is gedood, gewond of gevang. Op 15 Desember het generaal Louis Botha en sy manne die Britse mag onder Buller by Colenso verslaan. Die Britte het meer as duisend gesneuweldes en gewondes gehad en moes tien van hul kanonne prysgee. Aan republikeinse kant het ses gesneuwel en is 22 gewond.