Lutherse Kerk, Martin Melck-huis en Kostershuis

1806-Verdragsterrein, Woodstock
December 12, 2017
Groentemarkplein
December 12, 2017

In Strandstraat, aan die teenoorgestelde kant en iets hoër op as die Koopmans-de Wet-huis, is in die 18de eeu hierdie unieke groep geboue opgerig. Gebou met die doel om in die behoeftes van die Lutherse Kerk te voorsien, is hulle as ’n argitektoniese eenheid ontwerp en vandaar hulle besondere bekoring as groep. Daarbenewens is hulle van buitengewoon historiese betekenis omdat hulle die langdurige stryd van die Lutherane om die verkryging van hul godsdiensvryheid versinnebeeld.

 

Die Lutherse Kerk (Geproklameer 1949)

Die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie het aanvanklik net aan die Gereformeerde Kerk vrye godsdiensoefening toegelaat. Die aantal Duitse, Deense en Skandinawiese amptenare en vryburgers, wat tot die Lutherse Kerk behoort het, het egter snel toegeneem sodat hulle reeds baie vroeg aangedring het op die erkenning van hulle geloof en die voorsiening in hulle kerklike behoeftes. Al hulle versoekskrifte aan die Here Sewentien om toestemming tot die oprigting van ’n eie kerk en die bediening deur ’n eie predikant was egter tevergeefs. Een van die bitterste teenstanders van die Lutherse Kerk in die middel van die 18de eeu was die andersins so geliefde en welwillende goewerneur Ryk Tulbagh. Tog was dit juis tydens sy bewind dat een van sy grootste vriende, Martin Melck, ’n lid van die Lutherse Kerk en een van sy sterkste ondersteuners op bedekte wyse met die bou van hierdie kerk ’n aanvang gemaak het.

Hierdie Martin Melck het in 1746 as soldaat in diens van die Kompanjie na die Kaap gekom. Vier jaar later het hy sy vryburgerskap verkry en is getroud met Margaretha Hop. Deur hierdie huwelik het hy die eienaar van die pragplaas Elsenburg geword en weldra was hy nie alleen een van die rykste wyn- en veeboere in die kolonie nie, maar ook een van die invloedrykste. As sodanig was dit eintlik vanselfsprekend dat hy ook erwe in die deftige Seestraat (Strandstraat) sou besit. Op hierdie grond aan die bo-end van die straat het hy op 6 April 1774 begin met die oprigting van ’n gebou wat hy by die regering as ’n pakhuis aangemeld het. Dit was 28,6 m lank en 19,5 m breed en was soos ’n kerk met gewelfde plafon, twee rye dik vierkantige pilare en groot vensters met “Engelse” skuiframe gebou.

In 1776 is die saal deur Martin Melck aan die gemeente oorgedra en is dienste daarin gehou. Daar was nou ook al ’n orrel, nagmaalsbekers en ’n voorleserskateder in die vorm van ’n swaan met uitgestrekte vlerke, die simbool van die Lutheranisme. Bokant die ingang het ook ’n swaan gepryk. Ryk Tulbagh was nie onbewus van hierdie bedrywighede nie, maar sou volgens oorlewering aan Melck gesê het dat hy die oog wat die naaste daaraan was, toemaak as hy daar verby ry.

Uiteindelik in 1779 het die Here XVII besluit om aan die Kaapse Lutherane hulle eie kerk te gee en die jaar daarop het Andreas Kolver van Rotterdam as die eerste predikant met sy bediening aan die Kaap begin. In die daaropvolgende vier jaar is groot verbeterings aan die saal gemaak, maar dit was veral gedurende die jare 1787 tot 1792 dat die gebou, wat oorspronklik “in de smaak van eenen pakhuis opgetimmerd” was, vervorm en verfraai is. Dit is deur die destydse bekende Kaapse beeldhouer Anton Anreith gedoen. Hy het die voorgewel ontwerp, maar was veral verantwoordelik vir die verfraaiing van die binnekant van die kerk deur sy voortreflike houtsneewerk, waarvan die manjifieke preekstoel, geskraag deur twee groot mansfigure, en die koorgalery met die reliëfbeeld van koning Dawid die belangrikste is.

Dit was in hierdie jare dat ook die konsistorie aangebou is.

