Lydenburg se Voortrekkerskooltjie in brand beskadig

Die lief en leed van oom Paul se kleindogters
Julie 21, 2017
Rolprent belaster Jan van Riebeeck én Afrikaners
September 12, 2017

Die Voortrekkerskooltjie nadat dit in 1973 gerestoureer is. Foto: Afrikanerbakens, FAK, 1989.

Word binnekort gerestoureer

Marthinus van Bart

Die oudste bestaande Voortrekkerskool wat in 1851 in Lydenburg, Noord-Oos-Transvaal, deur die Andries Potgieter-trekkergeselskap opgerig is en drie jaar lank ook as hul eerste kerk benut is, is op Vrydag 14 Julie erg beskadig nadat die dak van dekgras in die nag afgebrand het.

Die Voortrekkerskooltjie in ligte laaie in die nag van 14 Julie. Brandstigting word vermoed. Foto: Die Laevelder.

Die geboutjie, ’n getroue voorbeeld van die Voortrekkers se volksboukuns, is al in 1973 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit is die vorige jaar deur die Pretoriase argitek Albrech Holm in opdrag van die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede gerestoureer. Die skool en erf is die eiendom van die NG Moedergemeente Lydenburg.  

Danksy die waaksaamheid en teenwoordigheid van gees van pompjoggies by ’n nabygeleë motorhawe wat gewaar het dat die dak brand en toe alarm gemaak het, asook die flinke optrede van lede van die plaaslike gemeenskap om die brand te bestry, is die inhoud ongeskonde gered.

Die skoolgebou was van ’n tradisionele brandsolder van klei en kalk voorsien, en dit het gekeer dat die brandende dak en balke op die meubels en ander kosbaarhede in die gebou val.

Die Voortrekkerskooltjie nadat dit in 1973 gerestoureer is. Foto: Afrikanerbakens, FAK, 1989.

Die muurstruktuur van die gebou het die hitte van die brand taamlik goed deurstaan en sal waarskynlik sonder veel nuwe bouwerk gerestoureer kan word. Die dakbalke en rietdak sal egter geheel en al vervang moet word. Dít is ’n groot volksboukundige erfenis-verlies, want die balke was met penne en rieme aan mekaar gelas, volgens die volksboukundige tegnologie van die pioniers van die 1800’s. 

Onder die kosbaarhede in die gebou wat ongeskonde gered is, is ’n Statebybel van die Voortrekkers wat die Groot Trek meegemaak het, en skoolbanke en ’n skryfbord wat die trekkers op Lydenburg gemaak het.

 

Die eerste onderwyser van Lydenburg was die Hollander Willem Poen, wat sy salaris van die kerkraad ontvang het. Naas skoolwerk het hy ook godsdiensonderrig en katkisasie verskaf. Hy was ’n opgeleide leerkrag wat in 1851 van Nederland na Suid-Afrika gekom het. Die skool was heeltyds in gebruik tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899.

Die Voortrekkerkerk van die NG gemeente Lydenburg nadat dit in 1973 gerestoureer is. Foto: Afrikanerbakens, FAK, 1989.

Bouwerk aan die eerste volwaardige kerk, met indrukwekkende neoklassieke gewels, is in 1852 op die perseel langsaan begin nadat die skooltjie voltooi is. Die kerk, in 1854 ingewy, staan ’n paar tree van die skoolgeboutjie. Dit is nie deur die brand beskadig nie. Die kerk is, soos die skool, ook in 1973 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar nadat die argitek J. de Ridder die kerk gerestoureer het. Die kerk en sy perseel is ook die eiendom van die NG Moederkerk Lydenburg.

Bewaringslui van Lydenburg en omliggende dorpe oorweeg dit tans om ’n geldinsamelingsprojek van stapel te stuur vir die restourasie van die beskadigde skooltjie indien die versekeraar nie voldoende versekeringsvergoeding uitbetaal nie. Die geboutjie was teen brand verseker.

Volgens die Mpumalanga Historiese Belangegroep is ’n argitek, Joe de Villiers, aangestel om die restourasiespan te lei. Hy het die terrein reeds besoek om die skade vas te stel. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar brandstigting word vermoed.

In die FAK se spogboek oor nasionale gedenkwaardighede wat met die geskiedenis van die Afrikaner verband hou, Afrikanerbakens, 1989, kan die volledige geskiedenis van die Voortrekkers se skool en kerk op Lydenburg gelees word.

So lyk die Voortrekkerskooltjie tans na die brand. Dit gaan binnekort van ’n nuwe dak voorsien word. Foto: Mpumalanga Historiese Belangegroep.

Die brons embleem van die Raad van Nasionale Gedenkwaardighede (RNG) wat in 1973 teen die muur van die skooltjie aangebring is, het ongeskonde gebly. So ook die brons plakket met ’n sinopsis van die skooltjie se geskiedenis. Die historiese kerk se embleem en plaket het insgelyks behoue gebly. Honderde gedenkwaardighede oor die hele Suid-Afrika het gedenkwaardigheidstatus van die RNG verkry en is van RNG-embleme en plakkette voorsien. Die RNG is in 2000 deur die ANC-regering ontbind en vervang deur die SA Heritage Resources Agency, wat nie meer huise, geboue of monumente as gedenkwaardighede verklaar nie. Net erfenisterreine word verklaar. Hierdie organisasie wat deur kapitaalkragtige ontwikkelaars gemanipuleer word, is geruime tyd reeds bankrot en sy korrupte dienslewering strek tot nadeel van bewaring.