In 1818 moes die kerkgebou weens die swak toestand van die mure en die dak grotendeels herbou word. Toe is die kerk ook van ‘n toring voorsien, maar ongelukkig is afgewyk van Anreith se ontwerp waardeur veel van die voormalige skoonheid van die voorgewel en die ingang verlore gegaan het. Die nuwe gebou is op 20 Desember 1820 ingewy. Sedert hierdie datum is daar aan die kerk, buite sowel as binne, weinig veranderings aangebring. Dit bly ’n fraaie tempel van stilte in die omringende stadsgewoel. Dieselfde leiklippaadjie waarop soveel kerkgangers deur die jare geloop het, lei nog steeds van die hek na die geplaveide voorportaal. Daar binne word die gewydheid verhoog deur die onvergelyklike Anreith-preekstoel, die ou historiese kerkbanke, koperbakke en doopbak. Hier word ook die kerk se argief en die waardevolle nagmaalservies bewaar. ’n Waardige monument met ’n waardevolle inhoud.

 

Martin Melck-huis (Geproklameer 1936)

Met die bou van sy “pakhuis” het Martin Melck ook rekening gehou met die uiteindelike behoefte aan ’n pastorie en daarom het hy gesorg dat die grond grensende aan die oostekant van die kerkgebou in sy besit is. Later het hy dit aan die Kerk oorgemaak en na sy dood is daarop in 1781 met die bou van ’n pastorie begin. Dit word algemeen aanvaar dat die bekende Thibault die bouer was en dat die beeldhouer Anton Anreith vir die argitraaflys van die middelvensters, die swaan in die geweI en die houtsneewerk in die voordeur verantwoordelik was.

Hierdie pragtige gebou, ’n verdere produk van die vrugbare samewerking tussen Thibault en Anreith, is nie so streng klassiek van styl soos die Koopmans-De Wet-huis nie, maar toon nietemin die invloed van die Franse Renaissance. Dit is een van die mooiste voorbeelde van die 18de-eeuse boustyl en sover bekend die enigste oorblywende voorbeeld van ’n tipiese Kaapstadse dorpshuis met ’n dakkamer of “belvedere” met vier vensters wat vroeër op die hele Kaapstad en Tafelbaai uitgekyk het.

Die eerste inwoners van hierdie groot huis was ds. Andreas Kolver, sy vrou Anthonia en hul elfjarige seuntjie. Afgesien van kleiner herstelwerk staan die huis vandag nog net soos in Kolver se tyd. Kenmerkend is die groot ruim vertrekke, die klein vierkantige Bataafse steentjies in die ingangsportaal en binneportale, die breë kiaathoutplanke op die onderste vloere en geelhoutplanke op die boonste vloere, die groot kiaatbalk oor die vuurerd en die rustige, koel binneplasie agter die huis.

Tot 1891 het die gebou as ’n pastorie diens gedoen. Dit is toe as ’n woonhuis deur die Kerk verhuur en het 1894 ’n losieshuis geword. Die huis was voortaan bekend as “Bloemfonteinhuis” en in 1929 het sekere klubs en verenigings in Kaapstad wat besorgd was oor die moontlikheid dat die gebou vernietig kon word, ’n maatskappy gevorm om die huurkontrak oor te neem.

Die kerklike owerheid het herstelwerk daaraan onderneem en dit is in 1932 met die naam “Martin Melck-huis” vir die gebruik van verskillende kulturele liggame geopen. Dit word tans gebruik vir die verkoop van antieke voorwerpe.

 

Die Kostershuis (Geproklameer 1949)

Hierdie gebou op die hoek van Strand- en Buitengrachtstraat is waarskynlik dieselfde tyd as die pastorie gebou, d.w.s. tussen die jare 1779 en 1783. Tussen die kerk en die kosterswoning was eers ’n huurhuis van die kerkraad. Later egter is die kosterswoning en die huurhuis aaneengebou en die gewel van die huurhuis is behou. In 1791 het die eerste Lutherse skoolmeester, Lourens Ersey, na die Kaap gekom. Hy het in hierdie kostershuis gaan woon omdat hy koster en voorsinger was.

TW Bouler • Die Lutherse Kerk, Martin Melck-huis en Kostershuis, Strandstraat, Kaapstad

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 28-29.